Monday, 12 October 2026

Knieltyd: Ons gemeente

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Mag jy elke dag onthou,
as probleme, vrees en onsekerhede
jou gedagtes oorneem,
dat God jou veilige vesting is
en dat jy altyd op Hom kan vertrou.
Mag jy 'n geseënde dag in sy hand hê.

[Rosetta Venter]

Sunday, 11 October 2026

Matriektee 2026

Shaun Matthysen en Danelle Delport
Liewe Shaun en Danelle

Baie geluk met hierdie groot mylpaal wat julle bereik het! Die eindeksamen is om die draai, en 'n splinternuwe hoofstuk wag op julle.

Vandag, terwyl ons saam tee drink en kuier, wil ons as gemeente vir julle sê: Ons is ongelooflik trots op julle. Julle het jare se harde werk agter die rug, en die wenstreep van julle skoolloopbaan is in sig.

Wanneer die senuwees dalk knaag voor die eksamen, of wanneer julle onseker voel oor die toekoms, onthou die woorde in Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teëspoed nie, 'n toekoms en hoop.”

Julle hoef nie hierdie laaste pylvak alleen te hardloop nie. Die Here loop voor julle uit, en julle kerkfamilie staan bankvas agter julle met gebed. Gaan voluit, doen julle beste, en vertrou Hom vir die res.

Eksamen-sterkte
Dutoitspan-gemeente

Flitsgedagte: Laat God jou lei ...

Oesmaande: Oktober

 

Ons help tans 20 behoeftige gesinne met kospakkies. Enige bydrae - klein of groot - is opreg welkom.

Ons vra dat elke lidmaat, indien dit enigsins moontlik is, om wanneer jy kruideniersware koop, ietsie ekstra te koop. Jy kan dit enige tyd van die week kerkkantoor toe bring of Sondae in die houer in die voorportaal sit.

In Kimberley knyp die ekonomie en bly dit 'n uitdaging om al die punte bymekaar uit te bring. 

Dit laat ons opnuut besef hoe geseënd ons wat werk het, is en hoe belangrik dit is om dankbaar te bly vir alles wat ons het.

Ons kan nie die hele wêreld verander nie, maar saam kan ons EEN persoon op 'n slag se wêreld verander. 

Dankie vir elkeen se kosbare bydrae.

Mossiestilte: Jes. 64:8

Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons is almal die werk van u hand.

Die Vader wil jou laat verstaan wie jy is en jou ware identiteit openbaar.
Jy is nie net sommer 'n niks met geen doel in die lewe nie.
Die Almagtige Vader, het jou met liefde gevorm na sy begeerte en sy doel.
Die Vader het jou perfek gevorm met 'n siel en 'n gees; jy kan vir jouself dink en besluite neem; jy kan doelwitte bereik en moet werk aan jou talente wat God jou gegee het om oor die wêreld te regeer.
God sal jou altyd bystaan, ondersteun en genade gee om die vyand ook te oorwin.

Dankie Vader, vir U bonatuurlike krag en denke, U is my Voorsiener, om na my behoeftes te voorsien. U het my met liefde formeer na u beeld en u gelykenis. Ek sal U aanbid en al die eer en heerlikheid aan u gee tot in ewigheid. Ek het met al die talente en gawes wat U my gegee het, weggedraai van U en sonde gedoen. U genade het my kom red en vrygemaak van sonde en my die ewige lewe gegee. U het my herstel na u beeld en gelykenis en gereinig en geheilig. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Verjaardagwense

Santa Shoeboks - opgewondenheid in 'n boks

AFSNYDATUM: 30 Oktober 2026
DRINGENDE VERSOEK: Nog 15 name is beskikbaar
Kom ons as bevoorregtes maak 'n kinderhartjie hierdie Kersfees bly. 
Ouderdomme tussen 5 jaar tot 12 jaar.
Kontak kerkkantoor vir besonderhede - 053 842 1100

