Die gids was baie vriendelik en het die predikant dwarsdeur die fabriek geneem, en hom die mooiste, fynste kant gewys wat daar vervaardig word. Daar was vreeslike groot masjiene op die vloer, wat naalde van verskillende groottes gevat, en die mense wat die masjiene beman, het duidelik geweet presies wat hulle doen.
Na die toer deur die fabriek, het die prediker die gids mooi bedank, en weer sy hand uitgesteek om die gids te groet, en was weereens verbaas oor die groot man wat so 'n sagte handdruk het. Die gids moes die verbasing op die predikant se gesig gesien het, en toe vertel hy hom die volgende verhaal:
Ek sien jy is baie verbaas oor my handdruk, sê hy vir die predikant. U sien, jare gelede het ek by hierdie fabriek begin werk. Met verloop van tyd het ek myself opgewerk, totdat ek ook een van hierdie groot kantmasjiene kon behartig. Dit was vir my baie lekker om te sien hoe hierdie ragfyn kant deur my werkmanskap gevorm word. Eendag was daar egter 'n ongeluk, en my hand het onder die groot naald van die masjien beland, en dit het my hand heeltemal deurboor, en van daardie dag af kon ek nie meer my hand toemaak nie.
Die prediker het die gids gegroet en is toe daar weg, en op pad huis toe, het hy diep gedink oor dit wat die gids vertel het, en toe besef hy iets. Die gids se hand was deurboor, en nooit weer kon hy sy hand toemaak nie. En net so was die Hande van Jesus ook deurboor, en nooit kan Hy sy hand vir sy kinders toemaak nie.
Sy hand is altyd uitgestrek na ons, en dis nooit toe nie. Daardie deurboorde Hande is vandag nog vir ons oop. Al wat ek en jy moet doen, is om uit te reik en Sy hand te neem.
Here, hierdie gids het een hand gehad wat nie kon toemaak nie, maar U het twee hande wat deurboor is vir ons, wat nie kan toegaan nie. Dankie vir alles wat U so mildelik skenk. Ons gee U al die eer, lof en aanbidding.