En God het gesê laat daar lig wees! En daar was lig.
Joh. 1:9-10
Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Joh. 8:12
En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.
Joh. 3:19-21
En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.
Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
Here, en Almagtige Vader, dankie vir u lig, wat die duisternis van die aarde wegneem. U lig is in my en lei my en leer my om die duisternis te oorwin. Die duisternis vlug vir u lig, wat my vrymaak van vrees en sonde. My sonde het aan die lig gekom en U het my bevry, sodat ek my werke in God kan doen. Ek prys U grote Naam. Amen.
[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]
