Showing posts with label Maretha Maartens. Show all posts
Showing posts with label Maretha Maartens. Show all posts

Sunday, 10 May 2026

Moedersdag: Gedig

Ma, toe ons klein was,
wou jy ons vashou op jou skoot
en jou liefde in ons oortjies fluister.
Maar ons het honde en maats
en sonlig buite gesien
en ons uit jou arms losgewikkel.

Nou kom ek terug soos die één melaatse
wat darem onthou het
voordat dit te laat was.
Ek het Ma lief, 
want ek wéét nou
die sonlig was nooit buite nie:
die sonlig was Ma. 

[Dankie, vir die deel, Ann]

Thursday, 3 April 2025

Dink hieroor: Kinders is musiek in jou siel se kamers

Ek het jou lief, my kind -
nie net omdat ons die paar vertrekke onder hierdie dak moet deel nie. 

Ek het jou lief omdat jy altyd musiek maak in die kamers van my siel.
O, ek weet ek druk my ore laggend toe vir die hop-skop-popmusiek van jonkwees,
vir die heavy metal en die sogenaamde gospel wat vir my nog wilder as al die ander klink.

Jy maak lag-musiek en elektroniese musiek,
walsmusiek en moedhoumusiek,
omgeemusiek en treurmusiek,
jong musiek en jolige musiek ...

Jy is die lewerik in my lewensboom, my kind.
Ek wil hê jy moet weet:
ek luister so gráág na jou.

Thursday, 20 March 2025

Dink hieroor: 1 Korinthiërs 13 se liefde

Daar is 'n soort gom
wat alles kan heg en heelmaak -
gesinne, verhoudings, harte,
minderwaardigheidskomplekse,
skandale ... enigiets.

Die liefde ...
"bedek alles,
glo alles
hoop alles
verdra alles."

1 Korintiërs 13:7