Sunday, 31 August 2025

Mossiestilte: Jes. 40:31

maar die wat op die Here wag kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Wanneer dit vir jou voel jy kan nou nie meer vorentoe nie. As alles wat jy aanpak net nie wil uitwerk nie. As alles wat nog altyd gewerk het, nie meer in plek val nie en moedeloosheid jou wil oorval; as jy ouer word en jou liggaam wil nie meer by die denke en gedagtes byhou nie; gaan sit stil by by die voete van Jesus. Keer terug soos die verlore seun na jou Vader. Hy wil jou vandag weer met nuwe klere bedek (jou 'n nuwe identiteit gee), 'n identiteit wat van Hom afkom; geklee met God se genade en barmhartigheid.  
God wil jou nuwe krag gee soos toe jy jonk was, sodat jy nie moeg of mat sal raak, as jy jou Skepper vereer met jou werke van geloof. 
Jy sal soos 'n arend sweef oor jou uitdagings en probleme. 

Dankie, Here, dat as ek moedeloos word, versterk U my. Ek sal kan aanhou en deurbreek deur u krag. Moegheid sal my nie terughou nie maar ek sal my doelwitte kan bereik omdat U met my is. Ek sal aanhou wandel op die weg wat U vir my voorberei het, en in oorwinning sal ek sweef oor my vyand en die uitdagings en hindernisse, want U versterk my met krag en wysheid. Ook vanoggend word ek weer gesalf met U vars vreugde-olie. Aan U Here, kom toe al die eer, aanbidding en lof. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]