Showing posts with label Mev. AR van der Westhuizen. Show all posts
Showing posts with label Mev. AR van der Westhuizen. Show all posts

Saturday, 16 April 2022

150 genadejare: Die orrelis met die langste jare diens in Dutoitspan-gemeente

'n Kort terugblik na Dutoitspan se orrelistes voordat daar iets oor mev. Remerta (AR) van der Westhuizen, die orrelis wat sinoniem met Dutoitspan-gemeente was, gesê word.

1940 staan uit in Dutoitspan-gemeente se musiek-annale. Dit is die jaar wat die orreltjie geëlektrifiseer is en na die nuwe kerk verskuif is. Die orrelis op daardie stadium was mej. Collard wat tot Mei 1945 die gemeente begelei het en die kerkkoor afgerig het.

Tussen Junie 1945 tot einde April 1947, toe mev. Van der Westhuizen aangestel is as orrelis, het mejj. Lorna Bothma, Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel.

Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, was mev. Van der Westhuizen vir meer as 25 jaar lank die orrelis en was sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land nie, maar sy het ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kon nadoen. Die kerkkoor het dikwels uitnodigings gekry om by spesiale geleenthede op te tree. Sy het selfs die kerkkoor aan talle kunswedstryde laat deelneem, en die strawwe kompetisie ten spyt, het hulle sonder uitsondering, altyd met die louere weggestap.

Die volgende belangrike musiekdatum was Maart 1956 toe die herboude en vergrote orrel waarvan die koste 3 000 pond (R6 000) beloop het, ingewy is. Die 457 pype van die ou orrel is tot 'n totaal van 1 209 pype aangevul. Die fondse vir die klokkespel wat later spesiaal ingebou is, is ingesamel deur die koorlede. Hulle het konserte, opvoerings en met spesiale optredes die nodige geld ingesamel. Hulle was nie verniet so gesog in Kimberley nie. Tydens die inwyding het mev. Van der Westhuizen, saam met haar koor vir 'n pragtige kantate-uitvoering en musiekprogram gesorg.

Mev. AR van der Westhuizen was tot aan die begin van 1979 die orrelis van Dutoitspan. Na 33 jaar agter haar geliefde orrel, besluit sy en haar man om na 'n aftree-oord in die Strand te verhuis, om nader aan hulle seun te wees. Haar liefde vir kore en koormusiek, het haar Strand toe gevolg. Sy het o.a. 'n koor in die aftreeoord op die been gebring, die orrel tydens eredienste bespeel en musiekprogramme in die aftreeoord gereël.  Mev. Van der Westhuizen was baie diep in haar negentigs, toe sy nog musiek aktief beoefen het.

Sy het al die jare by Diamantveld Laerskool musiek gegee en baie van die kinders wat musiek geneem het, het die skool gekies omdat mev. Van der Westhuizen die musiekonderwyseres was. Natuurlik het sy ook die skoolkoor afgerig en hulle het met die een prys na die ander op musiekkompetisies weggestap.

Mev. Van der Westhuizen se seun, Pieter, was deel van die komitee wat verantwoordelik was vir die vernuwing van die 1978-Psalm- en Gesangboek. Op daardie stadium was hy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar kleindogter, Pieter se dogter, is die wêreldberoemde Anmari van der Westhuizen, medeprofessor en hoof van die OSQ by die Universiteit van die Vrystaat.

Mev. Van der Westhuizen het lank voor Google geleef, maar koerantberigte en YouTube-video's van haar kind en kleinkind is maklik opspoorbaar.

Hier is enkele adresse vir diegene wat daarin belangstel.

In die Kerkbode van 22 Oktober 2021 is daar 'n pragtige stukkie oor Oom Pieter, wat vanjaar 90 jaar oud geword het. Lees HIER.

'n Baie kompakte agtergrond van Pieter van der Westhuizen: Lees HIER.

The activities of Canticum Novum: Lees HIER.

Klank en Klassik-konserte in Bloemfontein: Lees HIER.

Romantic Sonatas CD Preview: Luister HIER.

OSM TV Marius Coetzee interviews Prof. Anmari van der Westhuizen, OSM Cello Lecturer, and HOD of the Odeion String Quartet. Kyk HIER.


