Showing posts with label Rykdom. Show all posts
Showing posts with label Rykdom. Show all posts

Saturday, 1 August 2026

Kerkgenotjies: Las van Bobbejane

'n Noord-Kaapse boer het baie las van bobbejane gehad. Toe kom daar eendag 'n man op die plaas kuier en hy sê hy sal van die bobbejane ontslae raak.

Hy gaan toe na die leier van die trop toe, fluister iets in sy oor, en die bobbejaan gaan lekker aan die lag; toe fluister hy weer iets en die bobbejaan gaan bitterlik aan die huil.

'n Derde keer fluister hy iets in sy oor en toe hol al die bobbejane weg. Die boer wou toe weet wat die man aan die bobbejaan gefluister het.

"Wel, die eerste keer het ek vir hom gesê dat ek 'n akteur is. Toe het hy baie lekker gelag. Die tweede keer het ek vir hom gesê wat my salaris is. Toe het hy begin huil. Die derde keer het ek gesê dat ek daar is om nuwe akteurs te werf vir 'n nuwe TV-reeks. Toe het almal weggehardloop terwyl die son nog skyn."

Tuesday, 7 July 2026

Koop die tyd uit ...

Hoe ouer mens word, hoe meer en meer besef jy dat 'n R70-horlosie presies dieselfde tyd aangee as 'n R7000 een.
 
Of jy nou 'n R70- beursie het of 'n R700-beursie, die bedrag binne in die beursie se waarde bly dieselfde.
 
Of jou huis sewentig vierkante meter is of sewehonderd vierkante meter, die eensaamheid en hartseer of vrede en geluk binne die huis bly dieselfde.
 
Hopelik sal ons almal eendag besef dat innerlike vreugde en vrede nie van fisiese besittings of rykdom afhang nie.
 
Of jy nou eerste klas of ekonomiese klas in 'n vliegtuig reis, as die vliegtuig val, val jy saam!

Daarom moet ons verstaan dat as ons ware vriende het, boeties en sussies saam met wie jy kan lag en huil en sing en bid en gesels oor alles en nog wat, dat dít eintlik WARE rykdom is ...
 
Geniet die mense rondom jou wat God oor jou pad gebring het, want hul waarde is onmeetbaar.
 
Vertel vir hulle hoe kosbaar hulle vir jou is en hoe belangrik hulle voetspore in jou lewe is.
 
Wees ook dankbaar vir diegene wat jou wieletjies pap maak en jou geduld beproef, want jy leer waardevolle lewenslesse deur hulle.
 
Vergewe en maak reg terwyl daar nog tyd is.
 
Wees dankbaar dat jy 'n gesin en vriende en familie het.
 
Hulle is net vir jou geleen, en eendag gaan jy hul werklike waarde besef as jy hulle leë stoel of plekkie raaksien ...
 
Besef vandag opnuut dat sonder God in jou lewe, alles eintlik 'n sinnelose gejaag na wind is.
 
Ons hou ons besig met soveel dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, terwyl ons eintlik moet voorberei vir 'n ewigheidslewe saam in die hemel.
 
So kom ons koop die tyd uit, want tyd is die een ding wat ons nooit weer terug kan kry as dit eers verby is nie.

Tuesday, 23 June 2026

'n Verhaal wat 'n mens aan die dink sit

Op 'n dag kom 'n vrou uit haar huis en kry 3 ou mans wat reg voor haar erf sit. 

Sy dink toe by haarself hulle moes seker ver gereis het en is seker doodhonger en moeg. Sy vra toe of hulle nie dalk wil inkom vir ete nie. Die eerste ou man vra toe: "Mevrou, is jou gesin tuis?"
Sy sê toe hulle sal nou enige tyd hier wees, waarop hy antwoord. Dan sal ons later inkom. 

Bietjie later toe die pa en sy dogter opdaag, gaan sy weer uit en nooi sy weer die ou mans in vir ete, maar dié keer sê die een ou man vir haar: "My naam is Rykdom, my ander 2 vriende is Geluk en Liefde, maar net een van ons kan inkom en by julle kom kuier. So die keuse lê by julle. Wie verkies julle moet saam julle kom maaltyd hou?"

Die vrou is toe weer in die huis in en vertel haar man van die snaakse gebeure buite. Die man sê toe vinnig, nooi vir Rykdom in, ons kan nogal doen met 'n miljoen, kyk net hoe lyk ons huis." Die vrou sê: "Ek weet, maar ek verkies steeds Geluk, dit is hoog tyd dat ons ook 'n bietjie geluk in ons lewe moet hê." 

Die dogtertjie wat ook aan tafel sit, skree toe: "Ek kies Liefde, Mamma, asb. laat Liefde inkom. Die ma en pa wat nou altwee na haar kyk, terwyl haar ogies helder blink van opgewondenheid, stem toe in. "Goed, my kind, laat dit dan Liefde wees."

Die vrou hardloop toe weer na buite en vra wie van die mans is nou weer Liefde en kan Liefde asb. inkom. Toe staan al drie mans glimlaggend op en begin na die deur toe loop. Die vrou sê: "Ek verstaan nie; U het gesê net een kan inkom." Toe antwoord Rykdom: "Mevrou, waneer jy Liefde kies, dan volg Rykdom en Geluk ook, want waar Liefde gaan, gaan ons!!"

Hierdie storie is net om julle te herinner hoe belangrik Liefde is. God is Liefde en wie Hom innooi, ervaar al die seëninge wat Hy aan jou wil skenk, want sonder Sy Liefde, is daar geen GELUK en beteken RYKDOM net mooi niks.