Afkondiging: Vierde Kwartaalprogram

Saturday, 10 October 2026

Jeuguitreik na !Xun Alfa-gemeente

Fichardtparkgemeente in Bloemfontein het vandag hul laaste uitreik na Platfontein gehad. 
Hul het versoek (weens die ontsettende hoë brandstofkostes) dat NG Harmonie & Dutoitspan van Kimberley van vandag af die uitreike gesamentlik sal voortsit ... 
Eintlik is beide Kimberley-gemeentes rééds jare al by Platfontein betrokke! (Klik HIER vir foto's wat getuig van jare se betrokkenheid van hierdie gemeentes by Platfontein.)
Die jeuguitreik het onder groot seën plaasgevind: gesprekke, speletjies, deelname, sang, gebed en eet het alles deel gevorm van 'n heerlike produktiewe en geseënde dag.
Foto's: Ds. Ensie Enslin
Klik HIER vir nog foto's.

Baie geluk aan die paartjie met die sterre in hul oë

Kerkgenotjies: So ietsie om aan te herkou

* Die man kom by die huis aan nadat hy sopas by die kerk se oggenddiens was.
Hy tel sy vrou op en dra haar 'n bietjie rond ...
Sy is heel verras dat hy dit doen en vra met 'n groot glimlag: "Het dominee vandag gepreek oor hoe om jou vrou te behandel?"
"Nee," antwoord hy terug. "Hy het gesê ons moet leer om ons laste te dra."

* Kallie en Mike se vroue gaan koffie drink by Mug & Bean. Mike se vrou bestel vir haar 'n klein bakkie slaai en 'n yslike sny roomkoek.
Kallie se vrou: "Eienaardige bestelling. Die twee goed pas mos nie bymekaar nie."
Mike se vrou: "Ek weet. Maar ek het besluit om 'n plan te maak met my ongesonde eetgewoontes en 'n bietjie meer gebalanseerd te eet."

* Een van die gemeentelede gaan vir sy jaarlikse ondersoek na sy huisdokter toe. Dié is nie tevrede met sy fiksheidsvlak nie. 
Dokter: "Jy moet jou liggaam oppas. Luister na wat jou liggaam vir jou sê. Gaan sluit by 'n gim aan en kom sien my oor 6 maande weer dat ek opvolgtoetse kan doen."
Die volgende oggend gaan sy wekker 05:30 af vir sy eerste afspraak by die gim en toe onthou hy die dokter se woorde: "Luister na jou liggaam."
Toe draai hy om en slaap doodgelukkig verder.

Friday, 9 October 2026

Platfonteinse se eerste basaar 9 Oktober 2026

Na 'n heerlike dag waar dié LEKKERTE tot in jou kleintoontjies ingetrek het, en jy aan alles deelgeneem het, beskou jy die laaste stuiptrekkings van die basaar vanuit 'n sittende posisie, met jou skooltas nog op jou rug, want dis híér - by die skool - waar die pret van vandag tot in jou hart en siel ingetrek het.

Vandag was die eksamenbekommernisse op die agtergrond. En jy weet dat daar nog baie lank herkou sal word aan die vreugdes wat 'n eerste basaar gebring het! 

En hier tussen die stof en hitte van die Noord-Kaap, proe 'n mens die eenvoud en vrolikheid van kindwees soos wat dit behoort te wees.
Kom loer gerus HIER om Platfontein se eerste basaar in beeld te beleef!

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 23 - Vrydag)

4.6.5 God se groot dade is nie net vir sy volk ... (Verheerliking: God se plan en ons getuienis)

Klik HIER  en kyk na die video.  

Videotoeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 4.6.5 
Hoofstuk 4: Leef Verheerlikend (leitourgia) 
Week 6: Verheerliking wat uitstroom: God se plan en ons getuienis 
Dag 5: God se groot dade is nie net vir sy volk om te beleef nie — sy lof en heerskappy is bedoel om oor die nasies bekend te word. 

Lees: Ps. 22:23–28 


Oordink: 
Die Ou Testamentiese volk Israel se beskouing was oor die algemeen dat God ‘hulle God’ was (byna soos ʼn stamgod). 
Hoe dink jy het dit hulle getuienis perspektief as God se gestuurdes (Gen. 12) beïnvloed?