Gaan lees: Die geskiedenis van die orrel. Klik HIER 
Lees ook: Die kerksaal - inwyding. Klik HIER
Het jy geweet van: Dutoitspan se noot vir 'n noot ... Klik HIER
Daar is ook nog: Musiekjuwele ... Klik HIER

Monday, 3 December 2018

Musiekjuwele ...

Mev. AR van der Westhuizen het vir baie baie jare op dié musiektydskrif ingeteken. Vanaf die laat 1920's tot die laat 1940's. Die kwaliteit van hierdie tydskrif is baie goed, veral as die ouderdom van die tydskrifte in ag geneem word. Hierdie maandelikse tydskrif is dwarsdeur die Tweede Wêreldoorlog gedruk en oor die wêreld heen versend. 'n Mens wonder onwilllekeurig of hierdie Amerikaanse tydskrif per skip of per vliegtuig versend is.
Hier is 'n paar foto's van die buiteblaaie van die tydskrifte. Mev. Van der Westhuizen het hierdie tydskrifte vir Alda gegee toe sy en haar man Strand toe verhuis het en nou het dit hulle regmatige plek gekry by haar wêreldberoemde kleindogter, wat tans 'n professor in musiek aan die UOVS is.

Die Etude was 'n Amerikaanse tydskrif wat deur Theodore Presser (1848 - 1925) begin is. Die eerste tydskrif is in Oktober 1883 gedruk en die Theodore Presser Maatskappy het voortgegaan om hierdie gespesialiseerde tydskrif uit te gee tot 1957. Tans is die 1930 - 1940-uitgawes so R554,65 werd, afhangende van die toestand van die tydskrif.

Mev. Van der Westhuizen het ook haar eie "biblioteek" gehad. Dit was vir haar belangrik dat haar musiekleerders op hoogte van die komponiste se lewens moes wees. Daarom het sy elke week vir haar leerders 'n boek gegee om te lees en dan moes hulle vir haar die storie vertel. Hierdie agtergrondskennis van die komponiste was volgens haar broodnodig om die musiek beter te verstaan.

 
 
 
 
 
 
 
 


Sunday, 16 September 2018

Geskiedenis: Die orrel

Die eerste musiekinstrument waarvan daar melding gemaak word in die argiewe, is die harmonium wat in 1881 gebruik is met die inhuldiging van ds. en mev. Kriel. Die aanname word gemaak dat met die dienste wat onder die bokseile en in die kerktent gehou is, is daar van voorsangers gebruik gemaak. Met die verwelkoming van proponent Kuhn op 13 Mei 1877, het die Sondagskoolkinders,  o.l.v. mej. Naudé die proponent toegesing.

Met die ontvangs van ds. Kriel op 21 Julie 1881 was daar 'n kerkkoor wat die welkomslied gesing het. Onmiddellik na die inwyding van die nuwe kerkgebou in Desember 1881, tree mev. Kriel as orreliste op wat vir die volgende ses jaar, sonder betaling, die sang van die gemeente op die harmonium lei.

Nadat haar opvolger, mnr. Vos, byna twee jaar die musiekinstrument gratis bespeel het en sy versoek om 'n vergoeding van 5 pond (R10,00) per maand deur die kerkraad geweier is, moes daar vir 'n geruime tyd staatgemaak word op die dienste van vrywilligers.

Intussen het die harmonium se toestand so versleg, dat ds. Perold die kerkraad beweeg het om 'n musiekinstrument aan te koop vir 45 pond (R90,00) en word die bestelling in Januarie 1895 êrens in een van die lande in Europa geplaas. Aan koorsang is toe alreeds baie tyd gewy, sodat met die afskeid van ds. Perold 'n hele aantal koorstukke gelewer is.

In ds. Marais se tyd lees ons van baie aangename en opwindende programme van koorsang onder die bekwame leiding van mev. HO Stiglingh wat vir baie jare die orrel gratis bespeel het. Haar vertrek na Stellenbosch in 1899 was 'n geweldige verlies vir die gemeente. Tydens 'n groot jaarlikse kinderfees op 10 Desember 1911 word daar melding gemaak van die besondere pragtige koorsang. Hiervoor was mnr. Burnett, 'n onderwyser van die plaaslike laerskool, verantwoordelik.

