Tuesday 5 April 2022

A TREE IS A SEED THAT TOOK A STAND.


Op 'n dag hou ek bo-op 'n berg stil in een van die plantasies by Tzaneen. Ek staan en kyk oor die omgewing (die Laeveld) en is seker ek kan tot by Phalaborwa sien. Ek hoor 'n voertuig  aankom en dit ry tot by my. 'n Voertuig van Merensky Bosbou. Die vuurtoring het rapporteer dat hulle 'n voertuig sien stilhou het in die plantasie. EK. Die bosbouer het kom kyk wat aangaan. 

Ons kyk saam na die omgewing.  Pragtig. 
Hannes, die bestuurder, vra my toe "WAT IS 'N BOOM"?
'n Boom? Wat 'n vraag. Ek dink 'n bietjie en besef hy wil vir my iets sê. En ek vra hy moet my vertel ...

A TREE IS A SEED THAT TOOK A STAND. 

Daar gaan klomp sade tot niet. 
Party lê en het op klip geval - ontkiem maar verdroog. 
Ander versuip. 
Ander lê bo-op die grond, ontkiem maar verdroog . 
Ander groei maar brand dood. 
Klomp redes waarom dit nie tot volwassenheid ontwikkel nie.  
Maar, teen die tyd wat dit boom geword het is dit 'n boom met 'getuienisse'. 'n Saad wat 'n klomp aanslae oorleef het.

My vriend/vriendin, as jy "boom" geword het, 50 verby, dan het ek baie respek vir jou. Dan beteken dit - "A tree that took a stand". 
Maar, dan vertel dit ook van genade en dat jy gespaar is sodat jy koelte kan gee, takke het waarop voëls kan sit en nesmaak, vrugte kan dra vir almal wat daarvan kan eet, hout het wat gebruik kan word, en 'n karakter het wat eie is aan jou. Pragtig gevorm en uniek. 
Jy was gevorm om 'n doel te dien. 

Jy is 'n uitverkose saad wat boom geword het. Jy het vrug, koelte, ens. vir ander. Ek dank God dat ek vanoggend vir jou kan sê dat jy spesiaal gespaar was tot nou. 

Vader, ek bid vanoggend vir elke "boom wat staan". Dat U vanoggend vir elkeen sy of haar waarde sal wys en dat hulle ook dit sal uitleef.

Dankie Vader dat ons tot hier gevorder het. Dat ons vrug het vir ander om te eet. 

Ons loof U groot en Heilige Naam.

[Dankie, ds. Brahm Reyneke, dat jy hierdie met ons deel.]