Showing posts with label Joe Frederics. Show all posts
Showing posts with label Joe Frederics. Show all posts

Tuesday, 7 October 2025

Elke nuwe begin kom van 'n ander begin se einde

Dit is nooit maklik om afskeid te neem nie, maar aftrede klop een of ander tyd aan elke mens se deur. Joe Frederics was só lank deel van Dutoitspan, dat hy al op die kerk se inventarislys was. 32 jaar is 'n leeftyd om by dieselfde plek te werk, veral deesdae. Hierdie werk was letterlik en figuurlik Joe se droomwerk.  
(Lees gerus HIER om meer uit te vind oor die droom.)

Joe moet ongelukkig weens gesondheidsredes vroeër aftree. Ons wil eerstens vir hom 'n spoedige herstel toebid. Mag hy elke dag bewus wees van die groot Geneesheer se teenwoordigheid in sy lewe.

Dankie vir 32 jaar se getroue werk, wat jy altyd met 'n glimlag aangepak het. Dankie dat ons altyd op jou nommer kon druk om hand by te sit waar dit nodig was. Jou toewyding en getrouheid was en is 'n voorbeeld vir ons.Gebruik jou tyd om te rus en te herstel.

Joe, mag die Here jou seën in die nuwe fase van jou lewe.

Semisonies het gesê: "Elke nuwe begin kom van 'n ander begin se einde." 

Ons groet vir Joe, maar ons sê in dieselfde asem vir Maans welkom. Maans is 'n ou bekende in die gemeente. Maartmaand het ons 'n paar vrae aan Maans gestel om die man wat Sondae die karre oppas van nader te leer ken. (Klik HIER om die onderhoud te lees.)

Baie welkom in hierdie nuwe pos, Maans. Jou handvaardigheid en bereidwilligheid om die ekstra myl te loop, gaan van onskatbare waarde wees. Mag jy geseën word met goeie gesondheid, energie en baie genade. 

Friday, 4 July 2025

Ontmoet ons personeel: Joe Frederics


Joe Frederics, die man met die groen vingers, is soveel jare deel van Dutoitspan se personeel, dat hy al op die kerk se inventaris is.

'n Staatmaker wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. 

Joe is 'n Kimberliet in murg en been - gebore en getoë in 'n deel van die land wat bekend is vir sy hitte, sy droogte, maar ook vir sy vriendelike mense wat oor uithouvermoë beskik. Joe-hulle was twee seuns en twee dogters. Werk was selfs in daardie jare nie volop nie en dit het meet en pas gekos om die vier Fredericse groot te kry.

Joe is 'n entoesiastiese sokkerman, nie net is dit sy gunstelingsport om na te kyk nie, maar vir baie jare het hy dit beoefen. Sokker is Joe se passie. Gevolglik is hy in goeie geselskap, want sokker word as die gewildste sportsoort ter wêreld beskou.

Hier is n paar algemene vrae om die mens wat die kerk se tuine so mooi in stand hou, beter te leer ken:

Vraag: Watter eienskap of woorde van jou ma onthou jy tot vandag toe?
Joe: "Joe, jy moet na my kyk tot die dag van my dood."

Vraag: Hoe lank werk jy al by die kerk? 
Joe: 32 dankbare jare.

Vraag: Hoe het jy van die werk gehoor? 
Joe: Dit klink te goed om waar te wees, maar ek het gedroom van hierdie werk. Ds Coreejes het my langs die pad opgetel en ek het by hom begin skrop tot die tuinman van die kerk geloop het.

Vraag: Jy het dus saam met baie predikante gewerk en hulle leer ken?
Joe: Ja, dominees Coreejes, Lötter, Van der Walt, Holloway, O'Callaghan, Kloppers, Enslin en Broodryk. 

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk?
Joe: Ek geniet al my werk by die kerk, van tuinwerk tot by die funksies en basare as die saal reggeskuif moet word.

