Showing posts with label Natuur. Show all posts
Showing posts with label Natuur. Show all posts

Friday, 22 August 2025

Kontraste

Winter en lente (soos somer en herfs) is albei deel van een proses. Nes 'n mens gee en ontvang nie van mekaar kan skei nie, kan 'n mens ook nie een seisoen sonder die ander ervaar nie. As mense kan ons baie uit die tydlose wysheid van die natuur leer en in ons eie lewens toepas.

Die koue van die winter maak dat alles stadiger word en selfs in 'n winterslaap insluimer. En soms sterf goed ook af. Ek sien hierdie as 'n tyd om te rus en om na te dink oor waar jy jou in jou lewe bevind. Dit skep vir jou 'n geleentheid om te besluit wat vir jou in jou lewe belangrik is, en wat nie. En om dan stappe te neem om ontslae te raak van alles wat nie meer 'n positiewe rol in jou lewe speel nie. Kyk mooi na elke area van jou lewe: jou huis en besittings, jou werk, vriende, familie en ander verhoudings, kyk ook na jou emosies. En besluit dan wat jy wil hou, wat jy wil verander en wat jy van ontslae wil raak.

So sal jy jouself voorberei vir die nuwe lewe wat lente bring. Jyself gaan verjong en heel voel, reg om 'n nuwe seisoen in jou lewe te skep. Jy kan dit inkleur met al jou hartsbegeertes, soos 'n tuin in volle bloei.

Nes in die natuur, groei ons as mense in sarsies. Daar is tye van groei, tye om te voed, tye van bloei en tye van rus in elke lewe, joune ook.

Die kontraste tussen winter en lente herinner ons dat hierdie ook sal verbygaan. Ons word bewus van en dankbaar vir alles wat ons het. Dit gee ons ook die geleentheid om die mooi in die lewe weer raak te sien, al is dit soms vaal en grys.

In die lewe is daar seisoene. Soos die son soggens opkom en die sterre saans skyn, kan jy verskillende seisoene in jou lewe verwag. Jy kan óf daarteen baklei óf dit aanvaar en die beste maak van die omstandighede wat oor jou pad kom. Die keuse is joune!

Kies DIT wat jou gelukkig maak, DIT wat niemand skade aandoen nie, JY inkluis. En wanneer jy twyfel, kyk na die tydlose wysheid van die natuur vir antwoorde.

[Prince Albert Vriend, Oktober 2017, bl.9: Maruschka Erasmus - 'n NLP-lewensafrigter, EFT-praktisyn en 'n geregistreerde berader.]  

Monday, 22 July 2019

Kyk na die natuur en leer ...

Gaan kyk na ‘n appelboom.

Daar kan 'n honderd of selfs vyfhonderd appels aan 'n boom wees, elk met tien sade in die kern. Dit is 'n klomp sade vir een so 'n boom. 'n Mens kan maklik vra: "Hoekom het 'n mens so baie sade nodig net om te verseker dat 'n paar ekstra appelbome sal opkom?"

Die natuur het iets om ons te leer. Dit vertel ons: "Baie van die sade groei nooit nie. Dus as jy wil hê dat iets moet gebeur, moet jy beslis bereid wees om meer as een keer te probeer."

Dit mag beteken dat ...
jy twintig onderhoude sal moet bywoon om een werk te kry.
jy met veertig mense onderhoude sal moet voer om een goeie werknemer te kry.
jy met vyftig mense sal moet praat om aan hulle 'n huis, 'n motor, 'n polis of 'n idee te verkoop.
jy 'n honderd kennisse sal moet ontmoet om een spesiale vriend te vind.

Wanneer ons die "wet van die natuur" verstaan, sal ons nie so maklik teleurgestel word nie. Ons sal ophou om soos slagoffers te voel. Die wet van die natuur is nie iets wat persoonlik opgeneem moet word nie. Ons moet dit net verstaan en daarmee saamwerk.

In ‘n neutedop kan ons dus sê: Suksesvolle mense faal dikwels. Hulle plant egter meer saad as die onsuksesvolles.

Thursday, 20 July 2017