Wednesday 24 July 2024

Mossiestilte: Daniël 12:10

Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandige sal verstaan.

1 Kor. 2:14 - Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. + 16b Maar ons het die sin van Christus. Daniël het dus lankal geprofeteer oor hierdie woord. Neem die woord van God ernstig op en maak seker jy is verstandig in Christus. (sien 1 Kor. 4:10) God sal jou toerus vandag om verstandig te wees deur die Heilige Gees in jou.

Dankie Here, dat ek kan sien dat ek U nodig het. Sonder u Heilige Gees is ek onverstandig, want niemand weet wat in God is nie, behalwe die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. (1 Kor. 2:10). Maar met die Gees beoordeel ek wel alle dinge, maar word self deur niemand beoordeel nie (1 Kor. 2:15). Ek is duur gekoop en sal God deur my liggaam verheerlik en in my gees wat aan God behoort (1Kor. 6:20). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]