Wednesday 27 April 2022

150 genadejare: Feesgangers ... hulle was dáár!

Bo: Kathleen Brown (Scott), Mary Burger (Orton) en
Frances Reineke (Orton)
Onder: Alda Welman (Pienaar), Carina Badenhorst
(Van Lingen) en Elsa Minne (Weber)
Hierdie feesgangers was kinders in 1972. Die jongste een was 8 jaar oud en die oudste een was 16 jaar oud. Hulle was almal op van die vlotte en deel van die optog wat deur Kimberley se strate gery het. Hulle ouers (Louis en Hester Scott, Frank en Mary Orton, Schalk en Jane Pienaar, Thys en Baby van Lingen, George en Rina Weber) was betrokke by die eeufeesvieringe - 'n mylpaal in die geskiedenis van Dutoitspan wat as 'n gemeente dikwels moes klippe kou. As hierdie klippe maar diamante was, sou die gemeente se pad met rose besaai gewees het. Hulle het heerlike onthoustories met mekaar gedeel en as daar 'n bietjie in die kiekieblikke en fotoalbums gekrap word, sal daar definitief kerkfoto's van jare terug wees.   

1972

Kinderkrans - Cassandra

1: Lizette Boshoff; 2: Didi Coetzer; 3: Marina Weber;
4: Di Westley; 5: Joey Weber; 6: Elsa Weber;
7: Nelia van Straaten; 8: Len Weber

Die Sondagskoolvlot

1: Antoinette van Lingen; 2: Carina van Lingen; 3: Trudie van
Lingen; 4: Thys van Lingen; 5: Amanda Smal; 6: Alda Pienaar;
7: Ronell Pienaar; 8: Johan de Ridder; 9: Ds. JH Siebert
 

Kinderkrans

Foto van die kinderkranskinders wat in outydse klere
aangetrek was, saam met mev. Frieda Siebert.
Op die agtergrond is een van die baniere wat op
verskeie plekke in Kimberley opgesit is
om die feesvieringe te adverteer. Dit was van lamppaal
tot lamppaal in Kimberley gespan.

Die kinderkransvlot

'n Klomp van die kinders het reeds
op die Sondagskoolvlot gery.

Die siervlot van die KJA - Frances Orton was een
van die strooimeisies in die tweede ry.

Schalk en Jane Pienaar met Alda en Ronell

Thys en Baby van Lingen met Carina,
Trudie, Antoinette & Wimpie

150 genadejare: Die feesruikers


Die uniekheid van die protea, maak dat die blom spreekwoordelik kop en skouers uitstaan bo die ander blomme. Dit trek onmiddellik aandag, ongeag hoeveel ander blomme in 'n vertrek is. 

Sondag se feesruikers in die kerk het hulle eie unieke kragtige woordelose boodskap met die gemeentelede en besoekers gedeel en so die boodskap van ds. Richard Holloway (Jy is gesien ... jy word gesien) versterk. Almal het die rooi protearuikers gesien, waardeer en daarmee saam ook die ruikerboodskap van uithouvermoë, moed, gehardheid, diversiteit, durf en transformasie verstaan - die gemeente se pad die afgelope 150 jaar.  

150 jaar het opofferinge op vele terreine van die lidmate gevra, maar ook moed en deursettingsvermoë en uithouvermoë waar voorspoed nie 'n gegewe is nie en uitkoms nie altyd voor die hand liggend was nie. Die uniekheid van die gemeente lê in die diversiteit daarvan en dat gemeentlede oor dekades heen altyd op een of ander manier uitgereik het, vandaar al die uitreikaksies wat in die annale van die gemeente opgeteken is. Dit alles en soveel meer is in een ruikerboodskap opgesluit.

Baie dankie aan die twee blomdames, Carina Badenhorst en Liesl Brown, wat vir die ruikers verantwoordelik was. Die hoendervleismooi storie is dat hulle mekaar nie gekontak het oor wat hulle gaan doen nie, maar dat hulle dieselfde blomme gebruik het vir die kerkruikers.  

Kerkruikers


Bankruikers




Voorportaalruikers


Lees ook HIER.
Foto's: Elsa Minne en Alda Welman

Remember ...