Vraag: Wat is jou gunstelingkos? En hoekom staan dit boaan jou koslys?
Joe: Hoenderstew en pap. Die lewe is duur en dit is die goedkoopste vleis om te eet. Hoenderbredie is mos trooskos en met 'n lekker sous daarby grens dit aan koningskos. 

Vraag: Joe, as 'n mens al so lank op 'n plek bly en werk, dan is daar 'n groot verskil tussen toe en nou ... toe jy 'n kind was en nou. Wat is die belangrikste les wat jy in die lewe geleer het?
Joe: Bly weg van moeilikheidmakers en drank. Dit is so maklik om toe te gee aan druk, maar dit maak 'n mens se lewe net moeilik en meer gekompliseerd.

Vraag:
 Wat is die mooiste vers in die Bybel vir jou?
Joe: Die Here is my Herder.

Vraag: Na watter musiek luister jy graag? 
Joe: Rasta en Gospel

Vraag: Wat pla jou die heel meeste as jy vandag na die wêreld om jou kyk?
Joe: Geweld, drugs en jongmense wat hulle lewe op hierdie manier weggooi. Hulle gebruik nie die kanse wat vir hulle gegee word nie.

Vraag: Jy het nie geskroom om baie van jou familie se kinders te help nie? Jy moes opofferinge doen om hulle te help. Hoekom het jy dit gedoen en kyk hulle vandag na jou?
Joe: Ek was die enigste een wat gewerk het en geld verdien het. So ek en Dina het maar altyd die kinders ingevat en na hulle gekyk. Nee, hulle kyk nie vandag na my nie. Hulle is besig met verkeerde dinge. Dis só hartseer.

Vraag: Jy is 'n handyman. Wat kan jy alles met jou hande doen?
Joe: Van bou tot die herstel van enige iets wat by die kerk breek en reggemaak moet word. 

Vraag: Joe, wat sal jou boodskap vir die kinders en jongmense van vandag wees?
Joe: Bly weg van drugs, drank en die rowwe lewe van die wêreld. Dis nie die moeite werd om jou lewe op hierdie manier weg te gooi nie.

Wyse woorde van 'n man wat die lewe fyn waarneem.

Friday, 6 June 2025

Terugblik: Agter die opruimingsgordyn

Vandag se terugflits gaan nie jare terug in die geskiedenis nie, maar slegs 'n week terug. Alles wat met soveel sorg en beplanning vir die basaar uitgepak is, moet natuurlik opgeruim en weggepak word en dit gebeur gewoonlik so stil-stil met slegs 'n handjievol mense wat help.

Aan hierdie stille werkers agter die opruimingsgordyn,
'n opregte hartsdankie!! 

Tuesday, 4 June 2024

Personeelete by Mowhawk Spur


Op die foto van links na regs: Amelia Kock, Joe Frederics, ds. Ensie, Jannie Stroebel, Sarie le Roux, Elsa Minne en Anna van Wyk. En hierdie was nie net 'n gewone ete nie, maar vir 57,1% van die personeel was dit hulle verjaardagete!! 

Sarie, Jannie, Joe en Amelia, 'n mooi geseënde nuwe lewensjaar - mag julle die guns van die Here in jul lewens ervaar. Alles wat mooi en lieflik is, word julle toegebid. Hoop julle het jul spesiale dag en ete geniet. (Filippense 4:6,7)

Foto: Elsa Minne

Saturday, 23 April 2022

150 genadejare: Schalk Pienaar - die langsdienende kassier (Julie 1961 - Julie 2016)


In die Noord-Kaapland eNuus skryf hulle 'n artikel oor die ononderbroke diens van Schalk Pienaar en verwys daarna as 'n besondere mylpaal in die geskiedenis van die NG Kerk.

Hoe het hy in die kerkkantoor van Dutoitspan beland? 

