Saturday 2 April 2022

150 genadejare: Prokureur Van de Wall en Sally Aucamp

Prokureur Henry van de Wall was 'n bekende prokureur in Kimberley. Hy het die firma, Van de Wall en vennote in 1960 gestig. (Dis nou bekend as Van de Wall Inc) Hy en sy vrou het in Cassandra in 'n baie groot huis met die naam Ruimte gebly. Hy was op die kerkraad van Dutoitspan en het die gemeente met raad en daad bygestaan. Nooit het hy 'n sent vir sy regsadvies gevra nie en het dit as deel van sy gemeenskapswerk beskou. Alhoewel die term "gemeenskapswerk" nie in daardie tyd so 'n algemene term soos vandag is nie, het hy en sy vrou so in die agtergrond 'n klomp werk gedoen. Sy vrou, Trudie, was 'n maatskaplike werkster, wat orals baie bemind en geliefd was. Sy is in 'n motorongeluk dood op die pad tussen Griekwastad en Kimberley. Hy is later weer getroud en die tweede mev. Van der Wall was weer aktief betrokke by die ouetehuis, Ons Huis, wat ook binne die grense van die gemeente val. By die voordeur van Ons Huis is 'n gedenkplaat met die woorde: "June van de Wall Oktober 1974-Junie 1992. Altyd in diens van haar medemens."

Prokureur Van de Wall het 'n groot rol gespeel in die aankoop van die destydse ouetehuis, wat regoor die kerk was en hy het die oordragkoste gedra. Vandag staan daar vier meenthuise op die grond, nadat die ouetehuis na Ariadnelaan verskuif het.

Toe die gemeente 'n tweede pastorie in Blackingstraat in 1979 aangekoop het, het hy ook hierdie kooptransaksie en die oordragkoste hanteer.

Vandag is Ruimte sy nalatenskap aan Kimberley. Hy het dit geskenk met die doel dat dit omskep word in 'n tehuis vir volwasse gestremde mense. Sally Aucamp, die huidige naam, is afhanklik van skenkings en borge van die publiek.

Prokureur Henry van de Wall het diep spore in Kimberley getrap en na al die jare het die naam van sy praktyk dieselfde gebly, al het dit van eienaar verander ...