Tuesday 25 December 2018

2018: Geseënde Kersfees ...

Die beelde wat Kersfees by 'n mens oproep, is gewoonlik aangenaam: Familie en kinders rondom ‘n kersboom, geskenke en heerlike kos. Mense wat lag en gesels en gelukkig is.

Maar, daar is ook diegene wat baie eensaam tydens dié feesseisoen is, ook in Dutoitspan-gemeente, wat nie deel in die vreugde van Kersfees nie. Christene en ook baie nie-Christene vier almal Kersfees.

Wat, na meer as 2 000 jaar, maak dat dit nog steeds só ‘n belangrike geleentheid is; 'n geleentheid sonder ‘n vervaldatum? 

Dit gaan oor ‘n Koning wat sy alles gegee het – Sy enigste Seun, Jesus Christus, wat gekom het om die wêreld te red – om ons as sondaars van ‘n ewige verderf te red . Dit is die enigste rede waarom ons Hom moet loof en prys. En in die feestyd doen ons dit deur Kersliedere te sing wat oor ‘n baie spesiale Koning gaan.

Hoe kan ek my deeltjie vir hierdie Koning doen? 

Het jy Hom lief en het jy jou naaste lief, diegene wat daagliks jou pad kruis? 

Dit is wat Hy van ons vra. Ons word opnuut gedurende die kersgeleentheid daaraan herinner om alle eer en dank aan hierdie Koning wat Sy alles vir ons gegee het, te bring. Kersfees is veel meer as geskenke, gesellig bymekaar kuier en kersliedere sing. Dink gerus daaroor na.

Die beste plek vir ons om in 2019 te wees, is in die holte van Sy hand.

Mag dit vir jou en vir jou familie ‘n mooi en 'n geseënde Kersfees wees.