Terwyl daar hierna eers 'n mnr, Anderson die orreltjie bespeel het en daarna 'n mnr. A Ellis wat as 'n baie bekwame man beskrywe is, besluit die kerkraad op aanbeveling van ds. Rabie om 'n nuwe en 'n groter traporreltjie aan te koop. Hy stort dan ook die eerste bydrae van 10 pond (R20,00), wat hy as geskenk van die kerkraad ontvang het, op 'n waarborglys vir die nuwe orrel. 'n Hele aantal van die kerkraadslede doen toe dieselfde. (Ds. Rabie is nie die enigste predikant wat dit gedoen het nie - later meer hiervan.)

Om staanplek vir die nuwe orreltjie en genoeg ruimte vir die koorlede te voorsien, moes die galery bokant die ingang van die sinkkerkie vergroot word. Die onkoste hiervan het meer as 75 pond (R150,00) beloop. Hierdie onkoste is deur die koorlede by wyse van lyste ingesamel.

In 1916, in ds. Kotzé se tyd, is die nuwe orreltjie in gebruik geneem.

Mej. Annie Maritz (Slabbert) was destyds die orreliste en onder die koorlede vind ons die name van Hennie en Lettie Venter, asook mejj. Ricca van Reenen en Maggie Shingler (Du Toit). Laasgenoemde is die moeder van Nellie du Toit, die sangeres van Pretoria wat vanjaar op 29 Julie oorlede is.

Nadat die gemeente byna 45 jaar lank gebruik gemaak het van verskillende traporrels, besluit die kerkraad op 1 September 1917 om 'n pyporrel teen ongeveer 450 pond (R900,00) van die firma Price en Zonen van Kaapstad te bestel. Na 'n gesloer van 'n paar jaar, het die goeie nuus uiteindelik op 10 April 1920 gekom dat die firma hoop om die orrel spoedig af te lewer. 

Dit het dan ook so gebeur en die nuwe orrel is op 'n platform voor in die kerk agter 'n veranderde preekstoel ingebou. Aan die regterkant van die orrel is sitplekke vir die kerkraad en aan die linkerkant vir die koorlede aangebring. Die instrument moes met die hand gepomp word.

Die inwyding van die eerste pyporrel is in Julie 1920 deur ds. De Villiers waargeneem. By die geleentheid was die baie bekende ds. ML de Villiers, die leraar se broer, ook teenwoordig. Mev. A Slabbert, die orreliste, het met haar kore vir gepaste en pragtige koorsang gesorg. Onder die koorlede vind ons die name van M Slabber, Hennie en Lettie Venter, Frans en Vic Joubert, Ampie du Toit, Okkie Immelman, Apie Raats (later dominee - meer staaltjies oor hom later), Mossie Carstens (De Kock0, Ricca en Joey van Reenen, Ralie Potgieter en Ellie Pretorius.

Kort hierna, met die vertrek van mev. A Slabbert na Newton, Kimberley, is mej. Ricca van Reenen in haar plek aangestel en sou sy nog baie jare die goeie werk van haar voorganger voortsit. Haar dienste is aan die einde van Junie 1929 beëindig nadat sy met mnr. Vercueil in die huwelik getree en van Dutoitspan afskeid geneem het.

Gedurende die volgende vyf jaar het daar heelwat persone vir kort periodes as orreliste opgetree. Behalwe mejj. A Holloway en Lombaard asook mevv. K Reddie en Joubert, het mnr. Ras die orrel drie jaar lank bespeel voordat mej. L Collard in Junie 1934 aangestel is.

In 1940 is die orreltjie geëlektrifiseer en na die nuwe kerk verskuif. Die ou draad-aksie is egter behou sodat die aanslag steeds baie swaar was. mej. Collard het daarna nog tot Mei 1945 die gemeente op pragtige spel en mooi koorsang getrakteer.

Vir die daaropvolgende jaar het mejj. Lorna Bothma en Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel, totdat mev. Remerta (AR) van der Westhuizen weens siekte, eers die betrekking aan die einde van April 1947 kon aanvaar.

Dat die kerkraad baie gelukkig was om mev. Van der Westhuizen se dienste te bekom, het duidelik die volgende maand met die viering van die 75-jarige bestaan van die gemeenste geblyk.

Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, het sy vir meer as 25 jaar lank getoon dat sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land is nie, maar dat sy ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kan nadoen. Geen wonder dus dat haar kerkkoor waar dit ook al optree, altyd in die oog val nie. Op die talle kunswedstryde waaraan die koor in die verlede meegeding het, het dit, sonder uitsondering, altyd met die louere weggeloop.

Gedurende die tyd het sy o.a. die kantate "Van Krip na Kruis, Rut, 'n jubelende Danksegging en Vors van Glorie," met groot sukses opgevoer.

In Maart 1956 is die herboude en vergrote orrel waarvan die koste 3000 pond (R6000) beloop het, ingewy. Die 457 pype van die ou orrel is tot 'n totaal van 1 209 pype aangevul. By dié geleentheid het die orreliste, mev. Van der Westhuizen, met haar koor vir 'n pragtige kantate-uitvoering en musiekprogram gesorg.

Baie van die ou staatmakers wat by daardie geleentheid, asook by die aanbieding van die kantate, "Die Vors van Glorie" in November 1957 in die vergrote kerkkoor opgetree het, lewe nie meer om in die kerk se eeufeeskoor te sing nie.

Veral word daar gedink aan mejj. S van Heerden (Diskobolos), Kitty van Niekerk, mevv. Elize Kruger, Lettie Venter, A Nothnagel, LA Powell, asook oom Pieter Oberholzer wat nie die eeufees in 1972 saam met ons kon vier nie.

Andere soos Danie en Lorna Brink, Hannie Albertyn, J Wagner, F Booysen, F Rousseau, T Muller, Mattie Jacobs, Minnie Greeff. Hennie Venter, T van der Nest, H Labuschagne, F Scheepers en G Pretorius het sederdien van Kimberley weggetrek of is nie meer in die gemeente woonagtig nie.

Onder die 1972-koorlede is daar 'n hele aantal wat na baie jare van gereelde en getroue diens nog steeds hul dienste tot beskikking en ter verheerliking van die Koning van die Kerk stel.
[Uit: Die eeufeesalbum 1872 - 1972]

Gaan lees die res van die orrelgeskiedenis hier Die gebeure vanaf 1954 word hier vertel.

Saturday, 15 September 2018

Die kerksaal: inwyding

Dit was 'n heuglike dag toe die gemeente na baie maande van harde werk om fondse in te samel, die inwyding van die kerksaal kon ervaar. Die inwyding het op Donderdagaand, 28 Maart 1963, om 19:30 plaasgevind. Dit was 'n groot gebeurtenis, besoekende ringspredikante en gemeentelede het voor die ingang in Dyerplek vergader, waar ds. Willem Steenkamp almal baie hartlik welkom geheet het. Na die lofsang, het die argitek, mnr. W Bronkhorst die sleutel aan ds. Steenkamp oorhandig om die deur oop te sluit. Ds. S Visser het die wydingsgebed gedoen en terwyl die KJV-lede gesing het, het die predikante, eregaste en gemeentelede die kerksaal ingestap.

Die verrigtinge binne die saal is deur Modderrivier-Ritchie se predikant, ds. AJ Olivier, met skriflesing en gebed geopen. Daarna is 'n pragtige musiekprogram gelewer, soos net mev. AR van der Westhuizen dit kon doen. Dutoitspan se kerkkoor het gesing, mnr. Frank Scheepers en mevv. M Greeff en M van Niekerk het vir sangsolo's gesorg, terwyl mnr. FJ ter Haar 'n klavieruitvoering gegee het. Mevv. J de Kock en M Pretorius het 'n duet gelewer. 'n Musiekkonsert waarvan die kaartjies jou vandag 'n hele paar rand op een van die feeste sou kos.

Daarna het mnr. RJ Sahlertz, 'n inspekteur van skole, die wydingsrede gelewer.

Gelukwensing is deur ds. Fullard namens die Ring van Dutoitspan en konsulentgemeente gedoen en deur ds. ZB Badenhorst namens die dogtergemeentes. Die dogtergemeentes is hulle wat van Dutoitspan afgestig het nl. Diamantveld Gemeente, Modderrivier-Ritchie Gemeente, Plooysburg en Heuningneskloof. Laasgenoemde gemeente het ook die kateder wat in die kerk staan, geskenk.

Nadat mnr. HG Gouws (skoolhoof van Dutoitspan Laerskool en skriba) die nodige bedankings gedoen het, is die verrigtinge met die sing van Ps. 33:1 en 'n gebed afgesluit. Daarna is groot skare teenwoordig met heerlike verversings onthaal wat deur die susters van die gemeente gemaak is.

