Saturday 22 December 2018

Ma Snyman en ds. Raats ...

'n Baie bekende figuur, nie net binne ons gemeentegrense nie, maar ook in Kimberley, was Ma Snyman. Sy het in Dixonplek gebly. Ek glo nie iemand het ooit haar regte naam geken nie. Vir oud en jonk, was sy net Ma Snyman. Sy was 'n onderwyseres by Dutoitspan Laerskool, in die tyd toe oom Gouwsie (mnr. HG Gouws) die skoolhoof was.

In daardie jare, 1950's, 1960's en 1970's het kinders nog gevoel as hulle nie in hulle spoor getrap het nie. Sy was 'n besondere streng vrou, maar met 'n goeie skoot humorsin. Indien een van die leerders in haar klas straf moes kry, het sy hom met 'n briefie na die skoolhoof gestuur met die volgende woorde: "Salig is hy wat arm van gees is ..." En dan moes die skoolhoof maar na goeddunke die straf uitdeel.

En terwyl ons in Dixonstraat is, gaan maak ons 'n vinnige draai by die huis van mnr. en mev. Raats. Hulle het nie ver van Ma Snyman af gebly nie. Hulle seun het vir predikant gaan leer. 'n Groot en indrukwekkende man wat bekend was daarvoor dat hy nie van wanorde in die kerk gehou het nie.

Ds. AD Raats
Voordat die diens begin, het hy vir die kinders gesê dat almal wat wil draaie loop, dit dadelik moet doen, want hy wil nie kinders hê wat tydens die diens rondloop nie. Indien daar wel een of ander dapper of ongehoorsame kind was, het hy stilgebly, en die kind met sy oë tot by die deur gevolg en as die kind terugkom, dieselfde hantering. Ouers het dus gesorg dat hulle kinders stilsit, want die feit dat die hele gemeente se volle aandag op jou kind gevestig is, was vir baie 'n verleentheid.

Hy het direk met ouers wat hulle kinders ten doop gebring het, gepraat. Hy was nie 'n man wat doekies omgedraai het nie. Hy het die verantwoordelikheid wat ouers teenoor kinders het, direk vir hulle gesê, ook dat dit jou Christelike plig en roeping is om jou kind in die vrese van die Here groot te maak. Hy was lief daarvoor om vir die ouers te sê: "Hier is julle 'marching orders.'"

Hy het tydens die eeufeesvieringe van die kerk in 1972, hier gepreek. Dutoitspan het 'n besondere plek in sy hart gehad, aangesien hy 'n gemeenteseun was, wat self as predikant die Woord verkondig het.