Showing posts with label Predikant. Show all posts
Showing posts with label Predikant. Show all posts

Friday, 29 May 2026

Terugflits: Die belofte van 'n krygsgevangene aan die Here

KOTZÉ, JACOBUS CORNELIUS GI­DE­ON (KOLIE) (1891–1979). 

’n Krygs­ge­vangene belowe aan God dat, as Hy sy siek vrou en seun sou spaar, hy die seuntjie aan die Here sou teruggee. Die seuntjie was Kolie Kotzé.

Met sy geboorte – dit was in die Anglo-Boereoorlog tyd was sy moeder uiters siek en vir die lewe van die seuntjie was daar weinig hoop. Toe sy vader in die tronk op Calvinia, waar hy weens die oorlogsomstandighede verkeer het, hierdie tyding kry, kniel hy daar neer om die gelofte te maak dat hy, as die Here hierdie eersgeborene van hom en sy eggenote tot die evangeliebediening sou roep, alles in sy vermoë sou doen om dit vir hom moontlik te maak om hom daarvoor te laat bekwaam.

Weens die beperkte onderwysgeriewe in die Noordweste van die dae word die seun byna 14 jaar oud voordat hy kan begin skoolgaan, maar toe reeds leef daar in sy hart die oortuiging dat die Here hom na die kansel roep. Hy vorder fluks en in weerwil van die erg moeilike omstandighede doen sy vader sy gelofte gestand deur sy enigste kind na die Jongenshoërskool op Stellenbosch te stuur.

Koli het sy teologiese studie op Stellenbosch voltooi, en hy word in 1928 gelegitimeer en word daarna hulpprediker op Bredasdorp.
 
Hy word volwaardige leraar op 25 Mei 1929 te Stanford. Vandaar is hy na Charl Cilliers en na Roodepoort in 1936. Later dien hy in die Transvaalse NG Kerk* as spesiale evangelisasie-prediker. Die Groote Kerk in Pretoria ondersteun hom terwyl hy in 1946 te Princeton in die VSA verder studeer. Die titel van sy doktorale tesis, The Divine Charge to the Christian in the Church, bevestig sy voorliefde vir evangelisasie*. 

Hy word later sekretaris van evangelisa­sie in die Kaapse Kerk, aanvaar in 1955 ’n beroep na Woodstock en word later in dié jaar na die Teologiese Kweekskool* beroep. Kotzé se beroep na die Kweekskool was vir baie ’n verrassing, maar hy het hom bewys as ’n praktiese teoloog en leermeester soos min. 

In die laaste paar jaar van sy vol en ryke lewe word hy die vader van Transwêreldradio (TWR), later Radiokansel in Suider-Afrika en byna tot sy dood behartig hy die onderneming se program, “Stuur U Lig.” Hy was tot sy dood hulle erepresident. 

Einde 1969 tree hy af, maar toe doen hy nog ‘n paar jaar lank met onversaagde ywer evangelisasie spreekkamerwerk in Kimberley (hospitaalleraar) waar hy ook vir die skoling van kerkraadslede en ander gelowiges verantwoordelik is en jaarliks ‘n predikantekursus reël, aan die Wes-Rand. 

Treffend is daar later van hom gesê dat hy uit sy passie vir siele en deur die Heilige Gees gedryf, “net Jesus Christus gelewe en verkondig het en dat hy ‘n sonderlinge liefdebode van die reddende genade van God” was.

[Klik HIER en HIERvir die oorspronklike berigte.]

Van die ouer gemeentelede sal onthou dat prof. Kolie, soos hy algemeen bekend was, dikwels in Dutoitspan-gemeente gepreek het, ook betrokke was by die skoling van die kerkraadslede in Dutoitspan en as hospitaalleraar sy voetspore ook in Kimberley gelos het.  

Friday, 7 November 2025

Deurboorde hande kan nie toemaak nie ...

'n Predikant het eendag 'n kantfabriek besoek. Die gids het hom by die deur ontmoet, en hom met die hand gegroet. Die gids was 'n groot sterk man, en die prediker het verwag dat hierdie gids se handdruk ferm sou wees, maar groot was sy verbasing toe die gids hom groet met 'n handdruk wat geen krag het nie.

