Tuesday, 2 June 2026

'n Gesin is 'n gemeente in die kleine

Wat is die Here se doel met die huisgesin? 

Hoekom het Hy oorspronklik die huwelik ingestel? En hoekom sê Hy so pertinent in Deuternomium 6 dat die huislike lewe godsdienstig moet wees; dat die ouers sy woorde in hulle hart én op hulle hand moet dra, sodat almal dit kan sien; en dat hulle soggens en saans dit by hulle kinders moet inskerp.

God ag die gesonde gesinslewe só belangrik dat Hy dit in die Tien Gebooie opneem, en dit nogal as die eerste gebod van die tweede tafel. En daarby met 'n uitdruklike belofte: "Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee."

In Efesiërs 6 bevestig Paulus: Kinders, wat hulle ouers eer, met hulle gaan dit goed.

Daarby word die ouers gevra: "Ouers, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here wil."

Dikwels hoor 'n mens ouers sê dat hulle swaar groot geword het en dat hulle dit vir hulle kinders makliker wil maak. 
* Daarom werk hulle hard - 
* hulle werk oortyd,
* hulle werk tot Sondae toe. 

Hulle gee vir hulle kinders feitlik alles in oorvloed - maar dan kry hulle dikwels die ellende dat daardie kinders nie kan waardeer wat hulle kry nie.

Dit is natuurlik niks nuuts dat kinders opstandig is nie. Die eerste ouerpaar in die wêreld se kinders was opstandig: Kaïn teen Abel. Hierdie opstandigheid was maar net 'n voortvloeisel van die ouers se eie opstandigheid teen God.

As daar van gesinsprobleme gepraat word, word daar gepraat van dinge wat so oud is as die mensdom self.

Daarom staan die gebod so pertinent eerste op die tweede tafel: omdat ellende deur gesinskrisisse die wêreld binnegekom het en verder vergroot het. Dit is ook daarom dat hierdie gebod uitgelig word met beloftes, dat as ons dit reg uitleef, as kinders en as ouers, dat die Here sy seën sal gebied.

Stabiele gemeenskap

Saam met die gebod van eerbied vir jou ouers, gaan gepaard 'n erkenning van die waarde van die gesag wat oor jou gestel is. As kinders geleer het om owerhede te eerbiedig, en daarin hulle sekuriteit te kry, bevorder hulle 'n stabiele gemeenskap in die samelewing en hulle verkry 'n bestendige owerheid wat met 'n vaste hand regeer.

Die ouer-kind-verhouding is baie belangrik, maar dit vloei voort uit die heel belangrikste aardse verhouding - dié tussen man en vrou. Die huwelik is die kleinste sel in die samelewing en van hieruit groei die ander verhoudinge,

Agter die huwelik en agter die gesin, staan God self as ons hemelse Vader.

Hy weet wat vir sy kinders die beste is, daarom gee Hy hierdie gebod. Daarom moet ouers so leef dat kinders hulle kan eer; en kinders moet so leef dat 'n volgende geslag gelowiges gebou kan word.

Ouer en kind is deur God sy eiendom gemaak. Hulle is saam betrokke in 'n nuwe gemeenskap. Waar ouers en kinders ook al bymekaar kom - soggens, saans, op pad of tydens vakansie - waar hulle saam Bybel lees en bid - daar is die gesin 'n gemeente in die kleine: 'n huisgemeente.

En meer as dit: die gesin is 'n klein heelal. Gesinslede gee 'n geluk aan mekaar wat andersins net nooit moontlik sou wees nie.

Daarom, al ken ons mekaar, al ken ons mekaar se swakhede en probleme, moet dit ons nie daarvan weerhou om saam die Here se aangesig te soek nie. Inteendeel: juis omdat ons bewus is van ons tekortkominge en afvalligheid, moet ons saam die Here se hulp vra vir dié huiskring waarin Hy ons geplaas het.

As kinders agterkom dat ouers met God praat, dan is die saak halfpad gewonne.

Dan sal ouers weet dat kinders hulle gesag makliker aanvaar, want kinders sal weet: God regeer ons deur ons ouers.

Wanneer 'n mens jou plek in die huisgesin vind: pa, ma, broer, suster, ouer kinders, jonger kinders, dan leer ken huisgenote ook hulle plek daar buite in ander samelewingsverbande.

'n Kind wat tuis is in sy ouerhuis, leer om tuis te wees ook in die samelewing waarin God hom geplaas het. Hy leer om eendag sy eie huis ook in te rig volgens hierdie reël en volgens die eise wat dán op hom wag. Want: hy het geleer om iemand lief te hê wat vir hom lief is; om agting te hê vir 'n ander mens; om tegemoetkomend te wees teenoor die swakkere; om hom te handhaaf teen 'n veeleisende.

Miskien is daar mense wat bedenkinge het, wat sê: my vader en moeder is nou nie juis so dat ek hulle kán eer nie. Dan geld hierdie Bybelwoord nóg. Daar is geen uitsondering nie. Eer jou vader en jou moeder.

Dié dubbele feit staan soos 'n paal bo water: jy sou sélf nie daar gewees het as jou ouers nie daar was nie; én: as God dit nie gewil het dat jy sal leef - en sou leef as kind van daardie spesifieke twee mense nie. Wie ook al jou ouers mag wees: God verwag dat jy hulle sal eer - dat jy hulle sal ag as mense deur Hóm oor jou gestel.

Dit is so dat kinders nie hulle eie ouers gekies het nie. Maar dit is ook so dat ouers nie hulle kinders kon kies nie. God in sy vrymag en almag het ons bymekaar gebring. Daarom moet 'n goeie verhouding tussen ouers en kinders ontwikkel en ontgin word. 

Wanneer ons die beste vir mekaar soek, sal ons ervaar dat ons iets prakties doen om mekaar se lewens te verryk. Want wat help dit om buite hoë ideale na te jaag, maar jy was nie in staat om in jou eie huis 'n sukses te maak van dit wat jy moes gedoen het nie.
 
Wanneer 'n mens aan die Here gehoorsaam is, raak die lewe vir jou vol, én ook betekenisvol.

Wanneer 'n mens die lewe leer ken het as betekenisvol, dan wil jy die goeie vevorder in elke lewensverband. Dan sal daar nie besware wees dat ons in onchristelike strukture lewe nie.

Dan sal ek ook die moed van my oortuiging hê om vir andere te vra: Soek jý eers die koninkryk van God en sy geregtigheid - of soek jy eie-belang, al is dit langs die weg van ongeregtigheid?

Met mense wat die goeie wil, sal ons hande vat. Vir die ander sal ons bid.

[Dr. Attie van der Colf - Spore]