Saturday 8 September 2018

Skrywers Kobie Linde en Engela van Rooyen se verbintenis met Dutoitspan

Ds. Kobie Linde en sy vrou, Engela (die baie bekende skryfster)*, het vir 6 maande in Dutoitspan-gemeente gebly. Hulle het by Fanie en Henriëtte Vermaak van Aristotlelaan 76 loseer. Dit was November 1960. Hy was op daardie stadium 'n proponent en het sommer gou die bynaam van "Proppie" gekry. Desember 1960 kon ds. Willem Steenkamp met 'n geruste hart gaan vakansie hou, want prop. Linde het as leraar ingestaan en gepreek. Gedurende hierdie 6 maande het hy aktief saam met ds. Willem in Dutoitspan gemeente gewerk, terwyl hy vir 'n beroep gewag het. Hy het waardevolle ervaring gekry deur saam met so 'n dinamiese en hardwerkende predikant te werk. In ds. Steenkamp se tyd is die kerksaal gebou. (Meer hieroor later.)

Prop. Linde het toe so teen die einde Mei 'n beroep na Kameelboom in die Kalahari naby die grens met Botswana gekry. Hiervandaan gaan hulle na Migdol, waar hulle twee oudste seuns gebore is. 'n Hele klompie jare later het sy paaie weer met Kimberley gekruis, toe hy 'n beroep na die NG Gemeente Newton (vandag Kimberley Gemeente) aanvaar het, hierna word Kobie as weermagkapelaan aangestel, eers op Grahamstad en later op Potchefstroom.

Hy was die skrywer van meer as 10 geestelike boeke wat baie leesvriendelik geskryf is. Hy is in Januarie 2017 in die Moot-hospitaal in Pretoria aan nierversaking oorlede.

* Sy vrou het o.a. as Engela Linde, Engela van Rooyen, Louisa du Toit en Barend Bornman ver oor die 100 boeke geskryf.