Friday 1 April 2022

Gemeente-ete: 6 Maart 2022



Ons gemeente is lief om saam te kuier en saam te eet! En na die afgelope twee jaar van baie versigtig in ons spoor trap om nie enige Covid-reëls te oortree nie, het ons 6 Maart 2022 daarvoor vergoed deur 'n heerlike gemeente-ete te hou.

Die manne het hulle kant gebring met die smaaklike steaks, volgens individuele spesifikasies gebraai. Die braaiers wat nie bang is om 'n voorskoot om te hang nie, was Malan Smith, Fanie Minne en Jannie Stroebel. Die proefkonyn, gecoller en getie, aan die linkerkant was heel in sy skik met verloop van sake.

Heerlike bykosse en poeding het hierdie lipaflek-lekker ete voltooi. Dankie aan elke gemeentelid wat gewerk het, bydraes gemaak het en bowenal kom saameet het. Ons maak weer so Saterdagmiddag, 23 April, met die potjiekoskuier by Rooifontein, asook die volgende dag na die nagmaal (Sondag 24 April). Merk hierdie datums vroegtydig op jou kalender en kom kuier saam.

Kaartjies beskikbaar by die kerkkantoor: 053 0842 1100

[Foto's: Elsa Minne]