* 'n Ou het 'n bietjie te diep in die bottel gekyk voordat hy op sy donkie huis toe gery het. Dit was nogal 'n gebeurlike rit want die twee het mekaar in die omstandighede nie goed verstaan nie.
Die donkie het in 'n stadium vir iets geskrik en wild aan die spring gegaan. Só erg het hy geskop en gespring dat een van sy agterpote in 'n stiebeuel vasgevang is.
Toe die hoenderkopruiter sien wat aangaan, sê hy: "Wag 'n bietjie ... as jy opklim, gaan ek nou dadelik afklim."
* Koos en Charlie was saam in die Tweede Wêreldoorlog. Ná die oorlog het Charlie Australië toe getrek en Koos is terug Suid-Afrika toe. Maar Koos het Charlie gemis en mettertyd in die gewoonte gekom om elke middag ná werk twee drankies in die kroeg te bestel: een vir hom en een vir Charlie, waarop hy dan al twee gedrink het.
Eendag stap hy weer in. Hy lyk bietjie vaal. 'n Stilte daal oor die aanwesiges toe hy net een drankie bestel. Almal wil dadelik weet of Charlie dan nie meer daar is nie.
"So erg is dit darem nie," sê hy. "Ek het besluit om op te hou drink."
* 'n Suid-Afrikaner gaan besoek 'n fortuinverteller in Parys, nie Frankryk nie.
"Jy sal arm en ongelukkig wees tot jy veertig is," sê die fortuinverteller.
"Ja en dan?" vra Koos gretig.
"Daarna sal jy gewoond wees daaraan," kom die antwoord.