Saturday 23 April 2022

150 genadejare: Piet Smit-optrede

Die naweek het afgeskop met Piet Smit se optrede Vrydagaand, 22 April, by die AGS TD Ouditorium. Ongeveer 'n 160 mense het hierdie besondere geleentheid bygewoon. Net voor pouse het Malan Smith vir Elsa, ds. Ensie en sy vrou bedank vir al die harde werk om die feesblad saam te stel. Op die foto verskyn Malan Smith, Elsa Minne, Annatjie Enslin, ds. Ensie Enslin en Piet Smit.

Klik HIER vir nog foto's.

150 genadejare: Schalk Pienaar - die langsdienende kassier (Julie 1961 - Julie 2016)


In die Noord-Kaapland eNuus skryf hulle 'n artikel oor die ononderbroke diens van Schalk Pienaar en verwys daarna as 'n besondere mylpaal in die geskiedenis van die NG Kerk.

Hoe het hy in die kerkkantoor van Dutoitspan beland? 

Schalk en Jane Pienaar het in Julie 1958 in Dutoitspan-gemeente ingetrek. Nie lank daarna nie, het ds. Smit, die gemeente se predikant op daardie stadium, as argivaris na Kaapstad vertrek. Ds. WJ Steenkamp, van Olifantshoek, het ds. Smit as predikant opgevolg.

Die kassier op daardie stadium was Andries Combrinck. Hy was kassier van 1957 tot 1960. Hy word skielik verplaas en mnr. Saly Beukes neem as kassier oor. Ongelukkig kon hy net 'n paar maande aangaan, tot Junie 1961, toe hy ook verplaas word. Die skriba- en kassierwerk is deeltyds gedoen deur werkende persone, sodat die kerk nie 'n salaris aan die persone hoef te betaal nie. Hulle het slegs 'n honorarium gekry. Dutoitspan was nog nooit 'n ryk gemeente nie en moes in die verlede, net soos nou, sy sente omdraai om al die gate toe te stop.

Ds. Steenkamp het toe vir Schalk genader en gevra of hy bereid sal wees om oor te neem as kassier, aangesien hy op daardie stadium die enigste een in die gemeente was, wat 'n boekhouer was. Hy is aan die begin van Julie 1961 in die pos aangestel.

Op daardie stadium was Piet Labuschagné, 'n onderwyser van beroep, die skriba van Augustus 1955 af. Na Piet se aftrede, het Schalk ook die skriba-deel gedoen. Tot en met 2011 was hy die skriba-kassier en het Schalk altesaam met 13 predikante saamgewerk. Elmie Bean het as skriba in Oktober 2011 by Schalk Pienaar oorgeneem.

Hy het nie agtergebly toe rekenaars opdaag nie en in 1989 al ingespring en geleer om daarmee te werk. Daar was nie eintlik baie ouer mense wat daarvoor kans gesien het nie; te meer nog om by die kollege in te skryf vir rekenaarkursusse. Hy was die oudste student wat die N4- tot N6-rekenaarpraktykeksamens geslaag het en toe mense hulle oë uitvee, het Schalk ál sy kerkwerk gerekenariseer gehad voor Finkerk en Winkerk, die huidige rekenaarsagteware, opgedaag het.

Hy was 'n ywerige blogger. Vanaf 2013 het hy begin om Dutoitspan se kerkgeskiedenis op te teken. Hy het op daardie stadium besef dat die gemeente nie 'n webwerf het nie en dat geskiedenis verlore kan gaan. Maar hy wou steeds die ruimte vir die kerk laat om ter gelegener tyd hulle eie webwerf te begin en daarom het hy die blog net Dutoitspan Kimberley genoem en nie NG Kerk Dutoitspan Kimberley nie. Gaan kyk bietjie by https://dutoitspan.blogspot.com/. Schalk het dus in Clint Eastwood se liga gespeel wat gesê het: "Soos ons ouer word moet ons onsself dissiplineer om aan te hou leer en ons gedagtes en breine aktief te hou."

