'n PSALM.
By die lofoffer.
Juig voor die Here, o ganse aarde!
Dien die Here met blydskap;
kom voor sy aangesig met gejubel.
Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak, en ons is syne,
sy volk en die skape van sy weide.
Gaan sy poorte in met lof,
sy voorhowe met lofgesang;
loof Hom, prys sy Naam.
Want die Here is goed;
sy goedertierenheid is tot in ewigheid,
en sy trou van geslag tot geslag.
