Monday 3 December 2018

Musiekjuwele ...

Mev. AR van der Westhuizen het vir baie baie jare op dié musiektydskrif ingeteken. Vanaf die laat 1920's tot die laat 1940's. Die kwaliteit van hierdie tydskrif is baie goed, veral as die ouderdom van die tydskrifte in ag geneem word. Hierdie maandelikse tydskrif is dwarsdeur die Tweede Wêreldoorlog gedruk en oor die wêreld heen versend. 'n Mens wonder onwilllekeurig of hierdie Amerikaanse tydskrif per skip of per vliegtuig versend is.
Hier is 'n paar foto's van die buiteblaaie van die tydskrifte. Mev. Van der Westhuizen het hierdie tydskrifte vir Alda gegee toe sy en haar man Strand toe verhuis het en nou het dit hulle regmatige plek gekry by haar wêreldberoemde kleindogter, wat tans 'n professor in musiek aan die UOVS is.

Die Etude was 'n Amerikaanse tydskrif wat deur Theodore Presser (1848 - 1925) begin is. Die eerste tydskrif is in Oktober 1883 gedruk en die Theodore Presser Maatskappy het voortgegaan om hierdie gespesialiseerde tydskrif uit te gee tot 1957. Tans is die 1930 - 1940-uitgawes so R554,65 werd, afhangende van die toestand van die tydskrif.

Mev. Van der Westhuizen het ook haar eie "biblioteek" gehad. Dit was vir haar belangrik dat haar musiekleerders op hoogte van die komponiste se lewens moes wees. Daarom het sy elke week vir haar leerders 'n boek gegee om te lees en dan moes hulle vir haar die storie vertel. Hierdie agtergrondskennis van die komponiste was volgens haar broodnodig om die musiek beter te verstaan.