Saturday 15 September 2018

Die kerksaal: inwyding

Dit was 'n heuglike dag toe die gemeente na baie maande van harde werk om fondse in te samel, die inwyding van die kerksaal kon ervaar. Die inwyding het op Donderdagaand, 28 Maart 1963, om 19:30 plaasgevind. Dit was 'n groot gebeurtenis, besoekende ringspredikante en gemeentelede het voor die ingang in Dyerplek vergader, waar ds. Willem Steenkamp almal baie hartlik welkom geheet het. Na die lofsang, het die argitek, mnr. W Bronkhorst die sleutel aan ds. Steenkamp oorhandig om die deur oop te sluit. Ds. S Visser het die wydingsgebed gedoen en terwyl die KJV-lede gesing het, het die predikante, eregaste en gemeentelede die kerksaal ingestap.

Die verrigtinge binne die saal is deur Modderrivier-Ritchie se predikant, ds. AJ Olivier, met skriflesing en gebed geopen. Daarna is 'n pragtige musiekprogram gelewer, soos net mev. AR van der Westhuizen dit kon doen. Dutoitspan se kerkkoor het gesing, mnr. Frank Scheepers en mevv. M Greeff en M van Niekerk het vir sangsolo's gesorg, terwyl mnr. FJ ter Haar 'n klavieruitvoering gegee het. Mevv. J de Kock en M Pretorius het 'n duet gelewer. 'n Musiekkonsert waarvan die kaartjies jou vandag 'n hele paar rand op een van die feeste sou kos.

Daarna het mnr. RJ Sahlertz, 'n inspekteur van skole, die wydingsrede gelewer.

Gelukwensing is deur ds. Fullard namens die Ring van Dutoitspan en konsulentgemeente gedoen en deur ds. ZB Badenhorst namens die dogtergemeentes. Die dogtergemeentes is hulle wat van Dutoitspan afgestig het nl. Diamantveld Gemeente, Modderrivier-Ritchie Gemeente, Plooysburg en Heuningneskloof. Laasgenoemde gemeente het ook die kateder wat in die kerk staan, geskenk.

Nadat mnr. HG Gouws (skoolhoof van Dutoitspan Laerskool en skriba) die nodige bedankings gedoen het, is die verrigtinge met die sing van Ps. 33:1 en 'n gebed afgesluit. Daarna is groot skare teenwoordig met heerlike verversings onthaal wat deur die susters van die gemeente gemaak is.

Die pragtige gordyne op die verhoog, asook die nuwe stoele en tafels het 'n deftigheid aan die nuwe saal verleen. (Dit is dieselfde gordyne wat vandag, 55 jaar later, nog steeds in die saal hang.)

So 'n brokkie interessantheid: Indien 'n groot aantal stoele bestel word, kon die kerk ruim afslag kry, dus is die kerkraad en gemeentelede genader om asseblief stoele te bestel vir hulle persoonlike gebruik. Saalstoele is nou nie eintlik iets wat algemeen in huise gebruik word nie, maar omdat dit nog 'n manier was waarop die kerk geld kon spaar, het almal stoele bestel. Ek het vandag nog my twee stoele wat ek in 1963 gekoop het.

Selfs die klavier wat reeds in die dertigerjare aangekoop is met fondse wat by wyse van konserte deur die CJV ingesamel is en heeltemal herstel is, het baie goed gelyk en geklink. Die staaltafel in die kombuis, yskas, stoof en ingeboude kaste het die kerkkombuis 'n gerieflike werksplek gemaak vir funksies. 

Na die nuwe kerksaal in gebruik geneem is, het ds. Steenkamp en die kerkraad hulle aandag toegespits op die kerkterrein tussen die kerkgebou en die saal.

Mnr. GJ Smal het die terrein langs die kerksaal omhein en baie mooi muurtjies aan die voorkant van die kerk, saal en pastorie gebou. Die heuningkoekmuur voor die kerkkantoor is ook sy handewerk - 55 jaar al staan daardie mure al. Sementpaadjies is tussen die kerk en die saal uitgelê met swart leiklip. Dit het die kerk destyds R1 820,00 gekos. (Oom Smal soos hy bekend was, was die oupa van die Springbokrugbyspeler, Gert Smal - groot mense, met groot hande... geen wonder hy kon 'n rugbybal met soveel gemak hanteer nie - gaan google gerus Gert Smal en kyk na sy veelbewoë rugbyloopbaan.)

Daarna is die terrein agter die saal gelyk gemaak, bourommel is verwyder en die Eiendomskommissie het self ingespring om gras tussen die sementpaadjies te plant en ook langs en agter die kerksaal. Ds. Steenkamp was nie skaam om moue op te rol en saam te werk nie. 

Die bou-aannemer, mnr. SJ Burger het ingewillig om vir die bedrag van R1 330,00 die kerk se pleisterwerk en verfwerk op te knap, sodat die kerkgebou nie te veel by die nuwe saal afsteek nie.