Showing posts with label Ds. JH Siebert. Show all posts
Showing posts with label Ds. JH Siebert. Show all posts

Sunday, 1 May 2022

150 genadejare: 1972 se feesdoopouers

Die heilige sakrament van die doop is tydens die Sondag aan die doopouers bedien, wat sommer 'n paar rye voor die preekstoel gestaan het. Hierdie foto is voor die kerk, na afloop van die diens geneem en het ook in die koerant verskyn. Hierdie eeufees-doopbabatjies het 'n spesiale Bybel as geskenk ontvang.


Hier is drie van die ouerpare in die kerk afgeneem voor die nuwe kanselkleed vir 1972.

Hannetjie en Tony Pride, ds. Siebert, Hendrik en
Sue Uys en Thys en Baby van Lingen.

Saturday, 5 March 2022

150 genadejare: Ds. en mev. JH Siebert (08/12/1968 - 31/12/ 1973)

Die ontvangs, verwelkoming en bevestiging van die predikantspaar was gedurende die naweek van 6-8 Desember 1968. In hierdie dae het die beroep van 'n predikant anders gewerk as deesdae. Hoe ds. Siebert van Ysterplaat-Suid se naam op die beroepslys geland het, kon niemand verklaar nie. Geeneen van die kerkraadslede het hom geken nie en na die geslote stemming, het sy naam die meeste stemme gehad. 'n Gestuurde dus van Bo.

Sommer reg aan die begin is ds. en mev. Siebert met spesifieke uitdagings in die gemeente gekonfronteer, onder andere, 'n slegte finansiële situasie, baie skuld, sommige wyke wat diakenloos was, en 'n onwilligheid om op die kerkraad te dien. Dit het gelei tot die verlies van maandelikse dankoffers, en swak kerkbywoning, veral aanddienste, ten spyte van 'n groot lidmaattal waarvoor die kerkgebou te klein sou raak.

Ds. Johnny Siebert het geen steen onaangeroer gelaat nie. Die diakenprobleem is eerste aangespreek, sodat die maandelikse dankoffer op 'n gereelde basis deur diakens in al die wyke geïn kon word. Strategieë is uitgewerk hoe om fondse op ander maniere, buite die grense van die gemeente, te genereer. Die gemeentesusters wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale.

Ds. Siebert het ook sy eerste twee salaristjeks vir die gemeente teruggegee, want hy wou nie 'n salaris vat van 'n gemeente wat dit nie op daardie stadium kon bekostig het nie. Die kerkraad was bewus van hierdie gebaar en ook bekommerd oor hulle herder se finansiële posisie. Die gemeente het egter nie weer teruggekyk nie. Onder die pastoriepaar se simpatieke leiding het die finansiële situasie van die gemeente spoedig verbeter.

Die bywoningsyfer van die kerkdienste het toegeneem en spoedig het ds. Siebert vier dienste op 'n Sondag gehou. Twee dienste in die oggend, met die Sondagskool wat tussen die twee dienste gehou is, 'n diens by Ons Huis, die ouetehuis binne die gemeentegrense en dan die aanddiens. Tydens beide oggenddienste is stoele ingedra en die meeste van die tyd het die kerkraadslede in die konsistorie gesit tydens die oggenddienste, sodat daar nog plek in die kerk beskikbaar kon wees. Besoekers van ander gemeentes en kerke was 'n algemene gesig.

Die jaarlikse dankofferbasaar het gegroei tot 'n baie groot gebeurtenis. Ds. Siebert het op dié betrokke Saterdagoggend reeds om 04:00 begin bid vir die dag se verrigtinge. Later jare het van die kerkraadslede saam met hom gebid. Hierdie baie vroeë biduur is gevolg deur die aansteek van die vure om 05:00. Die basaar het die hele dag geduur, met Kimberliete wat van oraloor kom saamkuier het. Hier teen 17:00 is 'n dankbiduur gehou en 19:00 was daar 'n filmvertoning in die saal, wat intussen reggepak is en skoongemaak is. Dié vlytiges was die KJV (Kerkjeugvereniging) en die diakens. Basaarpoedings, koffie, tee en koeldrank is weer tydens die pouse verkoop. So teen tienuur is die saal se deure gesluit na 'n baie genoeglike dag.  

