Showing posts with label Orrel. Show all posts
Showing posts with label Orrel. Show all posts

Wednesday, 6 April 2022

150 genadejare: Die orreliste vanaf 1949 ...

 

Orreliste vanaf die eeufeesviering tot nou

1.

Mev. AR vd Westhuizen

April 1947-Feb 1979

2.

Mev. R Brand

1979

3.

Mev GA de Ronde

1979-1982

4.

Mnr. D du Toit

1983-1984

5.

Mnr. TL Holmgreen

1984-1985

6.

Mev. Cohen

1985-1986

7.

Mnr. D du Toit

1986-1989

8.

Mev. MP Coreejes

1990-1996

9.

Mnr. T Blignault

1996-2020

10.

Mev. B le Roux

2020 - tans

 

 

 


Klik HIER vir interessante inligting

Sunday, 16 September 2018

Geskiedenis: Die orrel

Die eerste musiekinstrument waarvan daar melding gemaak word in die argiewe, is die harmonium wat in 1881 gebruik is met die inhuldiging van ds. en mev. Kriel. Die aanname word gemaak dat met die dienste wat onder die bokseile en in die kerktent gehou is, is daar van voorsangers gebruik gemaak. Met die verwelkoming van proponent Kuhn op 13 Mei 1877, het die Sondagskoolkinders,  o.l.v. mej. Naudé die proponent toegesing.

Met die ontvangs van ds. Kriel op 21 Julie 1881 was daar 'n kerkkoor wat die welkomslied gesing het. Onmiddellik na die inwyding van die nuwe kerkgebou in Desember 1881, tree mev. Kriel as orreliste op wat vir die volgende ses jaar, sonder betaling, die sang van die gemeente op die harmonium lei.

Nadat haar opvolger, mnr. Vos, byna twee jaar die musiekinstrument gratis bespeel het en sy versoek om 'n vergoeding van 5 pond (R10,00) per maand deur die kerkraad geweier is, moes daar vir 'n geruime tyd staatgemaak word op die dienste van vrywilligers.

Intussen het die harmonium se toestand so versleg, dat ds. Perold die kerkraad beweeg het om 'n musiekinstrument aan te koop vir 45 pond (R90,00) en word die bestelling in Januarie 1895 êrens in een van die lande in Europa geplaas. Aan koorsang is toe alreeds baie tyd gewy, sodat met die afskeid van ds. Perold 'n hele aantal koorstukke gelewer is.

In ds. Marais se tyd lees ons van baie aangename en opwindende programme van koorsang onder die bekwame leiding van mev. HO Stiglingh wat vir baie jare die orrel gratis bespeel het. Haar vertrek na Stellenbosch in 1899 was 'n geweldige verlies vir die gemeente. Tydens 'n groot jaarlikse kinderfees op 10 Desember 1911 word daar melding gemaak van die besondere pragtige koorsang. Hiervoor was mnr. Burnett, 'n onderwyser van die plaaslike laerskool, verantwoordelik.

Terwyl daar hierna eers 'n mnr, Anderson die orreltjie bespeel het en daarna 'n mnr. A Ellis wat as 'n baie bekwame man beskrywe is, besluit die kerkraad op aanbeveling van ds. Rabie om 'n nuwe en 'n groter traporreltjie aan te koop. Hy stort dan ook die eerste bydrae van 10 pond (R20,00), wat hy as geskenk van die kerkraad ontvang het, op 'n waarborglys vir die nuwe orrel. 'n Hele aantal van die kerkraadslede doen toe dieselfde. (Ds. Rabie is nie die enigste predikant wat dit gedoen het nie - later meer hiervan.)

Om staanplek vir die nuwe orreltjie en genoeg ruimte vir die koorlede te voorsien, moes die galery bokant die ingang van die sinkkerkie vergroot word. Die onkoste hiervan het meer as 75 pond (R150,00) beloop. Hierdie onkoste is deur die koorlede by wyse van lyste ingesamel.

