As sewentienjarige seun het hy aan die Anglo-Boere-oorlog deelgeneem en in 1900 gewond, gevange geneem en na St. Helena. gestuur alwaar hy besluit het om predikant te word.
Hy is in 1910 gelegitimeer as leraar van Salisbury.
In 1916 het hy ‘n beroep na Dutoitspan aanvaar en na twee jaar een na Tarkastad. Ds. Kotzé het van 21 April 1916 - 16 November 1918 in die gemeente gearbei.
In 1921 is hy na Heidelberg (Kaap) waar hy werksaam was totdat hy in 1929 ‘n beroep na Rietfontein aangeneem het. Eindelik is hy in 1934 na die gemeente Bloemfontein waar hy werksaam was tot 1947, toe hy sy emeritaat aanvaar het.
As lid van talle kerklike kommissies en as Vrystaatse medewerker van Die Kerkbode het hy ‘n belangrike rol in die kerklike lewe van Suid-Afrika gespeel. Tereg is hy beskrywe as “die man met die profetiese blik, die helder stem en die suiwer stempel, die man van koers en vaste rigting, die man van staal met die teer gemoed en ware priesterhart.”
Hierdie stoere kerkleier is op Kersmôre 1950 oorlede.
[Bron: HIER]