Die gids was baie vriendelik en het die predikant dwarsdeur die fabriek geneem, en hom die mooiste, fynste kant gewys wat daar vervaardig word. Daar was vreeslike groot masjiene op die vloer, wat naalde van verskillende groottes gevat, en die mense wat die masjiene beman, het duidelik geweet presies wat hulle doen.

Na die toer deur die fabriek, het die prediker die gids mooi bedank, en weer sy hand uitgesteek om die gids te groet, en was weereens verbaas oor die groot man wat so 'n sagte handdruk het. Die gids moes die verbasing op die predikant se gesig gesien het, en toe vertel hy hom die volgende verhaal:
Ek sien jy is baie verbaas oor my handdruk, sê hy vir die predikant. U sien, jare gelede het ek by hierdie fabriek begin werk. Met verloop van tyd het ek myself opgewerk, totdat ek ook een van hierdie groot kantmasjiene kon behartig. Dit was vir my baie lekker om te sien hoe hierdie ragfyn kant deur my werkmanskap gevorm word. Eendag was daar egter 'n ongeluk, en my hand het onder die groot naald van die masjien beland, en dit het my hand heeltemal deurboor, en van daardie dag af kon ek nie meer my hand toemaak nie.

Die prediker het die gids gegroet en is toe daar weg, en op pad huis toe, het hy diep gedink oor dit wat die gids vertel het, en toe besef hy iets. Die gids se hand was deurboor, en nooit weer kon hy sy hand toemaak nie. En net so was die Hande van Jesus ook deurboor, en nooit kan Hy sy hand vir sy kinders toemaak nie.

Sy hand is altyd uitgestrek na ons, en dis nooit toe nie. Daardie deurboorde Hande is vandag nog vir ons oop. Al wat ek en jy moet doen, is om uit te reik en Sy hand te neem.

Here, hierdie gids het een hand gehad wat nie kon toemaak nie, maar U het twee hande wat deurboor is vir ons, wat nie kan toegaan nie. Dankie vir alles wat U so mildelik skenk. Ons gee U al die eer, lof en aanbidding.

Friday, 15 November 2024

Ontmoet ons personeel: Ds. Ensie Enslin


Ds. Ensie Enslin ken die hartklop van die inwoners van die Noord-Kaap. Daarom praat hy sommer padlangs en hartlangs met die inwoners as dit by die verkondiging van die Evangelie kom.

Sy Dutoitspan-reis het op 18 Februarie 2017 begin, toe die kerkraad ‘n 5-jaarkontrak met hom gesluit het tot 25 September 2022. Daarna het hulle ‘n verdere 3-jaarkontrak met hom aangegaan, vanaf 1 Oktober 2022 tot 30 September 2025.

Ds. Ensie, ‘n bekende Kimberliet, het diep spore in die bediening getrap. Sy lewensmotto kom uit die Bybel en wel uit Ps. 119:175, Hand. 17:11 & Efes. 5:16.

Ensie: “Ek probeer elke oomblik afhanklik van God te lewe tot Sy eer uit dankbaarheid, omdat Hy my van die geestelike ashoop van my lewe af opgetel het en tot vandag toe op Sy Vaderskoot styf vashou! Soli Deo Gloria!!! (Ps. 115:1)

Sy betrokkenheid strek veel verder as net die grense van die gemeente. Om met passie sy roeping uit te leef, noop Ensie om verder uit te reik. Daar is baie geleenthede wat die Here oor ‘n mens se pad bring om die evangelie met ander te deel – ‘n mens moet dit net gebruik.    

Ensie: “Buiten my gemeentelike verantwoordelikhede, doen ek die PLAN se kerkleierskapsopleiding (die hele suidelike Afrika), ek is betrokke by die "One Body Fraternal" van verskillende denominasies in Kimberley (jaarliks: Kersfees by die kerslig, Heilige Week en Pinkster en vanjaar was ek ook betrokke by "Closer to God" Konferensie & CfaN (Christ for all Nations) se "Fire Camp" te Kimberley (14-19 Oktober 2024) en ook 'n "Crusade" uitreik (21-26 Oktober) by skole, strate, voorstede, en AR ABASS-rugbystadium (Galeshewe en omgewing). Die weeklikse voedselverspreiding aan straat-werksoekers, die winterprojek waar komberse, serpe, mussies, handskoene en slaapsokkies (wat die senior burger-dames vanaf September tot April/Mei jaarliks brei en hekel), uitgedeel word.”