Hy was die gentleman met die das, baadjie en die Engelse pet. Passie, toewyding, geloof en opregtheid was die pilare waarop sy liefde vir sy werk gerus het. Hy het altyd gesê dat hy hierdie werk vir die Here doen en nie vir mense nie. Ds. Richard Holloway het gesê dat Schalk Pienaar 'n mentor vir menige predikant was, sonder dat hy dit geweet het.  Hy was inderdaad 'n man wat sy geloof in dade uitgeleef het.

Na 55 jaar ononderbroke diens het hy afgetree en op 24 Julie 2016 het die gemeente vir hom 'n afskeidsfunksie gegee. 

Lees: Skriba tree uit na 55 jaar. Klik HIER 
Lees ook: Die pos het my gekies ... Klik HIER

Johan Genis (kassier), Elsa Minne (koster), Elmi
Bean (skriba) ds. Kobus Klopper en Schalk Pienaar.
Boonste foto: Joe Fredericks (jarelange tuinier)

Thursday 21 April 2022

Tyd wag vir niemand nie ...


Om te besef:
Die waarde van 'n suster of 'n broer ...
Vra iemand wat nie een het nie.

Om te besef:
Die waarde van tien jaar ...
Vra 'n pasgeskeide paartjie.

Om te besef:
Die waarde van vier jaar ...
Vra 'n gegradueerde.

Om te besef:
Die waarde van een jaar ...
Vra 'n student wat 'n eindeksamen geslaag het.

Om te besef:
Die waarde van nege maande ...
Vra 'n ma wat 'n doodgebore kind gebaar het.

Om te besef:
Die waarde van een maand ...
Vra 'n ma wat geboorte gegee het aan
'n premature baba.

Om te besef:
Die waarde van een week ...
Vra die redakteur van 'n weekblad.

Om te besef:
Die waarde van een minuut ...
Vra 'n persoon wat die trein,
bus of vliegtuig verpas het.

Om te besef:
Die waarde van een sekonde ...
Vra 'n persoon wat 'n ongeluk oorleef het.

Tyd wag vir niemand nie ... bewaar elke oomblik wat jy het.
[Dankie vir die persoon wat hierdie op my tafel gesit het.]

Monday 18 April 2022

150 genadejare: Dankie aan elkeen wat die feesvieringe moontlik en makliker maak


'n Uit-die-hart-uit-GROOT-dankie aan die volgende borge/donateurs. Sonder julle kan ons nie die mooi mylpaal in Dutoitspan se geskiedenis vier nie. 

* Ds. Ensie en Annatjie Enslin vir die saamstel van die feesblad.
* Elsa Minne en almal wat 'n bydrae tot die feesblad gelewer het.
* SWIFT PRINT vir die druk van die blad, sowel as die ruim borg.
('n Ekstra dankie vir Sunika en Tommie)
* Die AGS vir die gebruik van die Taberna Dei Ouditorium.
* Mandior Manor gastehuis
* Vermeulens vir skenking van verf.
* Jet West vir skenking van verf.
* Bakgat vir skenking van verf.
* Kimberley Wardrobes vir skenking van verf.
* Liesl Brown en Selma Slabbert vir die kerk se tuin.
* Rinus Slabbert vir die herstel van geboue.
* Ds. Richard Holloway vir Sondagoggend se erediens.
* Die anonieme skenker van die maskers.
Neil Retief  vir die sleutelhouers.
* Die anonieme skenker van die kanselkleed.
* Die anonieme skenker van die gordyne vir die buitebadklamers.
* Henry Weideman vir die skenk van die skaap
* Vir elkeen wat bygedra het tot die feesvieringe

150 genadejare: Dogtergemeentes van Dutoitspan

In 1882 het die ring van Colesberg die wyke Duplooysburg, Ritchie, Modderrivier en Heuningneskloof aan die sorg van Dutoitspan toevertrou.

Dogtergemeentes:
Duplooysburg (1920) wat vroeg in die jare 50 na Plooysburg verander is. Lees HIER en ook HIER.
Modderrivier-Ritchie (1950) Lees verder HIER en ook HIER.
Diamantveld (1955)
Plooysburg
Modderrivier-Ritchie
Diamantveld
Dutoitspan

150 genadejare: Feesnaweek

Die gemeenskap vier eerskomende naweek fees om dankie te sê vir 150 jaar van Genade.

