Showing posts with label Sterf. Show all posts
Showing posts with label Sterf. Show all posts

Thursday, 5 February 2026

Pas oorlede

Dit was die aanhef van 'n roubrief wat deur 'n Engelse predikant aan sy gemeente gestuur is. Hy het baie gebid voordat hy die brief gepos het. Ds. Fox was bekend as 'n persoon wat ernstig was en wat vir jare onvermoeid in sy gemeente die Woord van God gebring het. Hy het met sy gemeente gepraat oor hulle geestelike agteruitgang en hulle geroep tot bekering. Sy gebed en begeerte was dat hulle waarlik die beeld van Jesus sou uitdra aan 'n verlore wêreld. 

Gedurende huisbesoek het hy elke lid van die gemeente aangespreek en die Woord aan hulle verkondig, waarna hy 'n gebed gedoen het. Dit het egter alles niks gehelp nie. Ds. Fox se gemeente was maar net lidmate van die kerk omdat dit tradisie was. Hulle het dit as 'n prestasie beskou wanneer die kerk half of driekwart vol was. Daar was 'n koue atmosfeer in die kerk. Sekere gemeentelede het net sommige mense gegroet in die kerk en die res vermy. Party was belangriker as ander.

Op 'n sekere môre, nadat hy weer vir sy gemeente gebid het, het daar plotseling 'n vonkel in die oë van ds. Fox gekom. Hy het by sy skryftafel gaan sit, sy vulpen uitgehaal en die volgende roubrief aan sy gemeente met die bostaande opskrif geskrywe.

"Pas oorlede. Die gemeente is pas oorlede nadat sy haar lyding en smart kalm gedra het. Die roudiens word aanstaande Saterdagmiddag in die kerk gehou, waar daar nog geleentheid sal wees om die oorledene vir oulaas te sien."

Dit was veral die laaste sinsnede wat gemaak het dat die kerk volgestroom het van mense. Baie het hulself afgevra wat die dominee voor oë het. Die mense was gewoond dat hy nie ligsinnige dinge doen nie, dus moes daar iets ernstig agter geskuil het. Sal die kerk afgebreek word? Word die gemeente ontbind?

Onder, reg voor die preekstoel het daar 'n doodskis gestaan. Ds. Fox het die kansel bestyg en 'n kort boodskap gebring. In sombere woorde het hy die nagedagtenis van die oorlede gemeente herdenk. Sy het aan 'n langdurige en gevaarlike siekte gely en daarom gesterwe. Gelukkig het sy nie veel pyn verduur nie, maar is oorlede aan 'n langdurige lusteloosheid en swaarmoedigheid. Die feit dat daar geen pyn was nie, het juis die vroeë einde verhaas. Omdat sy gedink het dat sy niks makeer nie, het sy alle inspuitings geweier wat verseker nuwe lewe kon gebring het. So sag en rustig as wat sy die afgelope aantal jare was, so het sy gesterf. Die enigste wat van haar oorgebly het, is haar siel wat ons nou aan "die barmhartigheid van die almagtige God toevertrou." Hierna het hy gesê dat daar geleentheid is om plek langs die kis in te neem vir die laaste afskeidsgroet.

Skaam en vraend het die gemeente aanvanklik in hulle plekke bly sit, maar ds. Fox wat in alle erns langs die kis kom staan het, het die kerkraad gewink om ook hulle plekke daar te kom inneem.

Die broers het stadig na vore gekom en een vir een het 'n laaste blik in die kis gegee, waar, volgens die predikant, die oorskot van die oorlede gemeente lê. Baie min van die gemeente het onbeweeg gebly na hierdie gesig. Sommige het blykbaar geskrik terwyl ander se gesigte bleek geword het. Ander het weer vraend 'n verontwaardigde blik op die predikant gewerp, wat doodstil gestaan het, sonder om 'n woord te sê. Daar was slegs 'n groot liefde op sy gelaat vir die gemeente.

Langsaam volg die gemeente die voorbeeld van die kerkraad. In diepe eerbied soos met enige begrafnis, gaan hulle een vir een by die kerkdeur uit. Iemand het weer teruggegaan in die bank en die gesig met 'n sakdoek bedek. 'n Vrou het begin om gedemp te snik. In die kis het 'n groot spieël gelê. Wie hom oor die dooie gemeente buig, het homself in die spieël gesien.

Teen die aand staan daar 'n ouderling en sewe gemeentelede by ds. Fox op die stoep, daaronder was daar twee vroue en twee jongmense. Die ouderling wat die woord moes doen, het nie te op sy gemak gevoel nie. Hy sê: "Dominee, ons het almal begryp ... ons wil egter nie meer dood wees nie; ons wil 'n lewende gemeente van ons Here Jesus wees. Sal u ons help om dit te wees? En ... e... e... buite staan die res van die gemeente wat ons gestuur het om te kom praat."

[Bron: Die Pelgrim, Maart 1988, p. 20] 

Sunday, 6 June 2021

Die Tas

'n Man sterf en toe hy dit besef, 
sien hy God naderkom met 'n tas in Sy hand.

- God sê: Seun, dit is tyd om te gaan.
- Verbaas reageer die man:
  Nou? So gou? Ek het baie planne gehad ...
- Ek is jammer, maar dit is tyd om te gaan.

- Wat het U in die tas? het die man gevra.
- God het geantwoord: Jou besittings.
- My besittings? Bedoel U my goed, my klere, my geld?
- God het geantwoord: Daardie dinge het nie aan jou behoort nie. 
   Dit was Aardsgebonde.

- Is dit my herinneringe? het die man gevra.
- God het geantwoord: dit het nooit aan jou behoort nie. 
   Dit was Tydsgebonde.

- Is dit my talente?
- God het geantwoord: dit het nooit aan jou behoort nie. 
   Dit was Bykomstigheidsgebonde.

- Is dit my familie of vriende?
- God het geantwoord: Ek is jammer, hulle was nooit joune nie, hulle was 
   Omstandigheidsgebonde.

- Is dit my vrou of my seun of my dogter?
- God het geantwoord: Hulle was nooit joune nie. 
   Hulle was Hartsgebonde.

- Is dit my liggaam?
- God het geantwoord: Dit was nooit joune nie. 
   Dit was Aardsgebonde.

-Is dit my siel?
God het geantwoord: Nee, dit behoort aan My.

Gevul met vrees, het die man die tas van God geneem
en dit oopgemaak net om te vind dat die tas leeg was.

- Met 'n traan wat oor sy wang loop, 
   het die man gevra: het ek nooit iets gehad het nie???
- God het geantwoord: Dit is korrek, elke oomblik wat jy geleef het was joune.

Die lewe is net 'n oomblik, 'n oomblik wat aan jou behoort. 
Daarom, lewe die lewe terwyl jy dit het. 
Moenie dat enigiets wat jy dink aan jou behoort jou verhoed om te lewe nie.

-Lewe Nou.

- Lewe voluit elke oomblik.

- Moenie vergeet om gelukkig te wees nie, dit is die enigste ding wat saak maak.

- Materiële dinge en alle ander dinge wat jy geswoeg en baklei het voor, bly agter.

- ONTHOU JY KAN NIKS SAAMVAT NIE. 

[Dankie, vir hierdie gedagte wat anoniem op my tafel geland het.]