Sunday 22 April 2018

Inspirasie: Daar is mense wat 'n verskil maak...

MOKOPANE – Steyn (29) ‘n ware inspirasie vir vele

Hoeveel mense sien kans om 1 000 km met ‘n prostetiese been en ‘n sleepwaentjie van ongeveer 130 kg aan te pak? Slegs die 29-jarige Paul Steyn.

Steyn is die stigter van die Paul Steyn Stigting wat al meer as tien mense in nood gehelp het met die befondsing van prosteses. Hy het al talle projekte en duisende kilometers aangedurf om fondse vir dié doel in te samel en so ook blootstelling te skep.

Steyn het in Augustus sy 7 000 km staptog in die Kaap afgeskop en vandaar het hy al menigte provinsies besoek, waarvan hy verlede Donderdag die leerders van Hoërskool Piet Potgieter se aandag behoorlik geboei het. Hy het al 4 050 km afgelê en beoog om op 22 Oktober die staptog weer in die Kaap te eindig.

Op die jong ouderdom van 13 het Steyn op 7 Februarie 2000 ‘n dag voor die interskole, sy been in ‘n fratsongeluk verloor. “Ek was vir ses maande in die hospitaal waar ek by die dood omgedraai het en daarna is ek weens omstandighede kinderhuis toe gestuur.

Eers drie jaar na die ongeluk het ek my eerste prostese gekry en daar het God dit op my hart gedruk dat ek ander behoeftige mense wat in ‘n soortgelyke situasies is moet help,” vertel Steyn.

Hy vertel God lei hom elke dag en dat hy al ongelooflike mense op sy reis ontmoet het. Steyn sê: “Moet nooit tou opgooi nie, oorwin jou onsekerhede en weet dat saam met God alles moontlik is.”

Hy het nog groot planne vir die toekoms en sê ‘n boek of ‘n film is moontlik in die pyplyn. Indien die gemeenskap ‘n bydrae tot die ongelooflike projek wil maak, kan hul die woord ‘Walk’ teen R10 na 38021 SMS.

Steyn nooi die gemeenskap uit om sy webtuiste www.paulsteynfoundation.org.za te besoek en só op hoogte van al sy avonture te bly.

(Uit: Mokopane/Bosveld Review)