Saturday 25 December 2021

Maar by julle moet dit nie so wees nie ...

Kersfees word wêreldwyd deur Christene en selfs nie-Christene gevier. Die rede vir die feesvieringe en die manier van feesvier verskil egter baie. Die boodskap wat ek meen die Here op my hart kom lê het, is die eerste deel van Markus 10:43 waar Jesus op ‘n stowwerige pad onderweg na Jerusalem die basiese les in leierskap en Christenskap met sy dissipels deel.

Hy praat oor die gedrag en optredes van regeerders en groot manne wat baasspeel en hulle mag misbruik en dan volg sy woorde: “Maar by julle moet dit nie so wees nie.”

* Die wêreld vier Kersfees om groot winste te maak, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld vier dit op ‘n manier waar dit met losbandigheid en dronkenskap gepaard gaan, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld vlug weg van realiteite, soos eensaamheid en verwerping deur verdowingspille te neem, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld is bang om by ander mense betrokke te raak weens hulle eie swaar laste, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld sien geen waarde in die arm en gebreklike mense nie, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld wil nie jammer sê oor dinge wat in die verlede skeefgeloop het nie, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld is besorg oor wie die belangrikste en vernaamste is, maar by julle moet dit nie so wees nie.
* Die wêreld spoel gereeld hulle monde uit oor alles wat verkeerd is in ons land, maar by julle moet dit nie so wees nie.

Die boodskap vir Kersfees is dat jy moet oplet wat in die wêreld om jou aangaan, die boodskap van Jesus ter harte neem en dan begin om dinge te doen wat anders is. Anders in die sin dat jy begin dien soos Hy dit gedoen het vir sondaars soos ek en jy. Hy het nie in sy besluit om aarde toe te kom na die vernaamste mense gekyk om te bepaal of dit die moeite werd sou wees of nie. Nee, Hy het ook gekom vir die geringstes onder ons.

Kom ons slaan ag op sy besluit om sy posisie van eer op die troon in die hemel te verlaat, aarde toe te kom en ander te kom dien. Kom ons neem sy voorbeeld en woorde ter harte om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie, maar om ander te dien.

Daarom wil ek jou aanmoedig om vrygewig te wees in hierdie dae. Vrygewig, nie net met goed nie, maar veral met genade vir hulle wat anders as jy dink en doen; vrygewig in tyd afstaan vir jou gesin deur dinge saam te doen wat hulle wil doen en hoe hulle dit wil doen. Dit kan beteken dat jy op die mat langs jou kind of kleinkind moet gaan sit en speel. Dalk moet jy daardie familielid of buurman/vrou bel met wie jy vir jare lank nie gepraat het nie. Dit kan ook beteken dat jy ‘n geselsie moet aanknoop met ‘n werker se kind, of met die persoon by die kasregister, of met die geringstes onder ons om te hoor wat hulle vir Kersfees gaan doen.

As die wêreld dan skree “Jy mors jou tyd, want hulle is nie belangrik nie!” onthou dan Markus 10:43 – maar by julle moet dit nie so wees nie.

Geseënde Kersfees aan al ons lesers en mag die andersheid waarmee jy hierdie Kerstyd aanpak, vele seëninge vir jou bring.

[Ons deel graag hierdie boodskap van Jannie en Retha de Villiers met julle - klik HIER vir die oorspronklike boodskap]

Seën vir Kersfees

Mag die viering van Kersfees in 2021 vir jou, jou gesin, familie en vriende opnuut ‘n vars intieme besondere Christusfees wees wat die hele 2022 julle sal bybly!