Saturday, 8 November 2025

Kerkgenotjies: Predikante

* Die vloede het regtig aansienlike skade in die Noord-Kaap veroorsaak. Onrustige mense hou die weer nougeset dop aangesien dit elke oggend dreigend lyk. 'n Predikant gaan doen huisbesoek by 'n boer wat verskriklik skade gely het tydens die storm. 
Dominee aan die boer: "Jy lyk nie so bekommerd soos die res van die gemeenskap nie. Hoekom nie?"
Boer: "Dominee, ek sal eers begin bekommerd raak as die diere twee-twee begin aanstap."  

* Die predikant doen huisbesoek by 'n boer wat bekend daarvoor is dat hy te dikwels diep in die bottel kyk. Dit gebeur juis op 'n dag dat die boer nie heeltemal by is nie.
"Broer, sê my, hoeveel plase het jy al in jou lewe uitgedrink?"
"Goeie vraag, dominee," antwoord die boer. "Maar sê my, waarom moet jy as 'n byna geheelonthouer dan in 'n huurhuis bly?"

* Gehoor wat die predikant op 'n vlug tussen Johannesburg en Kaapstad gesê het toe die lugwaardin vir hom 'n drankie wou aanbied?
"Nee dankie, ek drink nie so na aan die hoofkantoor nie." 

[Finansies & Tegniek, 23 Februarie 1996]