Skakel na WhatsApp-groep vir daaglikse Bybelstudie-inligting:
Klik HIER.

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN

Afkondiging: Uitnodiging na eerskomende Sondag se erediens

Luister

Maak toe jou oë en luister …
Hoor jy dit?
Hoor jy hoe waai die wind?
Hoor jy God se sagte stem?
Hy wil hê jy moet luister.
Hy wil weet dat jy luister.
Luister ‘n bietjie harder!
Luister met jou hart.
Hy wil nuwe vuur in jou inblaas.
Hy wil in elke dimensie van jou lewe, nuwe lewe bring.
Hy wil jou vul met Sy krag en jou
nuwe stamina gee.
As Hy weet dat jy luister,
praat Hy anders …
Luister ….
Vra Hom vir nuwe Woord,
vars en nuwe openbarings.
Vra Hom vir antwoorde.
As jy mooi luister,
sál jy vandag nog die
antwoorde kry!
Mag Sy wind deur jou waai!
Mag daar ‘n nuwe VUUR in jou brand, wat niks en niemand sal kan blus nie.
Mag jy toeneem in krag en bonatuurlike stamina en terugkyk op al die stil gevegte wat God vir jou gewen het!
Mag jy vandag nog die antwoorde kry waarop jy gewag het.
Mag jy in Sy liefde rus, met jou ore in afwagting vir Sy stem.…
A M E N! 
Aan God al die eer!!

Thursday, 8 October 2026

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 23 - Donderdag)

4.6.4 God se verlossing, nie bedoel om verborge te bly (Verheerliking: God se plan en ons getuienis)

Klik HIER  en kyk na die video.  

Videotoeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 4.6.4 
Hoofstuk 4: Leef Verheerlikend (leitourgia) 
Week 6: Verheerliking wat uitstroom: God se plan en ons getuienis 
Dag 4: God se verlossing is nie bedoel om verborge te bly nie - sy groot dade word bekend gemaak sodat die hele aarde Hom kan loof. 

Lees: Ps. 98:1–9 


Oordink: 
ʼn Algemene siening was vir baie jare (dalk steeds in sommige gevalle) dat jou geloof ʼn ‘persoonlike saak’ is. Hoe beoordeel jy daardie stelling n.a.v. vandag se Skrifgedeelte?

Skakel na WhatsApp-groep vir daaglikse Bybelstudie-inligting:
Klik HIER.

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN

Dink hieroor: Gebed is werk

Daar is min mense wat weet dat gebed werk is. Tog is dit! 

Die apostels het nie alleen volhard in die bediening van die Woord nie, maar ook in gebed. (Hand. 6:4)

'n Man se geestelik krag hang af van sy gebedsvermoë. Hoe meer gebed, hoe meer krag; en hoe meer krag, hoe vrugbaarder is sy bediening. 

Ons moet ons bekeer van biddeloosheid en daarvoor vergifnis ontvang soos vir enige ander sonde.

[Aangestuur] 

Wednesday, 7 October 2026

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 23 - Woensdag)

4.6.3 Wanneer God se mense getrou leef ... (Verheerliking: God se plan en ons getuienis)

Klik HIER en kyk na die video. 

Videotoeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 4.6.3 
Hoofstuk 4: Leef Verheerlikend (leitourgia) 
Week 6: Verheerliking wat uitstroom: God se plan en ons getuienis 
Dag 3: Wanneer God se mense getrou leef (lig-wees), word sy werk in die wêreld sigbaar. 

Lees: Jes. 42:5–9 


Oordink:

Jesus lees hierdie profetiese woorde van Jesaja voor wanneer sy bediening in sy tuisdorp Nasaret begin (Luk 4).
Hoe help dit jou om as ‘ligdraer’ te lewe?

Skakel na WhatsApp-groep vir daaglikse Bybelstudie-inligting:
Klik HIER.

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN

Verjaardagwense