Schalk en Jane Pienaar het in Julie 1958 in Dutoitspan-gemeente ingetrek. Nie lank daarna nie, het ds. Smit, die gemeente se predikant op daardie stadium, as argivaris na Kaapstad vertrek. Ds. WJ Steenkamp, van Olifantshoek, het ds. Smit as predikant opgevolg.

Die kassier op daardie stadium was Andries Combrinck. Hy was kassier van 1957 tot 1960. Hy word skielik verplaas en mnr. Saly Beukes neem as kassier oor. Ongelukkig kon hy net 'n paar maande aangaan, tot Junie 1961, toe hy ook verplaas word. Die skriba- en kassierwerk is deeltyds gedoen deur werkende persone, sodat die kerk nie 'n salaris aan die persone hoef te betaal nie. Hulle het slegs 'n honorarium gekry. Dutoitspan was nog nooit 'n ryk gemeente nie en moes in die verlede, net soos nou, sy sente omdraai om al die gate toe te stop.

Ds. Steenkamp het toe vir Schalk genader en gevra of hy bereid sal wees om oor te neem as kassier, aangesien hy op daardie stadium die enigste een in die gemeente was, wat 'n boekhouer was. Hy is aan die begin van Julie 1961 in die pos aangestel.

Op daardie stadium was Piet Labuschagné, 'n onderwyser van beroep, die skriba van Augustus 1955 af. Na Piet se aftrede, het Schalk ook die skriba-deel gedoen. Tot en met 2011 was hy die skriba-kassier en het Schalk altesaam met 13 predikante saamgewerk. Elmie Bean het as skriba in Oktober 2011 by Schalk Pienaar oorgeneem.

Hy het nie agtergebly toe rekenaars opdaag nie en in 1989 al ingespring en geleer om daarmee te werk. Daar was nie eintlik baie ouer mense wat daarvoor kans gesien het nie; te meer nog om by die kollege in te skryf vir rekenaarkursusse. Hy was die oudste student wat die N4- tot N6-rekenaarpraktykeksamens geslaag het en toe mense hulle oë uitvee, het Schalk ál sy kerkwerk gerekenariseer gehad voor Finkerk en Winkerk, die huidige rekenaarsagteware, opgedaag het.

Hy was 'n ywerige blogger. Vanaf 2013 het hy begin om Dutoitspan se kerkgeskiedenis op te teken. Hy het op daardie stadium besef dat die gemeente nie 'n webwerf het nie en dat geskiedenis verlore kan gaan. Maar hy wou steeds die ruimte vir die kerk laat om ter gelegener tyd hulle eie webwerf te begin en daarom het hy die blog net Dutoitspan Kimberley genoem en nie NG Kerk Dutoitspan Kimberley nie. Gaan kyk bietjie by https://dutoitspan.blogspot.com/. Schalk het dus in Clint Eastwood se liga gespeel wat gesê het: "Soos ons ouer word moet ons onsself dissiplineer om aan te hou leer en ons gedagtes en breine aktief te hou."

Hy was die gentleman met die das, baadjie en die Engelse pet. Passie, toewyding, geloof en opregtheid was die pilare waarop sy liefde vir sy werk gerus het. Hy het altyd gesê dat hy hierdie werk vir die Here doen en nie vir mense nie. Ds. Richard Holloway het gesê dat Schalk Pienaar 'n mentor vir menige predikant was, sonder dat hy dit geweet het.  Hy was inderdaad 'n man wat sy geloof in dade uitgeleef het.

Na 55 jaar ononderbroke diens het hy afgetree en op 24 Julie 2016 het die gemeente vir hom 'n afskeidsfunksie gegee. 

Lees: Skriba tree uit na 55 jaar. Klik HIER 
Lees ook: Die pos het my gekies ... Klik HIER

Johan Genis (kassier), Elsa Minne (koster), Elmi
Bean (skriba) ds. Kobus Klopper en Schalk Pienaar.
Boonste foto: Joe Fredericks (jarelange tuinier)