Saturday 23 April 2022

150 genadejare: Schalk Pienaar - die langsdienende kassier (Julie 1961 - Julie 2016)


In die Noord-Kaapland eNuus skryf hulle 'n artikel oor die ononderbroke diens van Schalk Pienaar en verwys daarna as 'n besondere mylpaal in die geskiedenis van die NG Kerk.

Hoe het hy in die kerkkantoor van Dutoitspan beland? 

Schalk en Jane Pienaar het in Julie 1958 in Dutoitspan-gemeente ingetrek. Nie lank daarna nie, het ds. Smit, die gemeente se predikant op daardie stadium, as argivaris na Kaapstad vertrek. Ds. WJ Steenkamp, van Olifantshoek, het ds. Smit as predikant opgevolg.

Die kassier op daardie stadium was Andries Combrinck. Hy was kassier van 1957 tot 1960. Hy word skielik verplaas en mnr. Saly Beukes neem as kassier oor. Ongelukkig kon hy net 'n paar maande aangaan, tot Junie 1961, toe hy ook verplaas word. Die skriba- en kassierwerk is deeltyds gedoen deur werkende persone, sodat die kerk nie 'n salaris aan die persone hoef te betaal nie. Hulle het slegs 'n honorarium gekry. Dutoitspan was nog nooit 'n ryk gemeente nie en moes in die verlede, net soos nou, sy sente omdraai om al die gate toe te stop.

Ds. Steenkamp het toe vir Schalk genader en gevra of hy bereid sal wees om oor te neem as kassier, aangesien hy op daardie stadium die enigste een in die gemeente was, wat 'n boekhouer was. Hy is aan die begin van Julie 1961 in die pos aangestel.

Op daardie stadium was Piet Labuschagné, 'n onderwyser van beroep, die skriba van Augustus 1955 af. Na Piet se aftrede, het Schalk ook die skriba-deel gedoen. Tot en met 2011 was hy die skriba-kassier en het Schalk altesaam met 13 predikante saamgewerk. Elmie Bean het as skriba in Oktober 2011 by Schalk Pienaar oorgeneem.

Hy het nie agtergebly toe rekenaars opdaag nie en in 1989 al ingespring en geleer om daarmee te werk. Daar was nie eintlik baie ouer mense wat daarvoor kans gesien het nie; te meer nog om by die kollege in te skryf vir rekenaarkursusse. Hy was die oudste student wat die N4- tot N6-rekenaarpraktykeksamens geslaag het en toe mense hulle oë uitvee, het Schalk ál sy kerkwerk gerekenariseer gehad voor Finkerk en Winkerk, die huidige rekenaarsagteware, opgedaag het.

Hy was 'n ywerige blogger. Vanaf 2013 het hy begin om Dutoitspan se kerkgeskiedenis op te teken. Hy het op daardie stadium besef dat die gemeente nie 'n webwerf het nie en dat geskiedenis verlore kan gaan. Maar hy wou steeds die ruimte vir die kerk laat om ter gelegener tyd hulle eie webwerf te begin en daarom het hy die blog net Dutoitspan Kimberley genoem en nie NG Kerk Dutoitspan Kimberley nie. Gaan kyk bietjie by https://dutoitspan.blogspot.com/. Schalk het dus in Clint Eastwood se liga gespeel wat gesê het: "Soos ons ouer word moet ons onsself dissiplineer om aan te hou leer en ons gedagtes en breine aktief te hou."

Hy was die gentleman met die das, baadjie en die Engelse pet. Passie, toewyding, geloof en opregtheid was die pilare waarop sy liefde vir sy werk gerus het. Hy het altyd gesê dat hy hierdie werk vir die Here doen en nie vir mense nie. Ds. Richard Holloway het gesê dat Schalk Pienaar 'n mentor vir menige predikant was, sonder dat hy dit geweet het.  Hy was inderdaad 'n man wat sy geloof in dade uitgeleef het.

Na 55 jaar ononderbroke diens het hy afgetree en op 24 Julie 2016 het die gemeente vir hom 'n afskeidsfunksie gegee. 

Lees: Skriba tree uit na 55 jaar. Klik HIER 
Lees ook: Die pos het my gekies ... Klik HIER

Johan Genis (kassier), Elsa Minne (koster), Elmi
Bean (skriba) ds. Kobus Klopper en Schalk Pienaar.
Boonste foto: Joe Fredericks (jarelange tuinier)