Friday 5 July 2024

Terugblik: Die beginjare van Ons Huis - die tehuis vir bejaardes

Die eerste gebou wat as ouetehuis
(Ons Huis) gebruik is. Hierdie gebou was
regoor die kerk waar die meenthuise tans is.
Voor dit as ouetehuis gebruik is, was dit
'n losieshuis. 
Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

Nieteenstaande groot probleme waarvan finansies die vernaamste was, kon daar in 1943 oorgegaan word tot die ingebruikneming van 'n gebou wat sou dien as 'n tehuis vir bejaardes. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Rosestraat en Dyerplek en het die mooi naam van "Ons Huis" gekry.

'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra.

Ons bring hulde aan die vroue wie se name hieronder verskyn. Hulle was die presidentes van die tak, van stigting tot en met 1972. Hulle is: mevv. M Powell, H van Reenen, LA Hough, F Rousseau, D de Waal, E Hugo en J Badenhorst.

In 1957 kon die bejaardes vanuit die ou gebou geneem word na 'n nuwe een, nl. die bestaande "Ons Huis" in Ariadnelaan. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene. Daar was tóé 30 inwoners, maar die waglys het steeds gegroei, sodat daar vroeg in die sestigerjare alweer vertoë gerig moes word om verdere uitbreidings. Só dringend was die behoefte dat dit selfs deur die betrokke staatsdepartemente onderskryf is en in 1966 is die uitbreidings voltooi, sodat daar 48 inwoners gehuisves kon word.

Uitbreidings vir 'n aparte vleuel vir verswakte bejaardes, is goedgekeur. Hier word inwoners op 'n doeltreffende wyse versorg.

Langs hierdie weg bring die bestuur van "Ons Huis" innige dank en waardering aan die verskillende NG Gemeentes in Kimberley en ander donateurs in die stad deur wie se finansiële steun die tehuis se laste ligter gemaak word.

(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

Klik HIER om die storie oor matrone Joey Serfontein se resepteboek te lees. Resepte wat in die kombuis van die ouetehuis gemaak is in haar eie handskrif. Klik HIER om die koeksisterresep in haar eie handskrif te lees. Die kunsbotter waarna daar in die resep verwys word, is margarine

Die ouetehuis het ook op daardie stadium 'n hond gehad met die naam van Robbie. Robbie is tot in die afgrond bederf deur die inwoners en het homself nie as 'n hond beskou nie. ('n Foto van Robbie op Ons Huis se blog.)
 
Klik HIER vir foto's van matrone Johanna (Joey) Serfontein, een van die eerste matrones van Ons Huis! Daar is 'n foto waar sy met ruikers blomme in die eerste tehuis vir bejaardes staan, dié een op die hoek van Rosestraat en Dyerplek. Die datum agterop die foto is 18 Desember 1947.