Showing posts with label Donkie. Show all posts
Showing posts with label Donkie. Show all posts

Saturday, 23 August 2025

Kerkgenotjies: Allerlei

* 'n Ou het 'n bietjie te diep in die bottel gekyk voordat hy op sy donkie huis toe gery het. Dit was nogal 'n gebeurlike rit want die twee het mekaar in die omstandighede nie goed verstaan nie.

Die donkie het in 'n stadium vir iets geskrik en wild aan die spring gegaan. Só erg het hy geskop en gespring dat een van sy agterpote in 'n stiebeuel vasgevang is.

Toe die hoenderkopruiter sien wat aangaan, sê hy: "Wag 'n bietjie ... as jy opklim, gaan ek nou dadelik afklim."  

* Koos en Charlie was saam in die Tweede Wêreldoorlog. Ná die oorlog het Charlie Australië toe getrek en Koos is terug Suid-Afrika toe. Maar Koos het Charlie gemis en mettertyd in die gewoonte gekom om elke middag ná werk twee drankies in die kroeg te bestel: een vir hom en een vir Charlie, waarop hy dan al twee gedrink het.

Eendag stap hy weer in. Hy lyk bietjie vaal. 'n Stilte daal oor die aanwesiges toe hy net een drankie bestel. Almal wil dadelik weet of Charlie dan nie meer daar is nie.

"So erg is dit darem nie," sê hy. "Ek het besluit om op te hou drink."

* 'n Suid-Afrikaner gaan besoek 'n fortuinverteller in Parys, nie Frankryk nie.
"Jy sal arm en ongelukkig wees tot jy veertig is," sê die fortuinverteller.
"Ja en dan?" vra Koos gretig.
"Daarna sal jy gewoond wees daaraan," kom die antwoord.

Thursday, 5 June 2025

Hoeveel van ons het al geleer hoe om ons bagasie neer te sit?

Daar word vertel van die ou tannie wat langs die pad deur ’n donkiekar opgelaai word. Die drywer sit haar tas voor by haar voete neer. Toe hy weer kyk, sien hy sy het dit op haar skoot getel.

“Hoekom, Tannie?” vra hy verbaas.

Haar antwoord?

“Die arme donkies trek reeds so swaar; ek wil dit nie vir hulle nóg swaarder maak nie.”

Dalk was sy regtig oor die donkies bekommerd. Waarskynlik wou sy bloot die tas so naby moontlik aan haar hou. Sy kies die swaar dra, sy het daaraan gewoond geraak. Sy ken nie die rykdom van ’n ligter lewe nie.

Hoeveel van ons het al geleer hoe om ons bagasie neer te sit?

Dit is ook só dat juis wanneer ons dink ons dra swaar, daar wonderlike groei uit daardie swaarkry kan spruit.

Dit is dus die wysheid om te weet: Wat ek moet neersit omdat dit my terug hou, en watter dinge kan ek in dankbaarheid saamneem omdat dit my geestelike groei bewerkstellig.

Mag jy daardie wysheid vind in die teenwoordigheid van God wat al die dae van jou lewe ken, wat jou naam in sy handpalm gegraveer het, wat vir jou alles gee wat nodig is om 'n vol lewe te lei.

[Francine Prins - redakteur van Lig 19 Junie 2024] 

Klik HIER vir nog 'n donkieperspektief.