Showing posts with label Vrygewig. Show all posts
Showing posts with label Vrygewig. Show all posts

Friday, 19 June 2026

Goeie Nuus Nuusbrief: Hier is die moeilike antwoord

Swaarkry is aan die orde van die dag in ons land. Dit wemel van armoede. Brandstofpryse het die hoogte ingeskiet. Kospryse raak buitensporig. Dag na dag hoor jy van mense wat hulle werk verloor, en van ander wat nie genoeg geld het om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien nie. Hoe gemaak wanneer sulke mense aan jou deur kom klop? Jy kan tog nie almal help nie, maar jy weet ook jy moet sommiges help.

So, wie help jy? 

Ek wens daar was ‘n maklike antwoord op hierdie vraag. Daar is nie, maar daar is wel ’n moeilike antwoord. 

Hier is dit: help wanneer jy kan en help waar jy kan!

Jy kan nie almal se laste dra nie, maar jy kan wel een of twee mense s’n op jou skouers tel. 

Nee wag, jy moet. 

Galasiërs 6:2 sê: “Laai mekaar se swaarkry en seerkry op julle skouers. So leef julle volgens die wet, wat Christus vir julle gegee het.” (NNT) 

Jy kan nie die wêreld verander nie, maar jy kan een of twee persone s’n deur ‘n gebed, ‘n bord kos, ‘n besoek, of ’n ander daad van ontferming verskuif. Jy kan nie vir almal in die wêreld bid nie, maar jy kan volhardend vir ‘n paar persone bid wat die Here op jou radarskerm geplaas het. Jy kan nie alle armes versorg nie, maar jy kan seker maak dat een of twee mense nie met leë hande van jou af wegstap nie. 

* Doen dit getrou. 
* Leef mededeelsaam. 
* Leef vrygewig, soos wat die Here van jou vra.

[Stephan Joubert]

Dankie, Brahm, wat hierdie gedeelte aangestuur het. Hierdie stuk sluit Sondag aan by die Gelykenis van Petrus.

Sunday, 22 January 2023

Ons verantwoordelikheid ...

Dit is sonde om jou buurman te verag. Geseënd is hulle wat die behoeftiges help – Spreuke 14:21

Om die armes en diegene wat minder bevoorreg is as ons te help, is nie net ’n mooi ding om te doen nie, maar is, volgens die Bybel, ons verantwoordelikheid. God gee opreg om vir die armes en die behoeftiges, en dit wil voorkom asof Hy ’n spesiale plek in sy hart het vir die weduwees en weeskinders. Hulle is immers alleen en nie in staat om hulself te help nie. God gee ons ’n hart van medelye, maar ons moet meer as ’n barmhartige hart hê – ons moet ons oë oopmaak om te sien wie behoeftig is en ons hande oopmaak om die armes te help.

Die Bybel sê wanneer ons aan die armes gee, leen ons iets vir die Here. God sal enigiets wat ons gee om mense te help, oor en oor vir ons teruggee. Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, maar ons vreugde sal toeneem omdat ons met liefde gegee het. Ek spoor jou aan om wat jy het te deel met diegene wat minder bevoorreg is as jy.

Kraggedagte vir vandag: Ek is altyd genadig en vrygewig teenoor die armes.

[Hierdie is ’n uittreksel uit Kragtige denke vir elke dag deur Joyce Meyer.]