Showing posts with label Skyfskiet. Show all posts
Showing posts with label Skyfskiet. Show all posts

Tuesday, 3 June 2025

Wenners van die skyfskietkompetisie


Tiaan Visagie 100/150 punte (4-9 jr.)

JJ Marais 115/150 punte (10-14 jr.)

Jolene de Klerk 115/150 punte (15-99 jr.)

Baie baie geluk! Julle is voorwaar wenners!

Sunday, 5 May 2024

Skyfskiet is nie spek skiet nie ...

Daar was gister vir 'n ieder en 'n elk 'n aktiwiteit om te doen. En een van die lekkerste aktiwiteite vir die seuns was skyfskiet! En op die koop toe was daar heerlike pryse as aansporing - 3 springbokke! Dit kos 'n springbokskut om 'n springbok te wen!

Die hele dag is sake uitgespook en het hulle mekaar opgedreun. En so teen halfdag was die koeël deur die kerk en die wenname op die tafel.

In die tienerafdeling het Tristan de Jager en Adriaan Buitendag mekaar goed opgekeil. Die verrassende einde is dat hulle altwee met 175 punte seëvier.    

In die laerskoolafdeling spog Tiaan Visagie met 'n stewige 140 punte! Duidelik 'n man wat nie bang is vir 'n skoot hael nie.

Baie geluk aan hierdie waardige wenners wat bokspronge van vreugde gegee het. Ons is trots op julle!

Wednesday, 2 August 2023

Groot gif kom in klein botteltjies

Tydens Dutoitspan se gesellige basaar Saterdag, het die meisies die botoon by die skryfskietkompetisie gevoer. Die basaar was immers aan die vooraand van vrouemaand ... Daarmee onderstreep hierdie drie sommer die feit dat die vrouens die pas aangee - soos wat Liané Kruger, Loreley Wolhuter en Jolene de Klerk dit prakties bewys het! 
   
In die ouderdomskategorie van 4-10 jaar het Liané Kruger (7 jaar) skoonskip gemaak met 140/150 punte.
Liané Kruger
In die ouderdomskategorie van 11-15 jaar het Loreley Wolhuter (11 jaar) met die louere weggestap met 103/150 punte.
Loreley Wolhuter
In die laaste kategorie waar almal van jonk tot baie ervare (lees: oud) kon meeding, het Jolene de Klerk stof in hulle oë geskop (lees: geskiet) en het sy met 90/150 punte geseëvier. Ten spyte van die feit dat daar in hierdie kategorie deelnemers was met jare se ondervinding.

Wat hierdie wenners meer spesiaal maak, is dat die jongste wenner die hoogste punte behaal het en dat Loreley Wolhuter 'n Nederlander is wat vir haar oupa Rinus en ouma Selma Slabbert in Kimberley kom kuier het. 

Ds. Ensie het van die kansel af gesê dat die manne nie hond haaraf kon maak nie.

Een ding is dus baie duidelik na Saterdag ... die manne moet hierdie tydjie tot en met die volgende basaar gebruik om te oefen! Sterkte, Manne ... sien julle daar!