Sunday 14 July 2024

Madiba-dag: Allan se pad met Bophelo-kinderhuis

Allan het 'n omgeehart groter as 'n rugbybus vol Griekwa-ondersteuners. Hy is die afgelope jaar baie nou betrokke by Bophelo Kinderhuis in Herlear. Sy hande en sy voete is Rina Groenewald wat hom ondersteun in wat hy ookal vir hierdie babas en kinders beplan en doen.

Hulle het besluit om Madiba-dag met amper twee weke te vervroeg sodat hulle die gebreide warm truitjies, slaapsokkies en ander warm babagoedjies voor die koue by die ontvangertjies kon uitkry. Hierdie is nie 'n eenmansprojek nie en skenkers het na vore gekom om vlerke aan Allan se droom te gee. 'n Tannie van 96 jaar het kliphard aan hierdie truitjies gebrei. Saam met die warm klere en warm harte het hulle die kinders op warm brakke en 'n pakkie lekkergoed getrakteer. Niks is mos vir 'n kind lekkerder as daardie soetigheid wat hulle energie 'n goeie hupstoot gee nie.

Allan kon tot sy groot teleurstelling nie die uitstappie meemaak nie, omdat griep hom platgetrek het. Hy is nietemin goed verteenwoordig deur Rina Groenewald, Natalie Willemse en Daphné de Beer wat ook gereelde besoekers by Sally Aucamp is. Wian Willemse leer sommer van kleins af wat dit beteken om uit te reik as hy die plekke saam met sy ma besoek.

Allan se droom is dat elkeen 'n hand sal uitsteek om die een langs hom of haar in nood se dag op 'n manier ligter te maak. Dit is tog mos hoekom ons op aarde geplaas is.

67 minute is 'n baie klein deeltjie van jou tyd wat jy kan gebruik om uit te reik, om te doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is. 

Lees die oorspronklike berig met foto's van 5 Julie HIER!