In 1916, in ds. Kotzé se tyd, is die nuwe orreltjie in gebruik geneem.

Mej. Annie Maritz (Slabbert) was destyds die orreliste en onder die koorlede vind ons die name van Hennie en Lettie Venter, asook mejj. Ricca van Reenen en Maggie Shingler (Du Toit). Laasgenoemde is die moeder van Nellie du Toit, die sangeres van Pretoria wat vanjaar op 29 Julie oorlede is.

Nadat die gemeente byna 45 jaar lank gebruik gemaak het van verskillende traporrels, besluit die kerkraad op 1 September 1917 om 'n pyporrel teen ongeveer 450 pond (R900,00) van die firma Price en Zonen van Kaapstad te bestel. Na 'n gesloer van 'n paar jaar, het die goeie nuus uiteindelik op 10 April 1920 gekom dat die firma hoop om die orrel spoedig af te lewer. 

Dit het dan ook so gebeur en die nuwe orrel is op 'n platform voor in die kerk agter 'n veranderde preekstoel ingebou. Aan die regterkant van die orrel is sitplekke vir die kerkraad en aan die linkerkant vir die koorlede aangebring. Die instrument moes met die hand gepomp word.

Die inwyding van die eerste pyporrel is in Julie 1920 deur ds. De Villiers waargeneem. By die geleentheid was die baie bekende ds. ML de Villiers, die leraar se broer, ook teenwoordig. Mev. A Slabbert, die orreliste, het met haar kore vir gepaste en pragtige koorsang gesorg. Onder die koorlede vind ons die name van M Slabber, Hennie en Lettie Venter, Frans en Vic Joubert, Ampie du Toit, Okkie Immelman, Apie Raats (later dominee - meer staaltjies oor hom later), Mossie Carstens (De Kock0, Ricca en Joey van Reenen, Ralie Potgieter en Ellie Pretorius.

Kort hierna, met die vertrek van mev. A Slabbert na Newton, Kimberley, is mej. Ricca van Reenen in haar plek aangestel en sou sy nog baie jare die goeie werk van haar voorganger voortsit. Haar dienste is aan die einde van Junie 1929 beëindig nadat sy met mnr. Vercueil in die huwelik getree en van Dutoitspan afskeid geneem het.

Gedurende die volgende vyf jaar het daar heelwat persone vir kort periodes as orreliste opgetree. Behalwe mejj. A Holloway en Lombaard asook mevv. K Reddie en Joubert, het mnr. Ras die orrel drie jaar lank bespeel voordat mej. L Collard in Junie 1934 aangestel is.

In 1940 is die orreltjie geëlektrifiseer en na die nuwe kerk verskuif. Die ou draad-aksie is egter behou sodat die aanslag steeds baie swaar was. mej. Collard het daarna nog tot Mei 1945 die gemeente op pragtige spel en mooi koorsang getrakteer.

Vir die daaropvolgende jaar het mejj. Lorna Bothma en Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel, totdat mev. Remerta (AR) van der Westhuizen weens siekte, eers die betrekking aan die einde van April 1947 kon aanvaar.

Dat die kerkraad baie gelukkig was om mev. Van der Westhuizen se dienste te bekom, het duidelik die volgende maand met die viering van die 75-jarige bestaan van die gemeenste geblyk.

Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, het sy vir meer as 25 jaar lank getoon dat sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land is nie, maar dat sy ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kan nadoen. Geen wonder dus dat haar kerkkoor waar dit ook al optree, altyd in die oog val nie. Op die talle kunswedstryde waaraan die koor in die verlede meegeding het, het dit, sonder uitsondering, altyd met die louere weggeloop.

Gedurende die tyd het sy o.a. die kantate "Van Krip na Kruis, Rut, 'n jubelende Danksegging en Vors van Glorie," met groot sukses opgevoer.

