Saturday 27 July 2024

Jagter se gebooie

Dit het toe sò gebeur dat die jagter se tien gebooie op ‘n gelooide leervel geëts is:

Een: Daar is net een reël in die veld: een patroon, een dier. Jagters mors nie patrone nie, speel nie rond nie en besef dat die beste manier om in jou biltongbehoeftes te voorsien, is om self die skoot te trek. Geen droëwors is lekkerder as die waarvoor jy self gesorg het nie.

Twee: Jy mag voor geen afgod buig nie. Drank en gewere meng nie. As die karkas hang en die gewere is in die kluis, dàn mag verversings geniet word.

Drie: Jy mag nie die naam van jag ydellik gebruik nie. As jy niks weet van jag nie, as jy nog nooit self ‘n skoot afgetrek het nie, as jy nog nooit deel was van die wonderwêreld nie ... moenie kritiseer nie. Jag is nie net ‘n sport nie. Dit is nie net vir plesier en die trofeë nie. Jag is vir bewaring, syferbeheer, respek en voedsel.

Vier: Rus op die sewende dag. Jagters is nie skietmal Rambo’s wat alles dood wat beweeg nie. Daar is ‘n seisoen vir jag en ‘n seisoen van versamel. Jagters waardeer ook die rustigheid van die bosveld, kan vir ure sit ek kyk hoe koedoes sout lek en varke in die modder rol. Dit gaan oor soveel meer as net die skoot.

Vyf: Eer die Vader en die Moeder. ‘n Ou bul word verlos uit eensaamheid omdat hy uit die trop geskop is, terwyl die jong koei met haar kalf oorgesien word. Geen dier word “sommer net” platgetrek nie. Oordeel en keuse en logika word voor elke teiken ingespan.

Ses: Moenie moor nie. Stropers is nie jagters nie. Stropers moor vir ‘n sinnelose bestaan en om in Chinese se impotente leuens te voorsien. Jagters benut die natuur om kos te voorsien, te spog met die majestieuse diereryk en ook te help met die bewaring van sekere spesies.

Sewe: Moenie egbreek pleeg nie. Moenie ‘n leeu met ‘n knipmes probeer jag nie. Ook nie ‘n olifant met ‘n .22 nie. Laat jou wapenkeuse geskik wees vir jou doelwit, sodat die troue sonder enige egskeiding of struweling sal kan geskied.

Agt: Moenie steel nie. Nie by die buurplaas nie. Nie by jou mede-jagter nie. Jagters steel nie diere, gewere, patrone of selfs ‘n bier nie. Jagters vra. Jagters deel. Want jagters respekteer die grense.

Nege: Moenie vals getuienis lewer nie. Anders as sommige hengelaars, bly die bok se horings gewoonlik dieselfde grootte. Die afstand mag dalk met ‘n persepsiële meter of twee verander, maar jagters vertel met trane in hul oë hoe hulle een keer ‘n koedoebul gekwes het. Waarheid is waardevol. Die draai van elke horing word ‘n wetenskap, dikwels ‘n weddenskap, maar altyd ‘n kwessie van kameraderie.

Tien: Moenie begeer nie. Nie jou mede-jagter se vrou, geweer of perfekte skoot nie. Jy jag vir jouself. Jou eie vlekkelose rekord. Nie vir die ander se bewondering nie. Al wat bly is die deurlopende waardering vir die kuns van die knal.

[Met apologie geleen van HIERDIE interessante blog - besoek gerus die blog en verkneukel jou aan al die skryfsels.]

The 10 commandments for hunters - click HERE!

Lees sommer ook Cassie Nienaber se herlaaier se tien gebooie HIER wat eksklusief vir dié web geskryf is.