Die gemeente sou sy 100-jarige bestaan in 1972 vier. Die kerkraad het egter besluit dat daar geen feesvieringe sou wees, indien die kerk se skuld nie afgewerk is nie. Gedurende 1970 kon die gemeente reeds begin met die opknapping van die kerkgeboue en moes daar dringend na die uitleg van die tuin gekyk word. Daar is 'n boorgat gesink aan die agterkant van die saal, wat die waterrekening in die kerk se guns laat swaai het.

Vroeg in 1971 was alle herstelwerk klaar. Die ou kerkbanke is vervang met ronde banke, daarmee is die sitplektal met meer as 150 vermeerder. Die ou kerkbanke is aan gemeentelede of belangstellendes verkoop om fondse in te samel. Daar was egter meer kopers as banke in die kerk. Mense het die bank gekoop waarop hulle gewoonlik gesit het.

Die ou kansel is vervang met die huidige kansel wat beter by die ronde kerkbanke pas. Die buitetoilette langs die konsistorie is aangebou omdat daar groot hoeveelhede mense tydens die feesvieringe verwag is.

In hierdie breek-en-bou-tyd in 1970, is die eredienste in die saal voortgesit. Ds. Siebert het vir mev. Van der Westhuizen, die orrelis, afgegee en sommer self die gemeente begelei tydens elke erediens. Die klavier (wat vandag nog in die gemeente diens doen) het langs die kateder op die verhoog gestaan en daar het die gemeente ook bewus geword van die dominee se musiektalent.

12 dakwaaiers is geïnstalleer in 'n poging om die Kimberley-hitte te temper. Nuwe matte is in die kerk en konsistorie gelê, nuwe blindings is in die kerk aangebring, die orrel is gediens, gordyne is voor die boonste venstertjies van die saal gehang, en 'n stoorkamer is aangebou.

Die stadsraad het sementblokke op die sypaadjies reg rondom die kerk gelê. Die kerkkompleks het 'n totale verjongingskuur ondergaan. Dutoitspan kon met 'n ligte gemoed die eeufeesjaar binnegaan, want daar was geen skuld nie, selfs die verbeteringe wat aangebring is, was klaar betaal.    

Die kerkraad het die geskiedenis van die kerkgebou laat herleef deur die verskillende stadiums uit te beeld op verskillende vlotte. Ook hier het die gemeente se mans moue opgerol en is daar getimmer, gesaag en geverf in die aand. Presiese replikas van die tentkerk, sinkkerk en die vorige steenkerk, saam met die huidige kerkgebou is gebou en foto's van die vlotte kan op die kerk se blog besigtig word. Van die geboue is aan Kimberley se oopmynmuseum geskenk om daar uitgestal te word.

[https://dutoitspan.blogspot.com/p/eeufeesvieringe-1972.html]      

Aan die einde van 1973 het ds. Siebert 'n beroep na Murraysburg toe aanvaar. Vir die gemeente het dit op daardie stadium soos 'n doodstyding gevoel. Daar is egter voortgebou op die goeie werk wat hulle in Dutoitspan-gemeente gedoen het.
Ds. en mev. Siebert met Hannes (agter) en Igno (voor)

Wednesday, 25 April 2018

Gemeentestaaltjies: Die man wat nie verby die poedingtafel geloop het nie...

Dominee JH Siebert was baie lief vir basaarpoeding... en ook vir roomys.☺ Die eerste tafel wat hy ondersteun het nadat hy die basaar geopen het, was die poedingtafel. Basaarpoeding smaak mos baie anders as huispoeding... En basaarvla oor die poeding smaak ook anders... (of dalk lê die smaak in die samesyn?)