Tyd is gewoonlik ‘n faktor by besige mense en daarom moet hulle doelbewus tyd maak vir ander belangstellings. Wat is julle gesin se belangstellings?

Ensie: “Ons gesin is avonturiers en ‘explorers’ en geniet uitstappies, ons land se besienwaardighede, geskiedenis en klein dorpies. My groot belangstelling is die Bybel.”

Die kos wat ds. Ensie se hart ‘n bietjie vinniger laat klop, is ‘n afvalpotjie – dis eevoudig, maar dis hartskos. ‘n Gunsteling in baie mense se grootwordhuise en saam met die potjie, proe ‘n mens sommer die heerlike herinneringe wat in die smake van só ‘n potjie opgesluit lê.

Ds., jou lewensreis is geseënd, alhoewel jy ook hobbels, opdraandes en afdraandes op jou lewenspad ervaar het. Wat sal jou raad aan ander wees oor werk, huweliks- en gesinslewe?  

Ensie: “Vir my is daar drie steunpilare - FAT: Faith (geloof), Adaptability (aanpasbaarheid) en Teachability (leerbaarheid). Geloof in Hom wat ons bymekaargebring het en geloof in mekaar. Wees aanpasbaar in alle omstandighede, deur nie te kla of kerm wanneer omstandighede nie na wense is nie - maak die beste gebruik van elke geleentheid. Niemand van ons is altyd reg nie. Wees bereid om te leer. Ons weet ons het nie al die antwoorde nie, daarom leer ons voortdurend by ander (ook by ons kinders en mekaar.)”

Gelowiges se geloof in God word sigbaar wanneer hulle liefde in die wêreld rondom hulle uitleef. So dikwels is gelowiges die enigste Bybel wat die wêreldling gaan lees.

Klik HIER om meer van die herderspaar te lees.

Thursday, 8 August 2024

Die vurk

‘n Jong meisie is met ‘n terminale siekte gediagnoseer. Menslik gesproke het sy nog drie maande om te leef. Sy begin dadelik om haar sake in orde te kry. In ‘n gesprek met haar predikant versoek sy watter liedere sy graag op haar begrafnis wil laat sing, asook die skrifgedeelte wat hy moet lees.

Toe die predikant groet, onthou sy nog iets wat vir haar baie belangrik is. “Daar is nog iets, Dominee.” “Wat is dit?” 
“Ek wil graag met ‘n vurk in my hand begrawe word. Dis vir my baie belangrik.” 
Die predikant lyk verdwaas. “Wat ‘n eienaardige versoek”.
“By die restaurante waar ek al sosiale funksies bygewoon het, het iemand na die hoofdis, wanneer die eetgerei weggeneem word, gefluister: “Hou jou vurk.” Dan het ek geweet daar is nog iets heerlik wat gaan kom, soos veerligte sjokoladekoek of besonderse appeltert. So wil ek graag hê die mense moet my in my kis sien met ‘n vurk in my hand. Ek wil hê elkeen moet wonder en vra: “En die vurk? Waarvoor is dit?” Dan moet u antwoord: “Hou jou vurk, as jou saak met die Here reg is, kom die beste nog.”

Met trane in sy oë groet die leraar. Hy besef die jong vrou het ‘n wonderlike idee van die hiernamaals. Selfs beter as hy. Selfs beter as ouer gelowiges met baie meer lewenskennis. Sy WEET iets beter wag op haar, want haar saak met God is reg.

By die begrafnis hoor die predikant dan ook telkemale: “En die vurk?” En hy glimlag net. In sy boodskap verduidelik die leraar die meisie se uitsonderlike wens en wat dit simboliseer. Hy getuig hoe die mooi storie in sy gedagtes bly.

“Ek is seker elkeen van julle gaan ook oor en oor daaroor dink.” 

Hy was reg. En elke keer wanneer jy jou vurk optel, onthou: As my saak met God reg is, is die beste nog op pad!!!

Toepassing: 
Koester die tyd wat jy nog gegun word. Maak seker jou saak met God is reg. Jesus sê in Joh 14:6 “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe, NIEMAND kom na die Vader toe behalwe deur MY nie”.
Die beste wat voorlê kan NET joune wees as jou saak met God reg is! DAN lê die beste deel nog vir jou voor!

Hou jou vurk gereed kind van God ... Die beste lê nog voor!!! 

[Dankie, Valerie, ons waardeer jou gereelde bydraes.]