Wednesday, 6 August 2025

Psalm 23 soos deur Lina Spies verwoord

1. Die Here is my herder en bewaarder:
ek kom niks kort nie; daar is niks wat my ontbreek.
In groene weiveld en by stille water
laat Hy my uitrus in ‘n bar en dorre streek.
Die steiltes ken Hy en die skerpste draaie:
Hy rig my altyd op die regte paaie.

2. Nie een sal U ooit van u skaap berowe:
U is by my in diep en donker klowe.
Wanneer ek afdwaal, haak u staf my nader
en met u stok verdryf U die gevare.
By U is ek beveilig en geborge:
Bevry is ek van vrese en van sorge.

3. U dek in my teenwoordigheid ‘n tafel:
My vyande kyk toe en staan verslae!
U vul my beker, voed my en verheug my;
u goedheid volg my al my lewensdae.
Ek ken u liefde en u gunsbetoning
en bly ‘n leeftyd, Here, in u woning.

[Geleen by Bybelskool klik HIER