Showing posts with label Sukses. Show all posts
Showing posts with label Sukses. Show all posts

Saturday, 30 May 2026

Basaar-dankies!

Dankie vir ’n wonderlike Dutoitspan-basaar! En vanaand kan elkeen betrokke met seer voete, moeë glimlagte, maar met dankbare harte sê dat dit 'n sukses was.   

* Ons wil dankie sê aan almal wat só hard gewerk het agter die tafels en agter die "basaargordyn" om vandag 'n dankbare sukses te maak. 
* Aan elkeen wat gehelp het met voorbereidings, skenkings, stalletjies, kosmaak, opruim en al die harde werk agter die skerms. Sonder julle ekstra myle sou dit nie moontlik gewees het nie.
* 'n Spesiale dankie aan Christelle en Mittah (Christina Kiddie se kok) vir die maak van die kerrie-en-rys en die heerlike lewerkoekies. Hierdie bydrae word opreg waardeer.
* Dankie Rhodesdene Pick 'n Pay vir die skenk van bestanddele, asook die plastieksakke vir die kospakkies.
* Dankie vir die ondersteuners en hulle wat saamgekuier het.
* Dit was ’n geseënde dag vol samehorigheid, lag en mooi herinneringe.
* Mag julle elkeen ryklik geseën word.

Rus vanaand goed en ons hoop om julle almal DV volgende jaar weer te sien.

Thursday, 11 December 2025

Dink hieroor: Jou denke

Ons lewenskwaliteit en suksesse wat ons in die lewe behaal, word deur ons denke oor ons omstandighede bepaal. Dit is ons DENKE wat ons motiveer of demotiveer om iets te doen, betrokke te raak of om te onttrek. 

Ons moet daagliks doelbewus daaraan werk om hierdie hierdie kritieke waarheid te kan toepas, maar belangriker nog is dat ons dit vir ons kinders moet leer.

Die manier HOE jy dink, bepaal ook HOE jy na jou omstandighede kyk en daarom is dit een van die  belangrikste opvoedingstake wat ons het. Goeie karatereienskappe is 'n groter geskenk as modeklere en moderne speelgoed. Rus jou kind toe met eienskappe wat hom of haar deur hul lewe kan dra.

Dit is dus ons DENKE oor ons omstandighede wat ons suksesse bepaal.

Sit en gesels met jou kind en stel vas hoe hulle oor sekere aspekte van die lewe voel en jy sal maklik kan vasstel watter karaktereienskappe kort 'n bietjie aandag en watter onsekerhede is reeds uit die weg geruim.

Onthou, jy lê die fondasie vir jou kinders se lewenskwaliteit. Dink daaroor hierdie Kersfees as jy met die duur onnodige speelgoed in jou hand staan. Gaan hierdie speelgoed wat ek op my kredietkaart gaan koop, bydra tot my kind se mensweessuksesse of sus ek my ouergewete?? 

Thursday, 6 November 2025

Dink hieroor: Een pad na sukses

Ons doelwitte kan slegs bereik word deur 'n voertuig van 'n plan, waarin ons vurig moet glo, en waarvolgens ons kragtig moet optree. Daar is geen ander pad na sukses nie.” 

[Stephen A. Brennan]

Friday, 17 October 2025

Matrieks: Baie sterkte, kalmte en genade ...


Sukses is iets wat jy self bepaal. 
Dis om te werk as ander rus; 
aan te hou te midde van teenstand; 
altyd te beur na ’n ver wenpaal. 
Sukses is ’n droom, ’n ideaal.
Dis om in die sleurwerk van elke dag 
iets anders en beters te sien wag, 
en deur aanhou en uithou 
uiteindelik daardie droom te verwesenlik.

Thursday, 22 August 2024

Verhaal: Goeie buurmanskap

‘n Suksesvolle graanboer in Amerika het jaar na jaar met die trofee by die landbouskou weggeloop. Kom ons noem hom Boer Jan. Sy medeboere het geglo dat dit sy bankbalans was wat hom so suksesvol gemaak het. Hulle was te bang om hom vir sy geheime plantresep uit te vra, want daar was maar, soos in enige bedryf, ‘n bietjie jaloesie onder die manne.

Maar die TV-joernalis het hom prontuit gevra waaraan hy sy sukses van die afgelope drie jaar toeskryf. Sonder om te aarsel het die boer geantwoord: “Natuurlik belê ek in die heel beste saad, want dis die begin van ‘n goeie oes. Maar dis nie waar my geheim lê nie.”

Die spanning het opgebou. Die meeste boere het ook goeie saad aangeplant, maar nie een het Boer Jan se kwaliteit graan geoes nie.

“My geheim lê in my bure,” het Boer Jan geantwoord, “Ek maak jaar vir jaar seker dat al my bure presies dieselfde saad gebruik as ek. Dit doen ek deur vir hulle die saad te gee.”

“Maar dit moet jou ‘n fortuin kos!” het die joernalis uitgeroep. En wou weet waarom hy die onekonomiese strategie volg.

“Dis doodeenvoudig” was Boer Jan se rustige antwoord. “Die wind waai die stuifmeel na ons almal toe, en as my bure met swak saad boer, sal dit my oes beslis ook raak. Vandat ek my saad met hulle almal begin deel het, het dit die gehalte van die graan in ons omgewing op standaard gekry en ons pluk almal saam die vrugte daarvan. Dit was ook sommer goed vir goeie buurmanskap. Daar is geen kompetisie tussen ons nie, ons vat hande en ons maak almal saam seker dat daar geen minderwaardige graan in en om ons plase verbou word nie.”

Dis 'n mondvol en 'n hartvol om te verteer.

[Dankie, Estelle, vir die aanstuur van hierdie verhaal. Besoek gerus Lynette se webwerf HIER, lees meer omtrent die kursusse, kry inspirasie of koop sommer 'n boek aanlyn.]  

Monday, 22 July 2019

Kyk na die natuur en leer ...

Gaan kyk na ‘n appelboom.

Daar kan 'n honderd of selfs vyfhonderd appels aan 'n boom wees, elk met tien sade in die kern. Dit is 'n klomp sade vir een so 'n boom. 'n Mens kan maklik vra: "Hoekom het 'n mens so baie sade nodig net om te verseker dat 'n paar ekstra appelbome sal opkom?"

Die natuur het iets om ons te leer. Dit vertel ons: "Baie van die sade groei nooit nie. Dus as jy wil hê dat iets moet gebeur, moet jy beslis bereid wees om meer as een keer te probeer."

Dit mag beteken dat ...
jy twintig onderhoude sal moet bywoon om een werk te kry.
jy met veertig mense onderhoude sal moet voer om een goeie werknemer te kry.
jy met vyftig mense sal moet praat om aan hulle 'n huis, 'n motor, 'n polis of 'n idee te verkoop.
jy 'n honderd kennisse sal moet ontmoet om een spesiale vriend te vind.

Wanneer ons die "wet van die natuur" verstaan, sal ons nie so maklik teleurgestel word nie. Ons sal ophou om soos slagoffers te voel. Die wet van die natuur is nie iets wat persoonlik opgeneem moet word nie. Ons moet dit net verstaan en daarmee saamwerk.

In ‘n neutedop kan ons dus sê: Suksesvolle mense faal dikwels. Hulle plant egter meer saad as die onsuksesvolles.

Friday, 26 April 2019

Sukses ...


Tuesday, 13 November 2018