En so tussendeur as hy verby die poedingtafel loop, is dit net asof die poedings met hom praat en kort voor lank, het hy nog 'n bakkie poeding gekoop. Die baktannies in die gemeente is gewoonlik verdeel tussen die poedingtafel, die kleinkoekietafel en die grootkoektafel.

En dan was daar tannie Alers... Sy het oor die jare honderde bakke "trifles" (koekstruif val nie so lekker op die oor nie) vir die basaar gemaak. Haar trifles was legendaries en party Kimberliete het net vinnig 'n bak trifle by die basaar kom koop. Hierdie trifles het nooit op die poedingtafel gestaan nie, maar altyd op 'n tafel agter teen die muur... almal klaar verkoop. As jy nie voor die tyd jou naam op die lys gesit het nie, moes jy maar tot volgende jaar wag vir 'n saampraat-trifle-ervaring.

Tannie Alers het vreeslik moeite gedoen en die een trifle het soos die ander een gelyk - kunswerke. Bo-op die laaste laag room, het sy dit versier met 'n "stillewe"  van jellieblommetjies en -blaartjies wat sy baie noukeurig in vorms gestol het... rooi en groen (amper soos die blommetjies wat 'n mens op vrugtekoeke kry) en dan so 'n laaste vurkpatroon in die room - net asof sy 'n lyn onder hierdie kunswerk trek! Sy het altyd die trifles in oranje en blou plastiese bakke gemaak (al wat in die jare 60's en 70's beskikbaar was. Ek gebruik vandag nog die skottels om my groente in af te spoel!)

En nooit in al die jare was was haar trifles deel van die inhoud van die klein poedingbakkies nie! Dit is opgeraap, lank voordat dit daar kon kom. Ek het so bietjie navraag gedoen en ek plaas so twee of drie van die gewildste basaarpoedingresepte van daardie jare!!!    

Pienk basaarpoeding AARBEIGEUR
1 pakkie aarbei-jellie
1 koppie kookwater
1 koppie Ideal-melk
Metode:
Los die jellie op in die kookwater.
Klits die Ideal-melk styf en voeg dan die afgekoelde jelly-mengsel by
Klits goed deur en plaas in die yskas om te stol
Variasie: Gebruik 'n blikkie kondensmelk i.p.v. ideal-melk.

Skuimjellie vir die basaar
1 pakkie jelliepoeier
250 ml kookwater
250 ml ysblokkies
Metode:
1. Los die jelliepoeier in die kookwater op en laat vir 15 minute staan sodat dit 'n bietjie kan afkoel.
2. Plaas die ysblokkies een vir een in die jellie en klits vinnig tot al die blokkies gesmelt is.
3. Daar sal nou 'n skuimlaag op die jellie wees.
4. Plaas skuimjellie onmiddellik in die yskas om te stol. 

Kleurvolle jellie vir die basaar
1 pakkie groen jellie
1 pakkie geel/oranje jellie
1 pakkie rooi jellie, aangemaak volgens aanwysings op die pakkie en gestol in die yskas.
1 blikkie kondensmelk
125 ml suurlemoensap
Metode: 
Sny die jellie in blokkies en skep deurmekaar in ‘n mooi glasbak. Meng die kondensmelk en suurlemoensap tot dik… 
Gooi oor die jellie.   

☺Dis 'n storie vir 'n ander dag!

Friday, 5 January 2018

Gemeentestaaltjies: 'n Ouderling met 'n talent...

Van ouderling Hawie gepraat, hy was 'n man van vele talente...

Die magnetiese veld van die aarde werk op baie mense en oom Hawie was een van hulle -  hy kon water wys! Kort nadat ds. JH Siebert in 1968 in die gemeente begin werk het, het die kerkraad besluit om te boor vir water.