Die program skop Vrydagaand, 22 April 2022, om 18:30 af met Piet Smit wat in die AGS-Taberna Dei optree. Kaartjies is by die kerkkantoor beskikbaar.

Moenie hierdie besondere post-Covid-geleentheid misloop nie.

Saterdag, 23 April 2022, is daar 'n heerlike potjieKOSkuier by Rooifontein. Teen 'n baie beKOStigbare R30.00 per persoon, kan geen mens dit beKOStig om nie die KOSbare geleentheid by te woon nie.
Kry jou Saterdagmiddag om 15:00 by die kerkterrein. 

Sondag, 24 April 2022 is daar 'n hele program om die naweekprogram af te sluit.

1. 08:30 – VOORSANG

2. 08:45 – AANKONDIGINGS – DS ENSIE ENSLIN

3. 09:00 – EREDIENS EN NAGMAAL – DS RICHARD HOLLOWAY

4. SANGITEM – DEON BOTHA

5. GROETEBOODSKAPPE - OUDLERAARS

6. GROETEBOODSKAP - LEIEROUDERLING - MALAN SMITH

7. 11:00 – SAAMKUIER

8. 12:30 – ETE

9. BEDANKINGS – DS ENSIE ENSLIN

10. TAFELGEBED VIR ETE WORD IN DIE KERK GEDOEN

Kontak die kantoor vir inligting (053 0842 1100)

Sunday 17 April 2022

Liefde is ...

Liefde is ‘n glimlag,
nie ‘n frons nie.
Liefde is ‘n drukkie,
nie ‘n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee,
nie misbruik nie.
Liefde is om die sambreel vir iemand in die storm te wees
en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee,
nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye,
nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe
nog voor iemand jou seergemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring
wat ander die rigting wys in die donker.
Liefde maak van jou ‘n boom
wat koelte gee vir dié wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie, maar gewys.
Liefde kan genees, vertroos, versterk –
al het jy niks om iemand te bied nie,
maar jy het Liefde wat geld nie kan koop nie,
is jy die rykste mens op aarde!

[Dankie, Nerine, dat jy ons net weer daaraan herinner.]

150 genadejare: Feesboekmerke - Toe en nou

Welkom aan al die nuwe besoekers wat so lekker kuier

En daar kry ons blitsvinnig 'n 1090-blogkuiers
op een dag.

Die Here sal julle seën ...

Ek wil vir elkeen met die Priesterlike Seën soos ons dit vind in Numeri 6:24-26 seën:

24 Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25 die Here sal tot julle redding
verskyn en julle genadig wees;
26 die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
AMEN

Saturday 16 April 2022

Blomvreugde

Dankie aan die groepie dames wat verantwoordelik is vir die blomme in die kerk ... Blomme maak die lewe mooi, dit beteken baie vir mense en soos die spreekwoord ons so dikwels daaraan herinner: Gee die blomme terwyl mense nog lewe. Die blomdames of blommemeisies wat elke Sondag verantwoordelik is vir die blomvreugde in die kerk is:
Carina Badenhorst 
Elize du Plessis 
Martie Viljoen
Liesl Brown

Rekord aantal besoekers: Meer as 'n 1000 in twee dae!


Statistiek van Februarie, Maart en April se
kuiergaste van oraloor

150 genadejare: Die orrelis met die langste jare diens in Dutoitspan-gemeente

'n Kort terugblik na Dutoitspan se orrelistes voordat daar iets oor mev. Remerta (AR) van der Westhuizen, die orrelis wat sinoniem met Dutoitspan-gemeente was, gesê word.

1940 staan uit in Dutoitspan-gemeente se musiek-annale. Dit is die jaar wat die orreltjie geëlektrifiseer is en na die nuwe kerk verskuif is. Die orrelis op daardie stadium was mej. Collard wat tot Mei 1945 die gemeente begelei het en die kerkkoor afgerig het.

Tussen Junie 1945 tot einde April 1947, toe mev. Van der Westhuizen aangestel is as orrelis, het mejj. Lorna Bothma, Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel.

Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, was mev. Van der Westhuizen vir meer as 25 jaar lank die orrelis en was sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land nie, maar sy het ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kon nadoen. Die kerkkoor het dikwels uitnodigings gekry om by spesiale geleenthede op te tree. Sy het selfs die kerkkoor aan talle kunswedstryde laat deelneem, en die strawwe kompetisie ten spyt, het hulle sonder uitsondering, altyd met die louere weggestap.

Die volgende belangrike musiekdatum was Maart 1956 toe die herboude en vergrote orrel waarvan die koste 3 000 pond (R6 000) beloop het, ingewy is. Die 457 pype van die ou orrel is tot 'n totaal van 1 209 pype aangevul. Die fondse vir die klokkespel wat later spesiaal ingebou is, is ingesamel deur die koorlede. Hulle het konserte, opvoerings en met spesiale optredes die nodige geld ingesamel. Hulle was nie verniet so gesog in Kimberley nie. Tydens die inwyding het mev. Van der Westhuizen, saam met haar koor vir 'n pragtige kantate-uitvoering en musiekprogram gesorg.

Mev. AR van der Westhuizen was tot aan die begin van 1979 die orrelis van Dutoitspan. Na 33 jaar agter haar geliefde orrel, besluit sy en haar man om na 'n aftree-oord in die Strand te verhuis, om nader aan hulle seun te wees. Haar liefde vir kore en koormusiek, het haar Strand toe gevolg. Sy het o.a. 'n koor in die aftreeoord op die been gebring, die orrel tydens eredienste bespeel en musiekprogramme in die aftreeoord gereël.  Mev. Van der Westhuizen was baie diep in haar negentigs, toe sy nog musiek aktief beoefen het.

Sy het al die jare by Diamantveld Laerskool musiek gegee en baie van die kinders wat musiek geneem het, het die skool gekies omdat mev. Van der Westhuizen die musiekonderwyseres was. Natuurlik het sy ook die skoolkoor afgerig en hulle het met die een prys na die ander op musiekkompetisies weggestap.

Mev. Van der Westhuizen se seun, Pieter, was deel van die komitee wat verantwoordelik was vir die vernuwing van die 1978-Psalm- en Gesangboek. Op daardie stadium was hy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar kleindogter, Pieter se dogter, is die wêreldberoemde Anmari van der Westhuizen, medeprofessor en hoof van die OSQ by die Universiteit van die Vrystaat.

Mev. Van der Westhuizen het lank voor Google geleef, maar koerantberigte en YouTube-video's van haar kind en kleinkind is maklik opspoorbaar.

Hier is enkele adresse vir diegene wat daarin belangstel.

In die Kerkbode van 22 Oktober 2021 is daar 'n pragtige stukkie oor Oom Pieter, wat vanjaar 90 jaar oud geword het. Lees HIER.

'n Baie kompakte agtergrond van Pieter van der Westhuizen: Lees HIER.

The activities of Canticum Novum: Lees HIER.

Klank en Klassik-konserte in Bloemfontein: Lees HIER.

Romantic Sonatas CD Preview: Luister HIER.

OSM TV Marius Coetzee interviews Prof. Anmari van der Westhuizen, OSM Cello Lecturer, and HOD of the Odeion String Quartet. Kyk HIER.


Gaan lees: Die geskiedenis van die orrel. Klik HIER 
Lees ook: Die kerksaal - inwyding. Klik HIER
Het jy geweet van: Dutoitspan se noot vir 'n noot ... Klik HIER
Daar is ook nog: Musiekjuwele ... Klik HIER

Sondag: Sonsopkomsdiensby Rooifontein


Kom woon hierdie besondere diens by waar die week se verrigtinge afgesluit word, en waar ons lewe herdenk.

Wat sê ons Sondag vir mekaar ?

Ons sê dat die wonderwerk van Paasfees is nie net dat ons na ons dood opnuut sal lewe nie, maar dat ons deur die onbeskryflike groot krag van Jesus se opstanding nou reeds volkome nuut kan lewe.

En daarom kan elkeen van ons hierdie wêreld help vernuwe - ons het 'n verantwoordelikheid!!

Kom ons vier die nuwe lewe saam met Jesus in hierdie gebroke wêreld.

Soli Deo Gloria!!!