* So 'n tyd gelede was die springkaanplaag weer erg in dele van die Noord-Kaap. Na die vroeë somerreën was dit al waaroor die boere gepraat het. By die kinders se sportgeleenthede, sommer voor en na kerk en veral op die koöperasie se stoep.
In een so 'n gesprek vra 'n dorpenaar aan 'n boer: "Is die springkane vanjaar baie?"
"Nee wat," antwoord hy. "Die springkane is nie so baie nie. Hulle families is net so gróót!!"
* 'n Sakeman gaan so 'n paar jaar gelede sy TrustBank-bestuurder sien. Hy het 'n wonderlike plan om geld te maak en wil R2 miljoen daarvoor hê.
In daardie dae het TrustBank-bestuurders makliker ja gesê en ons vriend kry die geld.
'n Jaar later is hy terug. Dit het nie so goed gegaan as wat hy gehoop het nie. Die R2 miljoen is daarmee heen en hy het nog R5 miljoen nodig. Hy kry dit en verseker die bestuurder sake kon erger gewees het.
Ses maande later is hy terug. Dieselfde storie. Die keer begin die bestuurder ongemaklik voel. Maar ons sakeman kalmeer hom. "Moenie opgewonde raak nie, man. Dit kon erger gewees het."
"Wat bedoel jy daarmee?" wil die bankbestuurder weet. "Jy het ses maande gelede ook gesê dit kon erger gewees het. Intussen het jy R7 miljoen van die bank se geld verloor."
"Ja," antwoord die sakeman. "Dit kon my eie geld gewees het."
[Bron: Finansies & Tegniek, 7 Junie 1996: geniet die grappies van die negentiger jare!]