Wednesday, 20 August 2025

'n Moderne weergawe van Psalm 23 vir elkeen in die werkplek

PSALM 23 (AANGEPAS)

Die Here is my eintlike baas ek kom niks kort nie.
Hy maak my rustig, al is daar chaos rondom my.
Hy bring my by waters waar daar vrede is,
al woed die kantoorpolitiek rondom my.
Hy gee my telkens nuwe krag
wanneer die werklas en die verantwoordelikhede my wil oorweldig.

Wanneer die gevaarlike weë van korrupsie vir my wink,
lei Hy my tot sy eer op die regte pad.
Selfs al gaan ek deur die donker dieptes van

ontelbare e-posse, rekenaars en netwerke wat "oppak,"
die rugstekery van kollegas, bestuurders, begrotings en
'n moeë liggaam wat ek soggens uit die bed moet sleep,
sal ek nie bang wees nie, want U is met my.

In u hande is ek veilig.
U laat my by die feesmaal van u liefde aansit,
selfs al dreig die regering met verdere "regstellende aksie"
of al is daar praatjies van afskaling en afdankings in die maatskappy waarvoor ek werk.
U ontvang my soos 'n eregas
selfs al word ek telkens deur my bestuurders oor die hoof gesien.

Ek word oorlaai met u hartlikheid
al ontvang ek weinig erkenning vir my harde werk.
U goedheid en liefde is vir my meer werd,
as enige bonustjek, want dit sal my lewe lank by my bly.

Al is my mediese voordele en my pensioen maar skraps,
sal ek tot in lengte van dae by U tuis wees,
in die Ewige Aftree-oord wat U vir my beloof!

(Geleen HIER. Skrywer van aangepaste Psalm 23: Onbekend.)

* Lees Psalm 23 HIER