Oom Hawie het die betrokke dag eers met 'n stok en daarna met 'n bottel water geloop... Voetjie vir voetjie het hy agter die kerksaal geloop... die ene konsentrasie in die maer lyf. Ondergrondse water werk op hom, dis 'n gawe wat hy het en wat hy tot voordeel van die kerk gaan aanwend... die plek waar hulle kan boor, word gemerk.

Mev. Siebert het ook geloop en alhoewel sy ligte tekens van ondergrondse water gekry het, was dit nie naastenby so sterk soos oom Hawie s'n nie.

Tot almal se groot vreugde word sterk water gekry en die boorgat voorsien vandag nog die kerkgronde van water!  

Wednesday, 18 October 2017

Gemeentestaaltjies: Staaltjies uit die sestigers...

Mev. Smittie van der Westhuizen
Mev Smittie van der Westhuizen was 'n vrou met verskuilde talente. Sy het die binnewerke van 'n motor se enjin geken en as sy in haar sweetpak ingeklim het, met geen haar van haar kapsel uit sy plek nie - was dit nie lank nie, of die motor is weer padvaardig. Sy was verantwoordelik dat mev. Frieda Siebert (ds. Siebert se vrou) se blou Morris op die pad gebly het.


As dit tyd was dat die Morris gediens word, sal jy vir Smittie onder die enjinkap van die motor by die pastorie kry, besig om in die laat sestiger jare te doen wat nie algemeen bekend was as werk vir vroue  nie. (As ek nou terugdink... dan was sy haar tyd dekades vooruit!)    

Sunday, 24 September 2017

Gemeentegeskiedenis: Dutoitspan se uitreik oor gemeentegrense heen...

Dutoitspan was nog altyd 'n uitreik-gemeente. Gaan kyk 'n mens na sy ontstaanwortels, is dit duidelik dat die gemeente begin het a.g.v. die groot groep delwers wat hier gewerk het. (In De Kerkbode van 24 Februarie 1872 is daar geskryf dat 'n komitee gekies is om die belange van die kerk daar te behartig.)

'n Kerktent is opgerig en die geld wat tydens dankoffer ingesamel is, is onder andere gebruik om die brandstofonkostes van die besoekende leraars te dek en die res het vir die behoeftiges en die noodlydendes in die gemeente gegaan.

Hierdie delwers was soos hulle produk - ru en ongeslyp en daarom moes dié kerk nog altyd uitreik, voete was en dienaar wees.

"As ek aan die gemeentesusters dink wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, dink ek aan 'n ywerige en hardwerkende groep vrouens. Hulle het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale. Al die fondse wat hulle op hierdie manier ingesamel het, het hulle vir sendingwerk aangewend.
DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)

Die Mannesendingbond (MSB) het nie agterweë gebly nie. Hierdie groep manne was verantwoordelik vir die salarisse van Evangelis Sello en Evangelis Selepi van Galeshewe, asook ds. Sukdaven van die Dutch Reformed Church. Aanvanklik het hulle ds. Sukdaven finansieel bygestaan om hom as leraar te bekwaam. Hierdie predikers het dan ook op 'n gereelde basis aan die sendingaksies verslag gedoen oor hulle werksaamhede.

Ds. Sukdaven het elke Donderdag/Vrydag samoesas afgelewer by almal wat bestel het. Dit was deel van hulle fondsinsamelingsprojek. Die VSB van Dutoitspan was betrokke by o.a. die basare en van die Dutoitspanners het gereeld van die eredienste bygewoon, wat op daardie stadium in ds. Sukdaven se garage gehou is. (Dis waar hierdie gemeente sy beskeie begin gehad het.)

Ons het ook die voorreg gehad om die doopplegtigheid van een van ds. Sukdaven se kinders by te woon. Na die doopplegtigheid het ons aangesit aan 'n pragtig gedekte tafel aan huis. (Ek het al dikwels gewonder of dit die bekende Maniraj Sukdaven, die dosent by die universiteit, is.) Mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz en Jane Pienaar was nou betrokke by vele geldinsamelingsprojekte en werksaamhede hier.