Die pragtige gordyne op die verhoog, asook die nuwe stoele en tafels het 'n deftigheid aan die nuwe saal verleen. (Dit is dieselfde gordyne wat vandag, 55 jaar later, nog steeds in die saal hang.)

So 'n brokkie interessantheid: Indien 'n groot aantal stoele bestel word, kon die kerk ruim afslag kry, dus is die kerkraad en gemeentelede genader om asseblief stoele te bestel vir hulle persoonlike gebruik. Saalstoele is nou nie eintlik iets wat algemeen in huise gebruik word nie, maar omdat dit nog 'n manier was waarop die kerk geld kon spaar, het almal stoele bestel. Ek het vandag nog my twee stoele wat ek in 1963 gekoop het.

Selfs die klavier wat reeds in die dertigerjare aangekoop is met fondse wat by wyse van konserte deur die CJV ingesamel is en heeltemal herstel is, het baie goed gelyk en geklink. Die staaltafel in die kombuis, yskas, stoof en ingeboude kaste het die kerkkombuis 'n gerieflike werksplek gemaak vir funksies. 

Na die nuwe kerksaal in gebruik geneem is, het ds. Steenkamp en die kerkraad hulle aandag toegespits op die kerkterrein tussen die kerkgebou en die saal.

Mnr. GJ Smal het die terrein langs die kerksaal omhein en baie mooi muurtjies aan die voorkant van die kerk, saal en pastorie gebou. Die heuningkoekmuur voor die kerkkantoor is ook sy handewerk - 55 jaar al staan daardie mure al. Sementpaadjies is tussen die kerk en die saal uitgelê met swart leiklip. Dit het die kerk destyds R1 820,00 gekos. (Oom Smal soos hy bekend was, was die oupa van die Springbokrugbyspeler, Gert Smal - groot mense, met groot hande... geen wonder hy kon 'n rugbybal met soveel gemak hanteer nie - gaan google gerus Gert Smal en kyk na sy veelbewoë rugbyloopbaan.)

Daarna is die terrein agter die saal gelyk gemaak, bourommel is verwyder en die Eiendomskommissie het self ingespring om gras tussen die sementpaadjies te plant en ook langs en agter die kerksaal. Ds. Steenkamp was nie skaam om moue op te rol en saam te werk nie. 

Die bou-aannemer, mnr. SJ Burger het ingewillig om vir die bedrag van R1 330,00 die kerk se pleisterwerk en verfwerk op te knap, sodat die kerkgebou nie te veel by die nuwe saal afsteek nie.

Sunday, 28 January 2018

Dutoitspan se noot vir 'n noot...

Die gemeente se orrel vra na meer as 60 jaar dringende aandag. Niemand van ons is so gelukkig om nooit in 60 jaar dokter toe te gaan nie - in kort, ons kort nou die bekwame hande van 'n "orreldokter" en dit kos geld!

Die oplossing? 'n Orrelfonds! Ons kort dringend papiernote vir die kerk se orrelnote!!

Hiervoor benodig ons elkeen se heelhartige samewerking en toewyding. 'n Klein bietjie agtergrond oor die orrel, sal ons net meer motiveer as ons weet waarvoor ons werk.

Ons sal later kyk na die begin-geskiedenis van die orrel. Ons gaan net so ver terug soos 1954. Baie vroeg in 1954 het dit duidelik geword dat die orrel dringende aandag nodig het, die toestand van die orrel was om die minste te sê, treurig! Daar moes 'n dringende besluit geneem word of daar herbouing moet plaasvind en of die orrel met 'n nuwe een vervang moes word. Geen ligtelike besluit nie.      

Hoewel daar op daardie stadium nie dadelik aandag aan die orrel gegee kon word nie, weens ander groot verpligtinge, het die koorlede onder leiding van die orreliste, mev. AR van der Westhuizen besluit om 'n orrelfonds te loods.

Later het ds. C Theron en die gemeentesusters (bekend as die huisvlytsusters) 'n reuse aandeel aan die insameling van fondse gehad. Die hele gemeente was gemobiliseer, want almal het besef dat die nood (noot...) hoog is!

