Wednesday 25 April 2018

Gemeentestaaltjies: Die man wat nie verby die poedingtafel geloop het nie...

Dominee JH Siebert was baie lief vir basaarpoeding... en ook vir roomys.☺ Die eerste tafel wat hy ondersteun het nadat hy die basaar geopen het, was die poedingtafel. Basaarpoeding smaak mos baie anders as huispoeding... En basaarvla oor die poeding smaak ook anders... (of dalk lê die smaak in die samesyn?)

En so tussendeur as hy verby die poedingtafel loop, is dit net asof die poedings met hom praat en kort voor lank, het hy nog 'n bakkie poeding gekoop. Die baktannies in die gemeente is gewoonlik verdeel tussen die poedingtafel, die kleinkoekietafel en die grootkoektafel.

En dan was daar tannie Alers... Sy het oor die jare honderde bakke "trifles" (koekstruif val nie so lekker op die oor nie) vir die basaar gemaak. Haar trifles was legendaries en party Kimberliete het net vinnig 'n bak trifle by die basaar kom koop. Hierdie trifles het nooit op die poedingtafel gestaan nie, maar altyd op 'n tafel agter teen die muur... almal klaar verkoop. As jy nie voor die tyd jou naam op die lys gesit het nie, moes jy maar tot volgende jaar wag vir 'n saampraat-trifle-ervaring.

Tannie Alers het vreeslik moeite gedoen en die een trifle het soos die ander een gelyk - kunswerke. Bo-op die laaste laag room, het sy dit versier met 'n "stillewe"  van jellieblommetjies en -blaartjies wat sy baie noukeurig in vorms gestol het... rooi en groen (amper soos die blommetjies wat 'n mens op vrugtekoeke kry) en dan so 'n laaste vurkpatroon in die room - net asof sy 'n lyn onder hierdie kunswerk trek! Sy het altyd die trifles in oranje en blou plastiese bakke gemaak (al wat in die jare 60's en 70's beskikbaar was. Ek gebruik vandag nog die skottels om my groente in af te spoel!)

En nooit in al die jare was was haar trifles deel van die inhoud van die klein poedingbakkies nie! Dit is opgeraap, lank voordat dit daar kon kom. Ek het so bietjie navraag gedoen en ek plaas so twee of drie van die gewildste basaarpoedingresepte van daardie jare!!!    

Pienk basaarpoeding AARBEIGEUR
1 pakkie aarbei-jellie
1 koppie kookwater
1 koppie Ideal-melk
Metode:
Los die jellie op in die kookwater.
Klits die Ideal-melk styf en voeg dan die afgekoelde jelly-mengsel by
Klits goed deur en plaas in die yskas om te stol
Variasie: Gebruik 'n blikkie kondensmelk i.p.v. ideal-melk.

Skuimjellie vir die basaar
1 pakkie jelliepoeier
250 ml kookwater
250 ml ysblokkies
Metode:
1. Los die jelliepoeier in die kookwater op en laat vir 15 minute staan sodat dit 'n bietjie kan afkoel.
2. Plaas die ysblokkies een vir een in die jellie en klits vinnig tot al die blokkies gesmelt is.
3. Daar sal nou 'n skuimlaag op die jellie wees.
4. Plaas skuimjellie onmiddellik in die yskas om te stol. 

Kleurvolle jellie vir die basaar
1 pakkie groen jellie
1 pakkie geel/oranje jellie
1 pakkie rooi jellie, aangemaak volgens aanwysings op die pakkie en gestol in die yskas.
1 blikkie kondensmelk
125 ml suurlemoensap
Metode: 
Sny die jellie in blokkies en skep deurmekaar in ‘n mooi glasbak. Meng die kondensmelk en suurlemoensap tot dik… 
Gooi oor die jellie.   

☺Dis 'n storie vir 'n ander dag!