[Dankie, Rosetta]

Saturday, 16 May 2026

Kerkgenotjies: 'n Manier om ouers te beïndruk??

Twee universiteitsmaats het besluit hulle gaan elk met een van daardie ryk meisies uit die hoë kringe trou. 'n Kits kortpad na die regte kontakte, daaropvolgende rykdom en roem nie uitgesluit nie. 

Kobus ontmoet toe 'n meisie en besluit om Hannes saam te neem sodat hy hom 'n bietjie moed kan inpraat. 

Kobus se ore suis van spanning.

Nadat hulle voorgestel is, glimlag die meisie se pa vir Kobus en sê: "Ek verstaan jou pa is 'n kleinhandelaar?"
Kobus sê beskeie: "Ja, nie eintlik iets watwonders nie."
Hannes klop hom op die rug en sê: "Dié Kobus is tog so beskeie. Sy pa het 'n reeks klerewinkels, nie minder as 25 nie."
Die moeder sê: "Ek verstaan jy het 'n woonstel."
Hannes: "'n Woonstel? Hy het 'n gebou in Venesië!"
Die ouers vervolg: "En jy het 'n motor?"
Hannes lag: "Hy - 'n motor? Hy het drie Rolls-Royces ... en dit is net vir die stad!"
Toe begin Kobus nies.
"Het jy verkoue?" vra die angstige ouers.
"Verkoue?" roep Hannes. "Hy het turberkulose!"

Sommer gou het die ouers presies geweet hoe sake staan.

Tuesday, 8 July 2025

Mandjie Hoop: Maak skatte in die hemel bymekaar

Matteus 6:19-21 sê:

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie ...
Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar ...
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Hoe kan jy nou hierdie koninkrykbeginsel prakties uitleef?
Hoe kan jy perspektief behou, in terme van die materiële in jou lewe?

Kies die krag van eenvoud.
Leef binne jou inkomstegrens. Koop minder.
Jy het nie die grootste, beste en nuutste nodig nie.

Konsentreer op die dinge wat die kosbaarste is in die lewe,
en wat geen geld kan koop nie.
Verhoudings, liefde, tyd, gesondheid.
Die grootste gawes van God!

Ontwikkel jou waardering vir die klein dingetjies in die lewe.
Dit kom ook alles van God af!
Sien dit raak en koester dit.

Onderskei wat die advertensie nou eintlik aan jou wil verkoop.
Status, mag, gewildheid ...

Vrygewigheid help om op die koninkryk gerig te wees.
Gee eerder, as om te ontvang.
Gee eerder die einste goed wat jy wil hê, weg!
Vrygewigheid help jou om vry te kom van “goed”.
Eenvoud, uitreik, en omgee, maak jou vry van “goed”.

Leef hierdie koninkryks-avontuur!
Maak saam met die Here skatte in die hemel bymekaar.
“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees,” sê die Here Jesus.

[Bron: Klik HIER]

Tuesday, 1 July 2025

Mandjie Hoop: Koop die regte aandele

Daar is nie fout om baie besittings te hê nie. Die probleem lê daarin dat jou rykdom jou identiteit vorm. Jy is wat jy besit. (Luk. 18)

Mense van aansien en rykdom, word dikwels in koerante en in die media deur die wêreld aangeprys. Gewone mense verdwyn eenvoudig in die massa. Hulle lewe lyk vir die man op straat onbelangrik. Jakobus help ons egter met hierdie siening. Gaan lees dit gerus as jy die dag plat op die grond sit, omdat jou besittings nie die wêreld se standaarde ewenaar nie. Rykdom wat ewigheidswaarde het, is jou kennis van God, jou verhouding met God en jou betekenisvolle verhouding met ander mense. Belê jou rykdom in die Ewigheidsbank. (Matt 6: 19-21) 

Friday, 16 May 2025

Rykdom is belasbaar

'n Belastinginspekteur kom eendag by 'n Christen aan om vas te stel hoeveel belasting hy moet betaal.
"Hoeveel besittings het jy?" vra die man van SARS.
"Ek is regtig baie ryk," antwoord die Christen.
"Gee my 'n lys van al jou besittings, asseblief," vra die agent.
Die Christen antwoord:
1. Ek het die Ewige Lewe - Joh. 3:16;
2. Ek het 'n huis in die hemel - Joh. 14:2;
3. Ek het vrede wat alle verstand te bowe gaan - Fil. 4:7;
4. Ek het onuitspreeklik vreugde - 1 Pet. 1:8;
5. Ek het liefde wat nie vergaan nie, -1 Kor. 13:8;
6. Ek het goeie en betroubare vriende (op WA en ook op FB) - Spr. 18:24;
7. Ek ken geen vrees nie - Hebr. 13:6;
8. Ek het die kroon van die lewe - Jak. 1:12"
Die agent maak sy boek toe en sê: "Meneer, jy is waarlik skatryk, maar jou rykdom is nie belasbaar nie."

Deel hierdie rykdom met almal wat jy lief het.

[Internet]

Tuesday, 25 March 2025

Mandjie Hoop:

Waardeer jou lewe,
Waardeer jou gesondheid,
Waardeer jou geliefdes,
Waardeer jou vriende,
want al hierdie dinge wat
geld nie kan koop nie,
wys jou waar jou ware
rykdom is.
[Dankie,Ena]