Sunday 28 January 2018

Dutoitspan se noot vir 'n noot...

Die gemeente se orrel vra na meer as 60 jaar dringende aandag. Niemand van ons is so gelukkig om nooit in 60 jaar dokter toe te gaan nie - in kort, ons kort nou die bekwame hande van 'n "orreldokter" en dit kos geld!

Die oplossing? 'n Orrelfonds! Ons kort dringend papiernote vir die kerk se orrelnote!!

Hiervoor benodig ons elkeen se heelhartige samewerking en toewyding. 'n Klein bietjie agtergrond oor die orrel, sal ons net meer motiveer as ons weet waarvoor ons werk.

Ons sal later kyk na die begin-geskiedenis van die orrel. Ons gaan net so ver terug soos 1954. Baie vroeg in 1954 het dit duidelik geword dat die orrel dringende aandag nodig het, die toestand van die orrel was om die minste te sê, treurig! Daar moes 'n dringende besluit geneem word of daar herbouing moet plaasvind en of die orrel met 'n nuwe een vervang moes word. Geen ligtelike besluit nie.      

Hoewel daar op daardie stadium nie dadelik aandag aan die orrel gegee kon word nie, weens ander groot verpligtinge, het die koorlede onder leiding van die orreliste, mev. AR van der Westhuizen besluit om 'n orrelfonds te loods.

Later het ds. C Theron en die gemeentesusters (bekend as die huisvlytsusters) 'n reuse aandeel aan die insameling van fondse gehad. Die hele gemeente was gemobiliseer, want almal het besef dat die nood (noot...) hoog is!

Die kerkraad het toestemming verleen dat daar vanaf April 1955 wyksfunksies gehou kan word ter stywing van die orrelfonds. Die kerksraadslede van die onderskeie wyke het hulle wykslede aangespoor, want daar was so 'n onderlinge kompetisie oor wie nou eintlik met die beste fondsinsamelingsplan voor 'n dag sou kom.

Intussen is tenders aangevra en uiteindelik word die tender vir die firma R Muller vir 2 750 pond (R5 500,00) gegee. Met die toevoeging van die klokkespel (min kerkorrels beskik hieroor), sierpype en die aanbring van deurlopende paneelwerk op die galery, het die bedrag op 3000 pond (R6000,00) te staan gekom. Die spieël, die raamwerk en gordyn, asook die twee waaiers, is deur goedgesinde persone geskenk.

 Anmarie van der Westhuizen, 
Pieter  van der Westhuizen en
Die naweek van 2 - 4 Maart 1956 het die orrelinwyding plaasgevind. Die kinders het die geleentheid gehad om Vrydagaand na die musiekprogram en kantate-uitvoering te kon luister. Die werklike inwyding het dié Saterdagaand plaasgevind. By hierdie geleentheid het ds. C Theron die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen en almal baie hartlik verwelkom. Mev. AR van der Westhuizen het, nadat sy die sleutel van die orrelbouer, mnr. W Zimnier, ontvang het, die herboude orrel oopgesluit.

Die gemeente het as lofsang Ps. 146 vers 8 gesing en daarna het prof. dr. Jac J Muller van Stellenbosch die wydingsrede gehou.

In die musiekprogram wat gevolg het, is pragtige orrelspel deur mnr. Septimus Smuts en sangstukke deur mnr. Frank Scheepers en mev. Minnie Greeff (plaaslike talent) gelewer, voordat die kantate-uitvoering, "'n Jubelende danksegging" deur die Dutoitspan-kerkkoor onder leiding van die baie bekwame mev. Van der Westhuizen gevolg het.

Geen moeite is ontsien om 'n program uit die boonste rakke saam te stel nie.

Ds. C Theron (1953 - 1957) 
Die pragtige en baie suksesvolle aand is in die kerksaal afgesluit met heerlike verversings en saamkuier.

Prof. dr. Jac J Muller het die volgende oggend die Nagmaalsdiens gelei en met 'n dankdiens die aand afgesluit.

Met al hierdie verrigtinge het die orreliste en haar koor, sowel as die gemeentesusters en ds. Theron, 'n leidende rol gespeel.

Dinge is sommer op groot skaal in die gemeente aangepak!

Pas twee maande na die inwyding van die herboude orrel, is die firma Joubert, Owens en Van Niekerk (argitekte) geraadpleeg i.v.m. die herbou van die kerkgebou. In hulle verslag beveel hulle aan dat die houtvensters deur staalvensters vervang word, die ou pleisterwerk buite afgekap word en met Tiroolse pleister afgewerk word, dat die toring 30 voet hoër gemaak moet word, terwyl die sy- en vooruitgange heeltemal verander moet word. Aan die binnekant moes al die mure nuut uitgepleister en tot vensterhoogte met Mahonie-paneelwerk afgerond moet word. Ook om die preekstoel moes paneelwerk aangebring word.

(Word vervolg)