Ds. Dawie Pypers was 'n ou bekende en gereelde prediker in Dutoitspan-gemeente. Hy het ook die gemeente ingelig gehou van die werk onder die Indiërs. Nie almal was gediend met dié aksies nie en daar was gemeentelede wat sou uitstap. Ds. Dawie Pypers is deur die NGK aangewys om onder die Moslems te werk. Hy het werklik oor uitsonderlike pastorale vermoëns beskik. In die vroeë 1968 is die RCA-gemeente in Kimberley begin.

Mnr. en mev Ross (kosterspaar)  
Mev. Ethel Ross (o.a.koster van die gemeente) was 'n sendeling in murg en been. Sy was een van die Kinderkransleidster wat die langste betrokke was by die Kinderkrans. Sy was die leidster by die tak wat by die gemeentesaal gehou is. Daar was nog twee ander Kinderkranstakke in die gemeente (buitewyke) - een in Electrapark o.l.v. mev. Soes Uys en een in Cassandra o.l.v. mev. Di Westley. Afstand was 'n faktor en hierdie takke het af en toe met spesiale geleenthede saam vergader. Sentleggings was op daardie tydstip 'n gewilde manier om geld in te samel wat dan vir Sendingwerk aangewend is.

Mev. Ethel Ross het ook begin om garagedienste, een maal per week, vir al die inslaapwerkers aan te bied. (So in die laat 1960's) Hierdie bidure en Bybelstudies is afwisselend by die pastorie in Connollyplek en mev. Judith Swart se huis in Blackingstraat gehou. Hierdie projek het sy vir baie baie jare alleen bedryf en met haar dood, het hierdie projek ook 'n stille dood gesterf.

Vanaf 1969 tot 1973 het mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz, Jane Pienaar, Ethel Ross, Smittie van der Westhuizen en M Rhoodie na die koorkompetisies in Galeshewe gaan luister - selfs op 'n Vrydagaand... Dit was soveel vrouens as wat mev. Siebert in haar grys Peugot Stasiewa kon laai... Dit het plaasgevind in die gemeentes waar die evangeliste gearbei het, wat deur die MSB betaal is.

Ek kan my herinner dat daar geleenthede was dat susters van die nou NGKSA saam met die vrouens van die VSB op 'n Woensdagoggend saam tee gedrink het. Hierdie interkerklike uitreik het op 'n nie-gereelde basis plaasgevind in ds. Johnny Siebert (September 1968 - Desember 1973) se tyd.

In hierdie tyd het ouderling AJ van der Merwe se dogter, Daleen, geroepe gevoel om sendingwerk te gaan doen en daar is tydens 'n baie spesiale erediens ook 'n Bybel aan haar oorhandig, voordat sy vertrek het. Sy is met 'n predikant getroud.

In dominee Hennie de Wet ( Oktober 1974 tot April 1984) se tyd, is die sendingpaar in die destydse Transkei, ds. en mev. Van Schalkwyk, finansieel ondersteun in soverre dit in die VSB se vermoë was.
DIE BESTUUR VAN DIE VROUESENDINGBOND
Voor: Mevv. C Gericke, M Rhoodie, J Pienaar (sekretaresse), F Siebert 
(president), M Joubert (visepresident), J Fraser (tesourier), A Harmse.
Agter: Mevv. E Ross, A van der Westhuizen, D Westley, A Ebing, 

M le Roux, M van Vuuren, A Laten en D Coetzer.

Uitreik na kinderhuise, die ouetehuis en die huis vir volwasse gestremdes, binne die grense van die gemeente, was normaal.

'n Gemeente wat nie uitreik nie, is soos die Dooie See...

[http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/01/die-mooiste-taal-van-afrika/]