In Maart 1956 is die herboude en vergrote orrel waarvan die koste 3000 pond (R6000) beloop het, ingewy. Die 457 pype van die ou orrel is tot 'n totaal van 1 209 pype aangevul. By dié geleentheid het die orreliste, mev. Van der Westhuizen, met haar koor vir 'n pragtige kantate-uitvoering en musiekprogram gesorg.

Baie van die ou staatmakers wat by daardie geleentheid, asook by die aanbieding van die kantate, "Die Vors van Glorie" in November 1957 in die vergrote kerkkoor opgetree het, lewe nie meer om in die kerk se eeufeeskoor te sing nie.

Veral word daar gedink aan mejj. S van Heerden (Diskobolos), Kitty van Niekerk, mevv. Elize Kruger, Lettie Venter, A Nothnagel, LA Powell, asook oom Pieter Oberholzer wat nie die eeufees in 1972 saam met ons kon vier nie.

Andere soos Danie en Lorna Brink, Hannie Albertyn, J Wagner, F Booysen, F Rousseau, T Muller, Mattie Jacobs, Minnie Greeff. Hennie Venter, T van der Nest, H Labuschagne, F Scheepers en G Pretorius het sederdien van Kimberley weggetrek of is nie meer in die gemeente woonagtig nie.

Onder die 1972-koorlede is daar 'n hele aantal wat na baie jare van gereelde en getroue diens nog steeds hul dienste tot beskikking en ter verheerliking van die Koning van die Kerk stel.
[Uit: Die eeufeesalbum 1872 - 1972]

Gaan lees die res van die orrelgeskiedenis hier Die gebeure vanaf 1954 word hier vertel.

Monday, 30 July 2018

Die bekende sopraan, Nellie du Toit oorlede ...

Nellie du Toit is in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Sy het 'n roemryke loopbaan gehad, maar beskeidenheid was een van haar uitstaande karaktertrekke. Sy was 'n baie private mens wat nie 'n bohaai oor haarself gemaak het nie, maar sy het eerder gefokus op haar studente en wat sy hulle kon leer.

Sy is op 17 Desember 1929 gebore en is op 29 Julie 2018 oorlede. Gaan lees gerus die artikel oor Nellie du Toit hier.   

Thursday, 5 July 2018

Dutoitspan se noot vir 'n noot...


(Hierdie artikel het reeds op 28 Januarie 2018 in die blog verskyn. Hier is die eerste drie paragrawe. Gaan lees gerus die res van die artikel hier.)

"Die gemeente se orrel vra na meer as 60 jaar dringende aandag. Niemand van ons is so gelukkig om nooit in 60 jaar dokter toe te gaan nie - in kort, ons kort nou die bekwame hande van 'n "orreldokter" en dit kos geld!

Die oplossing? 'n Orrelfonds! Ons kort dringend papiernote vir die kerk se orrelnote!!

Hiervoor benodig ons elkeen se heelhartige samewerking en toewyding. 'n Klein bietjie agtergrond oor die orrel, sal ons net meer motiveer as ons weet waarvoor ons werk."

Sunday, 28 January 2018

Dutoitspan se noot vir 'n noot...

Die gemeente se orrel vra na meer as 60 jaar dringende aandag. Niemand van ons is so gelukkig om nooit in 60 jaar dokter toe te gaan nie - in kort, ons kort nou die bekwame hande van 'n "orreldokter" en dit kos geld!

Die oplossing? 'n Orrelfonds! Ons kort dringend papiernote vir die kerk se orrelnote!!

Hiervoor benodig ons elkeen se heelhartige samewerking en toewyding. 'n Klein bietjie agtergrond oor die orrel, sal ons net meer motiveer as ons weet waarvoor ons werk.

Ons sal later kyk na die begin-geskiedenis van die orrel. Ons gaan net so ver terug soos 1954. Baie vroeg in 1954 het dit duidelik geword dat die orrel dringende aandag nodig het, die toestand van die orrel was om die minste te sê, treurig! Daar moes 'n dringende besluit geneem word of daar herbouing moet plaasvind en of die orrel met 'n nuwe een vervang moes word. Geen ligtelike besluit nie.      

