Frank Orton was 'n aktiewe gemeentelid en hy en sy vrou, Mary, het skouer aan skouer in die gemeente gewerk. Hy was o.a. hoofdiaken en ook 'n raakvatter as dit by vleiswerk kom. Voor elke basaar het hy en sy vrou saam met die ander getroue "vleiswerkers" aand na aand in die kombuis van die saal gestaan en vleis bewerk. Braaitjoppies, sosaties en wors is vroeë jare deur gemeentelede gemaak. Beeste, skape of varke is vir die kerk geskenk. Dit is reeds vroeg in die jaar op die basaarlys geplaas wat die diakens deur hulle wyke neem. So heel vroeg al kon die kerkraad sien watter "tafels" kreun onder die bydraes en watter vra om daadwerklike hulp!!
Teen die tyd dat dit basaardag is, het die vleiswerkers 'n hele klomp ure agter die blad, maar ook heerlik gekuier in dié kombuis - staaltjies van en grappies oor slag, hoe dinge in die "ou dae" gedoen is, is vertel en resepte en rate is opgediep, afgestof en uitgeruil.
Die "vleiswerkers" was ook sommer die braaiers en met die basaar is daardie vure sommer baie baie vroeg aangesteek, sodat daar reeds braaivleis beskikbaar was na die amptelike opening van die basaar.
Dutoitspan was bekend vir sy heerlike vleistafel (spesiale sosatiesous- en worsresepte was deel van die geheim) en Kimberliete het 'n vinnige draai by die basaar kom maak, net vir die vleis...
Daardie jare het elke gemeente sy basaardatum so gekies dat dit nie bots met ander kerke se basare nie - deesdae is dit nie meer moontlik nie... Kimberley het uitgebrei en vleis word nie meer deesdae op dieselfde manier voorberei nie!!