Showing posts with label Evangelie. Show all posts
Showing posts with label Evangelie. Show all posts

Friday, 12 June 2026

Uitreik: Wat moet ons doen?

Ons moet mekaar liefhê 
met die Liefde wat God vir ons gee.
Ons moet mekaar vergewe 
soos God ons vergewe.
Ons moet vir mekaar bid,
sodat God ons kan beskerm 
teen die gevaar dáárbuite. 
Ons moet die Woord deel
met hulle wat ons pad vandag kruis.

Thursday, 11 June 2026

Uitreik: Plakkerskind

Ek deel 'n kamer met my pa, ma en boeties
die ryk mense noem ons die wit plakkerskamp
met hul groot karre bring hul pakke kos en klere
altyd mooi aangetrek en baie vriendelik
staan dan in 'n ry en wag ons beurt af
ons kinders sal opgewonde aan mekaar stamp.

Pappa kry nie werk nie
en mamma huil as ons slaap
dan dink ek aan die tannie
met die mooi klere
huil sy ook
is haar seuntjie ook af en toe honger
speel hy ook met plastiek gewere
ek hoor baie die woord "Armoede"
seker ons bont klere en sinkplaathuisies
daar is dae wanneer ons lekker speel en lag
dan vergeet ek van die mooi, ryk tannie
tot op ‘n dag wanneer almal uit hul huisies skarrel en bondel.

Nou gaan ons weer in 'n lang ry wag
ek is hier gebore, en dit is al wat ek ken
hier is 'n hondjie
maar is almal se hond
by my is sy naam Jasper
ander roep hom anders.

My voete is kaal en vuil
want dit het my skoene gewen
ek is baie lief vir my twee boeties
al maak ons mekaar seer
pappa en mamma het ook vir ons baie van JESUS se LIEFDE geleer.

@tertius

[Geleen op FB]

Getuienis-uitreik:
Kontak Coen by: 082 821 0217 vir inligting.

Wednesday, 29 April 2026

Die Kruis-evangelie

Die neiging om die evangelie aantreklik en gerieflik voor te stel en dissipelskap af te water, is vandag hoog in die mode. Daarom dat baie mense wat as gelowiges bestempel word, in werklikheid ongered is.

Christus het nooit die hoë eise van dissipelskap verswyg om volgelinge te werf nie. Sy boodskap het die Kruis sowel as die Kroon ingesluit. Hy het die ergste saam met die beste voorgehou en sy luisteraars gemaan om die koste te bereken. En dit is hierdie Kruis-evangelie wat tref en mense tot inkeer bring. Dit is verkeerd om die boodskap aanneemlik te maak deur die Kruis te verbloem. 

[Aangestuur]

Thursday, 26 March 2026

Uitreik: Enigste hoop vir die toekoms

In hoofstuk 1:16 skryf Paulus aan die Romeine: "Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek."

In Paulus se dae het die Grieke meer in poësie en filosofie belanggestel as in iets anders. Dié soort godsdiens wat hulle maklik kon aanvaar, was "verlossing deur kennis," omdat hulle gehou het van enigiets wat met wysheid te doene gehad het. Toe Paulus dus gespreek het oor verlossing deur geloof in Jesus Christus wat gekruisig is, het die Grieke hom vir 'n dwaas aangesien.

Die Jode daarenteen, het belanggestel in die leerstelling van die "verlossing deur werke." Hulle het gedink dat hulle as uitverkore volk gered sou word deur die formele nakoming van die tien gebooie en seremoniële wette. Toe Paulus hulle op die dwaling wys en dit beklemtoon dat hulle slegs deur geloof in Jesus Christus gered kon word, het hulle hom gehaat. Vir hulle was die evangelie 'n struikelblok.

Daar is vandag nog 'n groep mense wat soos die Grieke van destyds bloot belangstel in die sogenaamde wetenskap, en die filosofie aanhang wat God ignoreer. Daar is hulle wat liewer die evolusieleer ondersteun en grade toeken aan mense omdat hulle sulke leuens glo, as om God as Skepper te erken en te gehoorsaam. Hulle verag die Kruis-evangelie en beskou die Christelike geloof as dwaasheid.

'n Ander groep glo dat Jesus Christus 'n geskiedkundige persoon en profeet was, maar omdat hulle gemaklik wil lewe en die wêreldse dinge wil geniet, weier hulle om Hom as Verlosser aan te neem. 

Daar is ook diegene wat 'n hekel het in mense wat die waarheid van die evangelie aan hulle wil openbaar, omdat dit hulle rus verstoor. Die evangelie is vir hulle 'n struikelblok.

Tog bly die evangelie die enigste hoop in die deurmekaar wêreld en vir die toekoms.

Ons is die draers van die Evangelie en as ek nie 'n aktiewe dissipel is nie, hoe gaan hierdie verlossingsboodskap by my familie, my buurman en my medemens uitkom nie. 

Daar is nie meer tyd om te sit en wag vir ander om dit te doen nie - die tyd is min!

Getuienis-uitreik:
Wanneer: Getuienis-uitreike vind Sondae direk na die erediens plaas.
Kontak Coen by: 082 821 0217 vir verdere inligting.

[The Railway Messenger  July 1985 - Tekens van die tye] 

Thursday, 12 March 2026

Uitreik: 'n Treffende preek

In Nu-Mexiko loop die spoorlyn deur talle Indiaanse nedersettings, en by elke stasie word die treine oorval deur Indiane wat hulle produkte te koop aanbied.

Terwyl 'n paar passasiers besig was om die ware van 'n Indiaanse meisie te koop, het iemand skertsend opgemerk: "Toeriste word oral berowe. Maak julle klaar om bedroë daarvan af te kom."

"Ek bedrieg niemand nie," het die meisie geprotesteer. "Ek maak self hierdie mandjies, en dit neem my baie dae om hulle klaar te kry."
"Toemaar," het die persoon ongeërg voortgegaan, "almal sê dieselfde. En waarom sal julle ook nie kul nie? Ek sou dieselfde gedoen het as ek in julle plek was."

Sonder aarseling het die meisie se antwoord gekom: "'Wat sal dit 'n mens baat as jy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?' Dit is wat ons in die Sendingskool geleer het, en ek sal nie lieg nie, al moet ek ook honger ly."

"Dit was nie 'n lang preek nie, maar dit het getref," was die kondukteur se opmerking toe die trein uit die stasie beweeg.  

Getuienis-uitreik:
Wanneer: Getuienis-uitreike vind Sondae direk na die erediens plaas.
Kontak Coen by: 082 821 0217 vir verdere inligting.