Sunday, 24 September 2017

Gemeentegeskiedenis: Dutoitspan se uitreik oor gemeentegrense heen...

Dutoitspan was nog altyd 'n uitreik-gemeente. Gaan kyk 'n mens na sy ontstaanwortels, is dit duidelik dat die gemeente begin het a.g.v. die groot groep delwers wat hier gewerk het. (In De Kerkbode van 24 Februarie 1872 is daar geskryf dat 'n komitee gekies is om die belange van die kerk daar te behartig.)

'n Kerktent is opgerig en die geld wat tydens dankoffer ingesamel is, is onder andere gebruik om die brandstofonkostes van die besoekende leraars te dek en die res het vir die behoeftiges en die noodlydendes in die gemeente gegaan.

Hierdie delwers was soos hulle produk - ru en ongeslyp en daarom moes dié kerk nog altyd uitreik, voete was en dienaar wees.

"As ek aan die gemeentesusters dink wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, dink ek aan 'n ywerige en hardwerkende groep vrouens. Hulle het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale. Al die fondse wat hulle op hierdie manier ingesamel het, het hulle vir sendingwerk aangewend.
DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)

Die Mannesendingbond (MSB) het nie agterweë gebly nie. Hierdie groep manne was verantwoordelik vir die salarisse van Evangelis Sello en Evangelis Selepi van Galeshewe, asook ds. Sukdaven van die Dutch Reformed Church. Aanvanklik het hulle ds. Sukdaven finansieel bygestaan om hom as leraar te bekwaam. Hierdie predikers het dan ook op 'n gereelde basis aan die sendingaksies verslag gedoen oor hulle werksaamhede.

Ds. Sukdaven het elke Donderdag/Vrydag samoesas afgelewer by almal wat bestel het. Dit was deel van hulle fondsinsamelingsprojek. Die VSB van Dutoitspan was betrokke by o.a. die basare en van die Dutoitspanners het gereeld van die eredienste bygewoon, wat op daardie stadium in ds. Sukdaven se garage gehou is. (Dis waar hierdie gemeente sy beskeie begin gehad het.)

Ons het ook die voorreg gehad om die doopplegtigheid van een van ds. Sukdaven se kinders by te woon. Na die doopplegtigheid het ons aangesit aan 'n pragtig gedekte tafel aan huis. (Ek het al dikwels gewonder of dit die bekende Maniraj Sukdaven, die dosent by die universiteit, is.) Mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz en Jane Pienaar was nou betrokke by vele geldinsamelingsprojekte en werksaamhede hier.

Ds. Dawie Pypers was 'n ou bekende en gereelde prediker in Dutoitspan-gemeente. Hy het ook die gemeente ingelig gehou van die werk onder die Indiërs. Nie almal was gediend met dié aksies nie en daar was gemeentelede wat sou uitstap. Ds. Dawie Pypers is deur die NGK aangewys om onder die Moslems te werk. Hy het werklik oor uitsonderlike pastorale vermoëns beskik. In die vroeë 1968 is die RCA-gemeente in Kimberley begin.

Mnr. en mev Ross (kosterspaar)  
Mev. Ethel Ross (o.a.koster van die gemeente) was 'n sendeling in murg en been. Sy was een van die Kinderkransleidster wat die langste betrokke was by die Kinderkrans. Sy was die leidster by die tak wat by die gemeentesaal gehou is. Daar was nog twee ander Kinderkranstakke in die gemeente (buitewyke) - een in Electrapark o.l.v. mev. Soes Uys en een in Cassandra o.l.v. mev. Di Westley. Afstand was 'n faktor en hierdie takke het af en toe met spesiale geleenthede saam vergader. Sentleggings was op daardie tydstip 'n gewilde manier om geld in te samel wat dan vir Sendingwerk aangewend is.

Mev. Ethel Ross het ook begin om garagedienste, een maal per week, vir al die inslaapwerkers aan te bied. (So in die laat 1960's) Hierdie bidure en Bybelstudies is afwisselend by die pastorie in Connollyplek en mev. Judith Swart se huis in Blackingstraat gehou. Hierdie projek het sy vir baie baie jare alleen bedryf en met haar dood, het hierdie projek ook 'n stille dood gesterf.

Vanaf 1969 tot 1973 het mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz, Jane Pienaar, Ethel Ross, Smittie van der Westhuizen en M Rhoodie na die koorkompetisies in Galeshewe gaan luister - selfs op 'n Vrydagaand... Dit was soveel vrouens as wat mev. Siebert in haar grys Peugot Stasiewa kon laai... Dit het plaasgevind in die gemeentes waar die evangeliste gearbei het, wat deur die MSB betaal is.

Ek kan my herinner dat daar geleenthede was dat susters van die nou NGKSA saam met die vrouens van die VSB op 'n Woensdagoggend saam tee gedrink het. Hierdie interkerklike uitreik het op 'n nie-gereelde basis plaasgevind in ds. Johnny Siebert (September 1968 - Desember 1973) se tyd.

In hierdie tyd het ouderling AJ van der Merwe se dogter, Daleen, geroepe gevoel om sendingwerk te gaan doen en daar is tydens 'n baie spesiale erediens ook 'n Bybel aan haar oorhandig, voordat sy vertrek het. Sy is met 'n predikant getroud.

In dominee Hennie de Wet ( Oktober 1974 tot April 1984) se tyd, is die sendingpaar in die destydse Transkei, ds. en mev. Van Schalkwyk, finansieel ondersteun in soverre dit in die VSB se vermoë was.
DIE BESTUUR VAN DIE VROUESENDINGBOND
Voor: Mevv. C Gericke, M Rhoodie, J Pienaar (sekretaresse), F Siebert 
(president), M Joubert (visepresident), J Fraser (tesourier), A Harmse.
Agter: Mevv. E Ross, A van der Westhuizen, D Westley, A Ebing, 

M le Roux, M van Vuuren, A Laten en D Coetzer.

Uitreik na kinderhuise, die ouetehuis en die huis vir volwasse gestremdes, binne die grense van die gemeente, was normaal.

'n Gemeente wat nie uitreik nie, is soos die Dooie See...

[http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/01/die-mooiste-taal-van-afrika/]