Wednesday 27 April 2022

150 genadejare: Die feesruikers


Die uniekheid van die protea, maak dat die blom spreekwoordelik kop en skouers uitstaan bo die ander blomme. Dit trek onmiddellik aandag, ongeag hoeveel ander blomme in 'n vertrek is. 

Sondag se feesruikers in die kerk het hulle eie unieke kragtige woordelose boodskap met die gemeentelede en besoekers gedeel en so die boodskap van ds. Richard Holloway (Jy is gesien ... jy word gesien) versterk. Almal het die rooi protearuikers gesien, waardeer en daarmee saam ook die ruikerboodskap van uithouvermoë, moed, gehardheid, diversiteit, durf en transformasie verstaan - die gemeente se pad die afgelope 150 jaar.  

150 jaar het opofferinge op vele terreine van die lidmate gevra, maar ook moed en deursettingsvermoë en uithouvermoë waar voorspoed nie 'n gegewe is nie en uitkoms nie altyd voor die hand liggend was nie. Die uniekheid van die gemeente lê in die diversiteit daarvan en dat gemeentlede oor dekades heen altyd op een of ander manier uitgereik het, vandaar al die uitreikaksies wat in die annale van die gemeente opgeteken is. Dit alles en soveel meer is in een ruikerboodskap opgesluit.

Baie dankie aan die twee blomdames, Carina Badenhorst en Liesl Brown, wat vir die ruikers verantwoordelik was. Die hoendervleismooi storie is dat hulle mekaar nie gekontak het oor wat hulle gaan doen nie, maar dat hulle dieselfde blomme gebruik het vir die kerkruikers.  

Kerkruikers


Bankruikers




Voorportaalruikers


Lees ook HIER.
Foto's: Elsa Minne en Alda Welman