Showing posts with label Selma Slabbert. Show all posts
Showing posts with label Selma Slabbert. Show all posts

Thursday, 12 June 2025

'n Kers vir Rinus Slabbert

Ewigheid

Iewers is dit als verby
en staan jy wat agterbly
vir lank verslae, verstom, verpletter …
Verblind!

Want sien jy my dan nie dwaal
deur die melkweg nie?
En voel jy nie hoe waai
my asem in die winde nie?
Hoor jy nie my fluisterstem
oor veld en vleiland nie?

Jy bly soek my
tussen klip en steen
en jy mis my -
jy mis my

waar ek oor jou reën …

[Digter: Braam Oberholzer]

Die troosdiens van Rinus Slabbert vind 20 Junie 2025 om 11:30 plaas. Die diens sal deur ds. Ensie Enslin gehou word. 'n Groot boom het in Dutoitspan-gemeente geval. Ons sal Rinus onthou as die omgeemens met die groot hart vir wie geen taak te groot of te onmoontlik was nie. Uitreik was 'n natuurlike reaksie, terwyl sy linkerhand nie geweet het wat sy regterhand doen nie. 

Ons bid vir Selma, die kinders en kleinkinders troos toe in hierdie hartseertyd.

Wednesday, 2 August 2023

Groot gif kom in klein botteltjies

Tydens Dutoitspan se gesellige basaar Saterdag, het die meisies die botoon by die skryfskietkompetisie gevoer. Die basaar was immers aan die vooraand van vrouemaand ... Daarmee onderstreep hierdie drie sommer die feit dat die vrouens die pas aangee - soos wat Liané Kruger, Loreley Wolhuter en Jolene de Klerk dit prakties bewys het! 
   
In die ouderdomskategorie van 4-10 jaar het Liané Kruger (7 jaar) skoonskip gemaak met 140/150 punte.
Liané Kruger
In die ouderdomskategorie van 11-15 jaar het Loreley Wolhuter (11 jaar) met die louere weggestap met 103/150 punte.
Loreley Wolhuter
In die laaste kategorie waar almal van jonk tot baie ervare (lees: oud) kon meeding, het Jolene de Klerk stof in hulle oë geskop (lees: geskiet) en het sy met 90/150 punte geseëvier. Ten spyte van die feit dat daar in hierdie kategorie deelnemers was met jare se ondervinding.

Wat hierdie wenners meer spesiaal maak, is dat die jongste wenner die hoogste punte behaal het en dat Loreley Wolhuter 'n Nederlander is wat vir haar oupa Rinus en ouma Selma Slabbert in Kimberley kom kuier het. 

Ds. Ensie het van die kansel af gesê dat die manne nie hond haaraf kon maak nie.

Een ding is dus baie duidelik na Saterdag ... die manne moet hierdie tydjie tot en met die volgende basaar gebruik om te oefen! Sterkte, Manne ... sien julle daar!