Hoewel daar op daardie stadium nie dadelik aandag aan die orrel gegee kon word nie, weens ander groot verpligtinge, het die koorlede onder leiding van die orreliste, mev. AR van der Westhuizen besluit om 'n orrelfonds te loods.

Later het ds. C Theron en die gemeentesusters (bekend as die huisvlytsusters) 'n reuse aandeel aan die insameling van fondse gehad. Die hele gemeente was gemobiliseer, want almal het besef dat die nood (noot...) hoog is!

Die kerkraad het toestemming verleen dat daar vanaf April 1955 wyksfunksies gehou kan word ter stywing van die orrelfonds. Die kerksraadslede van die onderskeie wyke het hulle wykslede aangespoor, want daar was so 'n onderlinge kompetisie oor wie nou eintlik met die beste fondsinsamelingsplan voor 'n dag sou kom.

Intussen is tenders aangevra en uiteindelik word die tender vir die firma R Muller vir 2 750 pond (R5 500,00) gegee. Met die toevoeging van die klokkespel (min kerkorrels beskik hieroor), sierpype en die aanbring van deurlopende paneelwerk op die galery, het die bedrag op 3000 pond (R6000,00) te staan gekom. Die spieël, die raamwerk en gordyn, asook die twee waaiers, is deur goedgesinde persone geskenk.

 Anmarie van der Westhuizen, 
Pieter  van der Westhuizen en
Die naweek van 2 - 4 Maart 1956 het die orrelinwyding plaasgevind. Die kinders het die geleentheid gehad om Vrydagaand na die musiekprogram en kantate-uitvoering te kon luister. Die werklike inwyding het dié Saterdagaand plaasgevind. By hierdie geleentheid het ds. C Theron die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen en almal baie hartlik verwelkom. Mev. AR van der Westhuizen het, nadat sy die sleutel van die orrelbouer, mnr. W Zimnier, ontvang het, die herboude orrel oopgesluit.

Die gemeente het as lofsang Ps. 146 vers 8 gesing en daarna het prof. dr. Jac J Muller van Stellenbosch die wydingsrede gehou.

In die musiekprogram wat gevolg het, is pragtige orrelspel deur mnr. Septimus Smuts en sangstukke deur mnr. Frank Scheepers en mev. Minnie Greeff (plaaslike talent) gelewer, voordat die kantate-uitvoering, "'n Jubelende danksegging" deur die Dutoitspan-kerkkoor onder leiding van die baie bekwame mev. Van der Westhuizen gevolg het.

Geen moeite is ontsien om 'n program uit die boonste rakke saam te stel nie.

Ds. C Theron (1953 - 1957) 
Die pragtige en baie suksesvolle aand is in die kerksaal afgesluit met heerlike verversings en saamkuier.

Prof. dr. Jac J Muller het die volgende oggend die Nagmaalsdiens gelei en met 'n dankdiens die aand afgesluit.

Met al hierdie verrigtinge het die orreliste en haar koor, sowel as die gemeentesusters en ds. Theron, 'n leidende rol gespeel.

Dinge is sommer op groot skaal in die gemeente aangepak!

Pas twee maande na die inwyding van die herboude orrel, is die firma Joubert, Owens en Van Niekerk (argitekte) geraadpleeg i.v.m. die herbou van die kerkgebou. In hulle verslag beveel hulle aan dat die houtvensters deur staalvensters vervang word, die ou pleisterwerk buite afgekap word en met Tiroolse pleister afgewerk word, dat die toring 30 voet hoër gemaak moet word, terwyl die sy- en vooruitgange heeltemal verander moet word. Aan die binnekant moes al die mure nuut uitgepleister en tot vensterhoogte met Mahonie-paneelwerk afgerond moet word. Ook om die preekstoel moes paneelwerk aangebring word.

(Word vervolg)