Die kerkraad het toestemming verleen dat daar vanaf April 1955 wyksfunksies gehou kan word ter stywing van die orrelfonds. Die kerksraadslede van die onderskeie wyke het hulle wykslede aangespoor, want daar was so 'n onderlinge kompetisie oor wie nou eintlik met die beste fondsinsamelingsplan voor 'n dag sou kom.

Intussen is tenders aangevra en uiteindelik word die tender vir die firma R Muller vir 2 750 pond (R5 500,00) gegee. Met die toevoeging van die klokkespel (min kerkorrels beskik hieroor), sierpype en die aanbring van deurlopende paneelwerk op die galery, het die bedrag op 3000 pond (R6000,00) te staan gekom. Die spieël, die raamwerk en gordyn, asook die twee waaiers, is deur goedgesinde persone geskenk.

 Anmarie van der Westhuizen, 
Pieter  van der Westhuizen en
Die naweek van 2 - 4 Maart 1956 het die orrelinwyding plaasgevind. Die kinders het die geleentheid gehad om Vrydagaand na die musiekprogram en kantate-uitvoering te kon luister. Die werklike inwyding het dié Saterdagaand plaasgevind. By hierdie geleentheid het ds. C Theron die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen en almal baie hartlik verwelkom. Mev. AR van der Westhuizen het, nadat sy die sleutel van die orrelbouer, mnr. W Zimnier, ontvang het, die herboude orrel oopgesluit.

Die gemeente het as lofsang Ps. 146 vers 8 gesing en daarna het prof. dr. Jac J Muller van Stellenbosch die wydingsrede gehou.

In die musiekprogram wat gevolg het, is pragtige orrelspel deur mnr. Septimus Smuts en sangstukke deur mnr. Frank Scheepers en mev. Minnie Greeff (plaaslike talent) gelewer, voordat die kantate-uitvoering, "'n Jubelende danksegging" deur die Dutoitspan-kerkkoor onder leiding van die baie bekwame mev. Van der Westhuizen gevolg het.

Geen moeite is ontsien om 'n program uit die boonste rakke saam te stel nie.

Ds. C Theron (1953 - 1957) 
Die pragtige en baie suksesvolle aand is in die kerksaal afgesluit met heerlike verversings en saamkuier.

Prof. dr. Jac J Muller het die volgende oggend die Nagmaalsdiens gelei en met 'n dankdiens die aand afgesluit.

Met al hierdie verrigtinge het die orreliste en haar koor, sowel as die gemeentesusters en ds. Theron, 'n leidende rol gespeel.

Dinge is sommer op groot skaal in die gemeente aangepak!

Pas twee maande na die inwyding van die herboude orrel, is die firma Joubert, Owens en Van Niekerk (argitekte) geraadpleeg i.v.m. die herbou van die kerkgebou. In hulle verslag beveel hulle aan dat die houtvensters deur staalvensters vervang word, die ou pleisterwerk buite afgekap word en met Tiroolse pleister afgewerk word, dat die toring 30 voet hoër gemaak moet word, terwyl die sy- en vooruitgange heeltemal verander moet word. Aan die binnekant moes al die mure nuut uitgepleister en tot vensterhoogte met Mahonie-paneelwerk afgerond moet word. Ook om die preekstoel moes paneelwerk aangebring word.

(Word vervolg)

Tuesday, 9 January 2018

Gemeentegeskiedenis: Handtekening van Dutoitspan se bekendste orrelis!

Mev. AR van der Westhuizen, 
Dutoitspan se orrelis van April 1947
tot Februarie 1979.
Mev. Van der Westhuizen se musiekgene loop ver in haar nageslag in. Haar seun, Pieter, was deel van die komitee wat verantwoordelik was vir die vernuwing van die 1978-Psalm- en Gesangboek. Op daardie stadium was hy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Pieter se dogter is die wêreldberoemde Anmari van der Westhuizen. Sy is tans professor aan die Universiteit van die Vrystaat

Anmarie van der Westhuizen, Pieter van der Westhuizen en
mev. Remerta van der Westhuizen 

Wednesday, 6 July 2016

Wie is prof. Anmari van der Westhuizen?

Die vier lede van die Odeion-strykkwartet, met 
prof. Anmari van der Westhuizen tweede van links.
[Foto: Internet] 

Die antwoord!