'n Wyse bejaarde lidmaat se antwoord som dalk die probleem op: "Dominee, ons mense het die vrees vir die Here verloor. Daarom is al die Afrikaanse kerke besig om agteruit te boer."
Hoe sal 'n mens hierdie antwoord kan meet as dit moontlik sou wees? Een moontlike manier om dit waar te neem is om te kyk na die gebrek aan eerbied en fatsoenlikheid wat onder die kerkgangers toegeneem het. So ook die algemene sedelike norme wat so kenmerkend van ons voorgeslagte was.
Respek en integriteit is deesdae skaars kommoditeite, selfs onder Christene. Dit is só jammer en strek die Here nie tot eer nie.
Psalm 95
1 Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind,
2 laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
3 want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4 Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5 Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6 Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
7 Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.
As julle vandag maar na Hom wou luister:
8 “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa in die woestyn nie,
9 waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.
10 Veertig jaar lank het Ek 'n weersin in daardie geslag gehad,
Ek het gesê: ‘Hulle is 'n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11 Daarom het Ek in my toorn 'n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”