Showing posts with label Endry Strauss. Show all posts
Showing posts with label Endry Strauss. Show all posts

Friday, 2 August 2024

Sally Aucamp salueer 'n hartsmens

Allan was 'n man met 'n fyn waarnemingsvermoë, iemand wat gehoorsaam geluister het na die stem van God en Sy opdragte uitgevoer het. (Lees HIER die verhaal waar Allan God se afspraak met 'n kind nagekom het - die rolmodel van hoop.) 

Hy kon probleme aanvoel en raaksien en met sy omgeehart het hy opgetree. Hy is iemand wat spore in ander mense se harte gelos het. Om sy uitreikdrome te laat realiseer, het hy hande en voete nodig gehad en dit het hy gevind in die persoon van Rina Groenewald. Saam-saam het hulle twee berge versit, beplan en gewerk. Ander helpers is dikwels ingetrek en het as 'n span saamgewerk, met Allan as die kop. Rina Groenewald, Natalie Willemse, Daphné de Beer en Endry Strauss was deel van sy span.

Allan mog fisies gestremd wees, maar hy het nie gestremd gedink en uitgereik nie. En vanuit sy rolstoel was sy uitreikboodskap aan die mense wat sy pad gekruis het, kragtig.   

Allan is sedert 2016 'n inwoner van Sally Aucamp, 'n tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede. Hy is 'n boorling van Upington en na sy skoolloopbaan in Kimberley is hy terug Upington toe waar hy sedert 2001 by die plaaslike radiostasie betrokke was. Sy passie vir uitreiking het daar begin en die radiostasie het uitreikingsprogramme gehad nadat die behoeftes in die gemeenskap geïdentifiseer is.

Allan se raad aan sy luisteraars was altyd om na jou hart te luister en mag daardie raad na sy dood voortleef. 

Allan: "Daar waar jy kan help, moet jy help. Ons is op aarde geplaas om die spreekwoordelike persoon langs jou se nood ligter te maak." 

Allan, jy sal voortleef in die harte van die mense wat jy gehelp het en in die harte van hulle vir wie jy 'n mentor en 'n rolmodel was. Jou nagedagtes sal geëer word.

Lees HIER, HIER en HIER van sy berigte. 

Sunday, 14 July 2024

Madiba-dag: Allan se pad met Bophelo-kinderhuis

Allan het 'n omgeehart groter as 'n rugbybus vol Griekwa-ondersteuners. Hy is die afgelope jaar baie nou betrokke by Bophelo Kinderhuis in Herlear. Sy hande en sy voete is Rina Groenewald wat hom ondersteun in wat hy ookal vir hierdie babas en kinders beplan en doen.

Hulle het besluit om Madiba-dag met amper twee weke te vervroeg sodat hulle die gebreide warm truitjies, slaapsokkies en ander warm babagoedjies voor die koue by die ontvangertjies kon uitkry. Hierdie is nie 'n eenmansprojek nie en skenkers het na vore gekom om vlerke aan Allan se droom te gee. 'n Tannie van 96 jaar het kliphard aan hierdie truitjies gebrei. Saam met die warm klere en warm harte het hulle die kinders op warm brakke en 'n pakkie lekkergoed getrakteer. Niks is mos vir 'n kind lekkerder as daardie soetigheid wat hulle energie 'n goeie hupstoot gee nie.

Allan kon tot sy groot teleurstelling nie die uitstappie meemaak nie, omdat griep hom platgetrek het. Hy is nietemin goed verteenwoordig deur Rina Groenewald, Natalie Willemse en Daphné de Beer wat ook gereelde besoekers by Sally Aucamp is. Wian Willemse leer sommer van kleins af wat dit beteken om uit te reik as hy die plekke saam met sy ma besoek.

Allan se droom is dat elkeen 'n hand sal uitsteek om die een langs hom of haar in nood se dag op 'n manier ligter te maak. Dit is tog mos hoekom ons op aarde geplaas is.

67 minute is 'n baie klein deeltjie van jou tyd wat jy kan gebruik om uit te reik, om te doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is. 

Lees die oorspronklike berig met foto's van 5 Julie HIER!

Friday, 5 July 2024

Sally Aucamp reik na Bophelo-kinderhuis uit!


18 Julie - Mandela-dag - is vervroeg. Die koue wat nou met mening toegeslaan het en sy spreekwoordelike tande ingeslaan het, is daarvoor verantwoordelik. Allan Visagie se 67 minute uitreikaksie na Bophelo-kinderhuis was 'n groot sukses. Op hierdie stadium is daar 10 babas en 10 groterige kinders in die huis. Bydraes is ontvang van 'n 96-jarige dame wat warm truitjies gebrei het, Endry Strauss en Rina Groenewald het slaapsokkies vir die koue voetjies gebrei, en allerlei ander babagoed het hulle weg na Bophelo gevind. 

Allan is ongelukkig in die bed met griep, maar soos 'n goeie organiseerder betaam, het hy reëlings getref dat hierdie warm klere betyds by die ontvangers uitkom, saam met heerlike eetgoed, 'n pakkie lekkergoed vir elk en worsbroodjies.

Die twee huismoeders, Sanna Seekoei en René Beukes, is twee omgeemense wat nie sal skroom om die ekstra myl te loop nie. Hulle is die hart van Bophelo-kinderhuis. Mag hulle baie krag en genade ontvang om hierdie groot taak met ywer te doen.

Rina Groenewald, Daphné de Beer, Natalie Willemse en Wian Willemse het Allan se skoene gaan volstaan en saam met die inwonertjies gekuier.  

Tuesday, 18 July 2023

Sally Aucamp se 67-minute


Ds. Ensie en Allan
Sally Aucamp se 67-minute vir Madibadag-projek is geskoei op Nelson Mandela se woorde: “Wanneer ons ons lig laat skyn, laat ons ander onbewustelik toe om dieselfde te doen.“

Allan Visagie, een van die inwoners, het hierdie projek gereël. Die doel van vandag se uitreik was om die omstandighede gemakliker te maak vir hulle wat vandag by Beaconsfield se kliniek gestaan en wag het om gehelp te word. Die koue vaal wintersdag het dadelik van kleur verander toe heerlike warm sop en toebroodjies aan die wagtendes uitgedeel is. Daar was baie honger magies wat reeds van vroeg af in die ry gestaan het. Almal het genoeg gehad en daar was nog oor. Dit laat 'n mens onwillekeurig dink aan die Bybelse vissies en broodjies
Endry Strauss en Pula
Leburu saam met
Allan.
wat aan die skare uitgedeel is en toe almal genoeg geëet het, het die dissipels nog twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het.

Ons roeping as rentmeesters is om te dien en om 'n verskil in mense se lewens te maak. Mense wat 'n entoesiastiese en energieke Allan gehelp het om vandag die lig in ander se lewens te wees, was Rina, ds. Ensie, Endry, Pula en Daphne. Ds. Ensie het 'n relevante boodskap van bemoediging gebring. 

Sally Aucamp se hartsprojek en omgeeprojek was geseënd. Die hand van ons Hemelse Vader was so duidelik sigbaar met hierdie uitreik en daarom weet ons dat die saad wat vandag by Beaconsfield Kliniek gesaai is, vrugte sal dra.

'n Groot dankie aan elkeen wat vandag tyd en bereidwilligheid vir hierdie saak gegee het.

Foto's: Rina Groenewald
'n Vrywillige werker by Sally Aucamp.



Allan is 'n uitreiker en 'n rolmodel. Lees die artikel HIER.